As daar een ding is wat my gemoed onmiddellik ’n hupstoot gee, is dit gedagtes wat van dankbaarheid oorloop.
Paulus het nie om dowe neute só aan die gelowiges in Tessalonika geskryf nie: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (1 Tess 5:18).
Bestel LiG Getuig hier!
Sou dié apostel ook die wonderlike bemoediging geken het wat dankbaarheid meebring? Sou hy geweet het dat dankbaarheid goedvoel-hormone afskei wat tot gevolg het dat jy makliker kan vastrap
wanneer die lewe se kronkelpad voor jou uitstrek? En dat dankbaarheid ’n venster oopmaak sodat ons nóg beter kan sien wat God hier tussen ons gewone mense aan ’t doen is?
Miskien sou hy intuïtief geweet het dat dankbaarheid, soos dit met die meeste van God se fyn beplande beginsels die geval is, ’n mens se lewe op vele vlakke verryk en versier.
In dié spesiale uitgawe van LiG loop ’n goue draad deur elke mens se storie wat hier vertel word – dankbaarheid. Elkeen getuig van ’n geloof wat gelouter is tot ’n suiwerheid wat slegs deur swaarkry se smeltkroes vermag kan word. En dan kyk hulle, vol dankbaarheid, na dit wat hulle uit God se hand ontvang het.
Dit alles inspireer my om opnuut dankbaar te wees vir alles wat ek van Hom ontvang. En, bo alles, om dankbaar te besef dat God altyd teenwoordig is, dat Hy sy kinders vashou met die hande van ’n Vader wie se liefde en genade nooit verflou nie.
Ons kan altyd op Hom hoop en altyd ons verwagting in Hom stel. Hy sal ons nie verlaat nie, Hy sal ons nooit in die steek laat nie.
Mag die kosbare stories wat in hierdie spesiale uitgawe vertel word dié waarheid in jou hart laat blom.
Francine Prins is redakteur van die gedrukte LiG.