Wat kan jy in die nuwe jaar doen om een van jou gunstelingbelangstellings te ontwikkel, jou ‘goed voel’-hormone ’n gereelde hupstoot te gee én te ervaar dat jy iewers hoort? Sluit aan by ’n klub. Of bring een op die been.
Ons almal het minstens een belangstelling wat ons oë laat blink. Onthou jy nog wat joune is? Ruim jy tyd in om dié vreugdevuurtjie gereeld aan te blaas, boonop dalk in die geselskap van mede-geesdriftiges?
Geluksalige gevoelens
Klubs of gereelde informele byeenkomste waarin ’n bepaalde belangstelling gekoester word, snoer mense saam. En sodra jy jou plek in so ’n groep gevind het, kan jy ekstra dosisse van die sielsalige bindingshormoon oksitosien verwag.
Vir baie lede word hul groep boonop ’n soort vangnet wat wyer as amptelike byeenkomste strek.
LEES OOK: Kom ons praat oor die liefde
Omdat jy jou tot gereelde deelname verbind, is jy minder geneig om werk-, gesin- of ander eise bo so ’n groepbyeenkoms te stel. Jy brei jou belangstelling stelselmatig uit en slyp voortdurend aan jou vaardighede. Só skep jy nuwe neurologiese bane wat breingesondheid bevorder.
Van die brein gepraat: Wanneer ons by aktiwiteite betrokke is waarvan ons hou, of dit regkry om ’n taak te bemeester, beloon die hormoon dopamien ons met geluksalige gevoelens.
Aktiwiteite wat die adrenalien laat pomp – soos wanneer jy ’n risiko loop, of fisieke of omgewingstimulasie ervaar, of iets nuuts beleef – lei ook tot verhoogde dopamienvrystelling.
Ander voordele
’n Groot voordeel van sulke klubs of groepe is dat jy nuwe mense ontmoet. Nie almal weet waar om natuurlik en spontaan vriende te maak nie.
’n Klub kan groot of klein wees, uniek of deel van ’n landwye groep. Informele groepe noem hulleself dalk nie “klubs” nie, maar stem in talle opsigte met klubs ooreen. Daar mag ’n fooi betrokke wees.
Dis gewoonlik iemand met ondernemingsgees wat ’n groep aan die gang kry. Indien ’n sekere soort klub nie in jou omgewing bestaan nie, kan jý die inisiatief neem. Onderneem gerus ’n internetsoektog oor hoe om ’n klub op die been te bring, hoe om lede te werf, hoe om fooie vas te stel, en so meer.
Om ’n tafel
“’n Vriendin wat in die restaurantbedryf betrokke was, het ons ‘kosklub’ begin,” vertel Erika Meeding van Pretoria. “Aanvanklik was dit nie ’n formele reëling nie; sy het dit bloot geniet om die een keurige gang ná die ander te bedien, en nie omgegee of iemand haar terugnooi nie. Dié etes het haar vriende saamgesnoer.
“Ons het mekaar begin oornooi, en ook saam gaan uiteet. Toe ons vriendin en haar man verhuis, het ons voortgegaan om mekaar te onthaal. Die gashere en -vroue het soveel moeite gedoen!
“Mettertyd het ons besluit om dit vir almal makliker te maak: Jy nooi die groep en berei iets besonders voor, en elkeen bring ’n spesiale gereg saam. Die etes is dus steeds uit die boonste rakke, maar almal dra by.
“Jy het ’n ‘aanstigter’ nodig om so ’n groep te vorm. Die gemeenskaplike belangstelling is die gom wat almal saambind.”
Kosklub-planne
- Wanneer die betrokkenes baie besig raak, kan die byeenkomste minder dikwels plaasvind, en/of twee lede kan saamspan om ’n maaltyd aan te bied.
- Moontlike temas sluit in: kos uit ander lande; kos van slegs een kleur; ’n ete waar al die geregte met die eerste letter van die gasvrou se naam begin. Of ’n Girl Scouts-aand, waar almal gepas aantrek en die geregte op ’n oop vuur voorberei word.
- ’n Verjaardag-stokvelklub kom saam by elkeen wat verjaar en daar word ’n teepartytjie gehou. En die een wie se verjaardag dit is, ontvang R100 van elke ander lid.
In die buitelug
Buitelugliefhebbers kan uit, onder meer, stap-, bergklim-, hengel- en karavaanklubs kies. Asook ’n hele klomp sportklubs.
Pierre Reyneke van Pretoria is ’n bergfietsryer en deel van ’n groep adrenalienverslaafdes wat hulle op downhill– en veral enduro-bergfietsry toespits. Die deelnemers is hoofsaaklik mans, maar daar is ook ’n klompie jong vroue, wat, volgens Pierre, “nie omgee om ’n keer of wat ’n been te breek voor hulle ophou val nie”.
Met downhill-bergfietskompetisies probeer die ryers vasstel wie in die kortste tyd bergaf kan jaag. Deelnemers kry vooraf ’n dag of twee om op die roete te oefen.
Met enduro-bergfietskompetisies jaag deelnemers op een dag by ses roetes bergaf. Pierre verduidelik: “Dit kombineer die adrenalienryke naelritte met sosiale verkeer. Nadat almal die eerste lyn genavigeer het, kom ons bymekaar, bespreek ons onderskeie ervarings en trap dan rustig bergop.
“Dié proses word dan herhaal. Daar is vooraf oefenkans op die terrein, maar ses roetes laat jou relatief min tyd vir verkenning. Eintlik jaag jy ‘blind’. Dit verg vaardigheid en kreatiwiteit.
“Die fietse beskik oor voor- én agter-suspensie, en is ongelukkig redelik duur – maar dis fantasties om op ’n fiets deur die lug te trek!”
Handwerk
Michel Hughs van Haenertsburg se gemeenskapsgroep Coffee, Cakes & Crafts vergader een keer per maand in die dorpsaal.
“Elkeen bring hul huidige projek – hekel, brei, verf, mosaïek, ensovoorts – en ons kuier terwyl ons skep. Soms bied een van die deelnemers ’n kursus aan, byvoorbeeld hoe om ou meubels te verf. En daar is altyd vrywilligers wat bereid is om koek te verskaf!
“Elkeen betaal ’n minimale bedrag vir die gebruik van die saal en vir die kragverbruik. Ons geniet die kreatiwiteit en geselskap én om deel te voel van ’n hegte gemeenskap.”
’n Liefde vir woorde
Om die digkuns, soos Kobus Burger van Johannesburg dit stel, “informeel en meer toeganklik” te maak, het hy met die Wild With Words-konsep vorendag gekom. “Baie mense het op skool ’n renons in gedigte ontwikkel omdat dit met moeite ontleed moes word,” sê hy. “Maar om gedigte te lees én te skryf kan plesierig wees!”
Kobus se Wild With Words-byeenkomste, wat deesdae aanlyn aangebied word, bestaan uit twee elemente: “Eerstens ontvang ons: Elkeen bring ’n Afrikaanse of Engelse gedig saam en lees dit voor. Tweedens reageer ons: Ek lees ’n gedig met ’n beginreël soos ‘That day I went …’ – en in reaksie daarop skryf elkeen hul gedagtes neer. Die neer-skryf duur so 15 minute lank. Dié wat wil, kan daarna voorlees wat hulle geskryf het.
“Elkeen kry vooraf ’n toestemmingsbriefie om ‘mal’ te wees, vry te wees en foute te maak. Dis ’n veilige ruimte, waar ons met woorde speel. Selfs mense wat aanvanklik gesê het hulle kan nie skryf nie, staan later verstom oor wat uit hul pen vloei.”
- Belangstellendes kan Kobus e-pos by kburger@afrihost.co.za.
Boekklubs is besonder gewild. Lidalize Grobler van Pretoria noem twee moontlikhede: “Ek was deel van ’n klub waar elke lid haar vyf gunstelingboeke aan die gemeenskaplike boekboks geskenk het. Tydens ons byeenkomste het elkeen vir die gasvrou ’n geldjie gegee waarmee sy, onder meer, ’n boek kon koop wat sy ver-kies. Dié het ook in die boekboks beland.
“In plaas daarvan dat almal dieselfde boek bespreek, het elkeen gepraat oor die boek wat sy die afgelope maand gelees het.
“Dan is daar die sogenaamde silent book clubs, waar mense bymekaarkom om die boeke wat hulle saamgebring het in stille kameraadskap te lees. Hulle vergader by, byvoorbeeld, ’n boekwinkel of in ’n restaurant. En ná die byeenkoms kuier hulle oor ’n koppie koffie of ’n ete.”
- Google gerus “silent book club.”
Kuier en leer
Die maandelikse kuier-en-leergeleenthede wat Cynthia van der Mescht drie jaar lank in Pretoria aangebied het, het aanvanklik slegs vriende gelok, maar later onbeken-des van alle ouderdomme.
Cynthia vertel: “Ek het met dié inisiatief begin omdat ek soveel talentvolle vriende het wat musiek of kos of kuns maak. Die Matinee Mix & Masterclass-werkwinkels en musiekkonserte is eers by ons huis aangebied, maar mettertyd het ons na ’n restaurant verskuif.
“Ons het elke geleentheid via sosiale media en op ’n WhatsApp-groep bekendgestel en kaartjies verkoop. Daar was van kosdemonstrasies tot interessante werkwinkels, onder meer ’n klei-meditasie, pinhole-fotografie, en hoe om ink uit gedroogde plantmateriaal te maak.
“Dit was nogal ’n uitdaging om elke slag uit te werk wat die kaartjies moes kos om die onkoste te dek, die kenner te betaal en om ’n klein wins te maak, veral omdat ons nooit geweet het hoeveel mense sou bespreek nie. ’n Aanlyn radiostasie het elke keer musiek verskaf en ’n fotograaf het foto’s geneem.
“Dit was baie bevredigend en die deelnemers het dit werklik geniet.”
- Besoek Matinee Mix & Masterclass op Facebook vir inspirasie.
Belinda Leibowitz en haar kollegas by die Low Vision Care Centre in Johannesburg hou gereeld sosiale byeenkomste vir siggestremde professionele mense. “Die groeplede se ouderdom wissel tussen 29 en 93 jaar. Dis besonder inspire-rend om elkeen se reis te beleef, en te hoor hoe hulle uitdagings oorkom.
“Ons stel ook mense wat pas gediagnoseer is voor aan dié wat al geleer het hoe om met siggestremdheid saam te leef.
“Die groep kuier saam by my huis en ons hou dit informeel. Die ruimte is beperk, maar ’n kleiner aantal mense werk goed. Vele vriendskappe vorm sommer gou-gou!”
- Stuur gerus ’n e-pos na Info@lvcol.org
As jy hier bo niks oor jou belangstelling raakgelees het nie, besoek gerus www.meetup.com om aanlyn of van-aangesig-tot-aangesig-byeenkomste te vind.