DEUR CONETTE LE ROUX
“Die persoon wat by die hospitaal instap is nie dieselfde persoon wat daar uitstap nie.”
Elizna Vrey (36) praat uit ondervinding. Haar 3-jarige dogtertjie is op 30 April vanjaar met Akute miëloïede leukemie (AML) by die Life Bay View-hospitaal in Mosselbaai gediagnoseer.
Talle van die sowat 800* Suid-Afrikaanse ma’s wie se kinders vanjaar vir die eerste keer met kanker gediagnoseer is, sal waarskynlik met Elizna saamstem.
Klein Bea Louisa Vrey het reeds haar eerste chemoterapie op 4 Mei by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad ontvang.
Só het Elizna en Bea se tydelike huis dié kinderhospitaal geword.
“Die eerste maand was verskriklik moeilik. My gesin was in drie dele geskeur gewees. My man Ben en my oudste dogtertjie Eliana (5) was in Stilbaai. Snags was my skoonma by Bea, en ek by my baba Ezra. Bea was die eerste maand nog baie siek gewees. Haar port het ook infeksie veroorsaak en sy was in die hoësorgeenheid opgeneem.
“Ek is dankbaar vir my skoonma wat so mooi na Bea gekyk het as ek by my ander kinders is, maar dit het elke keer seergemaak om haar agter te laat in die hospitaal. Veral snags,” vertel Elizna.
Na Bea sowat vier maande se chemoterapie ontvang het is die Vrey-gesin tans weer terug in Stilbaai.
Jy verstaan gou waarom Elizna hulle lewe sedert Bea se diagnose as ’n “marathon met geen omdraaikans” beskryf. Ben gaan voort as boukontrakteur om die pot aan die kook te hou terwyl Elizna en Bea gereeld moet terug Kaapstad toe vir bloedtoetse. Ezra is nou al oud genoeg om tuis te bly saam ousus Eliana.
Die gesin se hoop is op Bea se moontlike beenmurgoorplanting einde September. Hierna moet sy vier weke in isolasie in die Rondebosch- Mediese Sentrum wees.
Die soektog na ’n moontlike beenmurgskenker was moeilik. Nie die beenmurgbank, vriende, familie of kollegas het ’n geskikte skenker opgelewer nie.
Elizna, ’n mikrobioloog, verduidelik in detail: “As ouers is jy net die helfte van jou kind. Die kans is ook baie skraal dat familie geskik sal wees. Broers en susters staan ook net een uit vier kans om ’n geskikte skenker te wees. Eliana was ongelukkig ook nie geskik nie en Ezra is te klein.”
Hulle het wel toe ’n geskikte skenker in Duitsland gevind, hoewel hulle nog vir vir finale bevestiging wag.
’n Buitelandse skenker hou wel groot finansiële uitdagings in. “Ons medies wil nie vir ’n internasionale skenker betaal nie, maar het ingestem om ’n gedeelte – wat dit sou kos om ’n plaaslike skenker te gebruik – te betaal.”
Intussen het vriendinne en die Stilbaai-gemeenskap talle fonsinsamelingsprojekte geloods waarvoor Elizna oneindig dankbaar is. Van ’n gemeenskapsdans, ’n vrou wat kolwyntjies bak, Stilbaai Adventures wat ’n staptog gereël het tot die OK Foods wat oliebolle ten bate van Bea se mediese koste verkoop.
Elizna vertel ook vriende en familie se geestelike ondersteuning dra haar in dié moeilike tyd. “Vriende wat saam met jou glo en bid dra krag. Vriende wat saam met jou glo aan wonderwerke en deurbrake. Ek het twee vriendinne wat daagliks vir my Skrif stuur en bid.”
‘Jesus het my hierop voorberei’
Maar, ten spyte van die moeilike pad wat Elizna tans stap, is haar boodskap dié van hoop en dankbaarheid.
Volgens Elizna het Jesus haar hierop voorberei. Elizna se ma Elize is 12 jaar gelede aan servikale kanker oorlede. Kort daarna is haar destydse verloofde, SJ Kotze, ook oorlede na ’n lang siekbed.
“Ek dink Jesus het my voorberei met my ma en SJ se siekte en dood,”glo Elizna. “Ek het geleer dat ’n positiewe ingesteldheid so belangrik vir die pasiënt is. Ek het geleer om lewe te spreek en dat God my die outoriteit gee om lewe in my kind se lewe te spreek. Deur my beproewinge is volharding in my lewe gekweek wat my nóú hoop gee, ten spyte van die seer.
“Tydens my ma se diagnose en afsterwe was ek nie nie van Jesus se liefde vir my en my ma bewus nie.”
Elizna het daarna tot bekering gekom en haar lewensuitkyk het totaal verander. “Die dag wat jy jou lewe neerlê en Jesus aanneem as jou verlosser sterf jy in jouself.” Sy haal 2:20 (NLV) aan: “Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde bewys het deur in my plek te sterf.”
Haar lys van dankbaarheid is lánk.
“Daar is soveel om voor dankbaar te wees, ten spyte van Bea se diagnose. Om Jesus te ken, om te weet ons Hemelse Pappa het ons en vir Bea lief. Om te weet Hy het juis óns geroep vir ’n tyd soos dié om ’n getuienis te wees van sy liefde vir sy kinders. Sy liefde verdryf vrees, ons moet dit net ontvang.
“As dit nie was vir die toetse, sou ons op ons knieë gebly het? As dit goed gaan, sal ons oë nogsteeds gevestig wees op Jesus? Ons berus ons daarby dat hy ons wil vorm in die beeld van sy gelykenis dat ons ook eendag die ewigheid saam met Hom kan beërwe. Daarvoor is ons dankbaar! Om te hoop in wonderwerke, in God se wonderdade, dít hou ons positief.
“Ons staan ook verstom in Bea se positiewe ingesteldheid, ten spyte van haar intensiewe behandeling.”
‘Ons bid saam in stilte by elkeen se bedjie’
Die mediese personeel en ander mammas in die hospitaal is vir Elizna ’n bron van inspirasie.
“Jy leer dankbaarheid en nuwe respek vir die mediese personeel wat ’n onbaatsugtige werk doen vir al die kindertjies. Om te sien hoe God ons as mammas sterk maak, want ons doen dit nie uit ons eie krag nie. Mens staan verstom as jy terugkyk wat jy oorkom het tot nou. Om te sien hoe Jesus daagliks my hand vat en my dra tree vir tree is iets wat my in ewigheid sal bybly.”
“My hart bloei vir elke mamma, pappa, ouma en oupa wat saam die seer dra van die kind se siekte. As ’n mamma ervaar jy op ’n emosionele en geestelike vlak dieselfde seer as wat jou kind ervaar, soms erger.”
Elizna vertel sy het tot dusver ongelooflike sterk vroue ontmoet. Sy het kontak met ma’s wat reeds die pad gestap het. “Hulle het baie kennis en daarom sal hulle ervaring jou help. Elke kind se pad is anders, maar jy leer tog van ander se getuienis.”
Sommige van dié ma’s wat sy in die hospitaal ontmoet, vertel sy, ervaar self ook uitdagende gesondheidsprobleme ten spyte van hulle kind se kanker. Ook húlle gesindheid en geloof inspireer haar, vertel Elizna.
Sy dink vir ’n oomblik terug aan die spesiale band wat tussen ma’s van klein kankerpasiënte in die hospitaal ontstaan.
“Ons praat min, aandag en oë konstant gefokus op ons kinders. Wanneer ons alleen met mekaar kan praat is dit asof ons net wil afpak bymekaar. Ons dra mekaar se seer, huil saam, bid saam in stilte by elkeen se bedjie.”
Vir ander ouers, wat met dieselfde marathon besig is wil sy sê: “Ontvang Jesus se liefde in dié tyd, sy liefde verdryf vrees (1 Joh 4:18). Bid dat Jesus jou sal bedien waar jy soms geen krag meer oorhet nie, Hy is ons intersessor. Die mees belangrikste van alles: God het jou die outoriteit deur die bloed van Jesus gegee om lewe te spreek oor jou kind. Lê daagliks jou kind by Jesus se voete neer, dat Jesus hom/haar bedien.
“Behou altyd ’n positiewe ingesteldheid teenoor jou kind. Hy/sy hou jou dop, hulle voel aan as mamma/pappa hartseer is. Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees, laat hul fokus op die positiewe. Laat hulle glo hulle gaan weer ’n normale lewe hê, laat hul uitsien na gesondheid. Probeer hulle ń normale roetine te gee binne die hospitaal. Sing, dans, vertel stories, vertel van Jesus, hou nagmaal saam. Verklaar die krag van Jesus se opstanding oor jou kind.”
*Volgens KANSA word ’n gemiddeld van 800 – 1000 kinders jaarliks in Suid-Afrika met kanker gediagnoseer.
- Soek na “Bea Vrey” op Facebook vir meer inligting. Indien jy belangsel om by te dra tot Bea se mediese onkoste:
Rekeningnaam: Bea Louisa Vrey
Bank: FNB
Rekeningnommer: 63012353148
Takkode: 210241