DEUR JACOBIE M HELENA
“Die één ding waaroor ek en Wian duidelikheid gehad het, reeds daardie eerste oomblikke nadat ons die nuus ontvang het, was dat ons met die swangerskap sal voortgaan. Ongeag die uitkoms.
“Dis nie óns reg om hierdie lewetjie in ons hande te neem nie. Die Here is die een wat in die baarmoeder werk. Die Here het nié ’n fout met Elian gemaak nie.”
Só vertel Chrissie Adriaanse oor die dag toe hulle uitgevind het hul seuntjie het ’n erge vorm van spina bifida. Die 27-jarige Chrissie was toe 18 weke swanger. Vandag is klein Elian tien maande oud.
‘Groot genade’
Chrissie vertel via Zoom, met Elian wat laggend en tevrede op haar skoot sit, hoe opgewonde sy en haar man destyds oor die 18 weke-doktersafspraak was. Daar sou hulle uitvind of hulle ’n dogtertjie of seuntjie verwag.
Die slegte nuus het egter alles oorskadu. Die daaropvolgende afsprake met ander dokters het dieselfde tyding gebring. Dis in dié tyd dat die egpaar gepols is oor die moontlikheid om die swangerskap te beëindig.
Toe kom daar oplaas iets positiefs: Chrissie se beste vriendin stel hulle bekend aan dr Nico Enslin, ’n neurochirurg by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad. Chrissie bestempel dit as groot genade.
Dit blyk toe dat dr Enslin daagliks met kinders met spina bifida werk, en hy het hulle ’n bietjie hoop gegee. Hy het onder meer gesê dat hy gereeld kinders teëkom wat bo verwagting vorder.
“Hy het ons aangeraai om nie vol vrees te leef nie. Om nie nou in duie te stort nie,” vertel Chrissie.
Daar was immers ’n swangerskap wat volbring moes word …
Elian is op 10 April 2021 in Kaapstad gebore. Chrissie kon hom net enkele oomblikke ná die geboorte sien voordat hy na die hoësorgeenheid geneem is. Die opening in sy ruggraat was groter as wat verwag is en hy moes so gou moontlik na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas word om die opening te herstel.
LEES OOK: ‘My Bibi se stilgeboorte bring nou hoop vir ander’
Chrissie vertel dat sy hom weer net vinnig kon sien voordat hy oorgeplaas is. “Die wonderlike van Elian is dat hy hierdie vrede oor hom gehad het. En dit steeds het. Hy het alleen gelê, sonder my, sonder voeding, en ek kon die vrede op sy gesiggie sien. Ek kon die eerste keer sien hoe hy lyk, watter kleur hare hy het. En ek kon vir hom ‘hallo’ sê.
“Hy was van die begin af so ’n mooi seuntjie.”
‘Die éintlike wonderwerke’
“’n Mens bid so gereeld vir die groot dinge – ons het ook”. Die Adriaanse-epaar het deurentyd geglo dat alles reg sal wees, dat die skanderings verkeerd is, dat die brein perfek en die gat in sy rugraat toe sal wees.
En toe word Elain met ’n groter opening in sy ruggraat gebore as wat die dokters voorsien het. En met vog op sy brein.
Chrissie vertel: “As ek nou weer daaroor dink, is daar baie dinge wat volgens ons verkeerd geloop het. Maar as ek op alles terugkyk, sien ek die Here se hand in die kleiner dinge.
“En dis daardie kleiner dinge wat dit vir ons moontlik gemaak het om deur elke dag te kom, om steeds hoop te hê. En om die volgende dag te sien hoe God se genade weer nuut vir ons gegee word.
“Deesdae dink ek dít was éintlik die groter wonderwerke.”
Twee keer ’n reënboog
Dis nou tien maande ná Elian se geboorte. Dit was nie ’n maklike tyd nie. Chrissie vertel: “Ons was altyd bekommered oor die rugoperasie en die gevolge daarvan, maar nie oor die operasie waar die herleidingsmeganisme (oftewel shunt) in sy brein geplaas moes word nie.
“Maar ná die suksesvolle rugoperasie het die shunt wat die vog op sy brein moes dreineer, ontsteek. Dit was bitter slegte nuus. Ons het trouens presies dieselfde gevoel as met daardie 18 weke-ondersoek se nuus.
“Die ontsteking het tot gevolg gehad dat Elian se toestand algaande verswak het. Daardie volgende maand het hy in die hospitaal om sy lewe geveg.
“Maar die Here was daar. Toe ons Elian op 26 April moes hospitaal toe neem, was daar ’n reënboog bo die Rooikruis-hospitaal. Ek het ’n foto geneem en dit op Instagram geplaas.
“Toe ons presies ’n maand later, op 26 Mei, uit die hospitaal kom, was daar wéér ’n reënboog. Dit was vir my hart ’n teken dat die Here sê dat Hy aan die begin van die traumatiese maand daar was en dat Hy ook aan die einde van die maand daar is.”
“Die groot wonderwerk was dat wanneer dit gevoel het asof dinge chaoties verloop en ons net teenspoed ervaar en nét slegte nuus gekry het, ons steeds vrede, hoop en vreugde ervaar het.
“Daar is nie ’n manier waarop ons dit vanself sou kon hanteer én staande sou bly nie. Maar hier is ons, draers van die hoop, vrede en vreugde van die Here. “En hoor dié wonderwerk: Die neuroloog wil ons eers weer oor ses maande sien!”
‘Die hartseer’
Volgens Chrissie het kinders met spina bifida ’n goeie, gemiddelde lewensverwagting. “Die hartseer is dat meer as 60% van die babatjies wat voor hul geboorte met spina bifida gediagnoseer word, geaborteer word. Wanneer ouers die diagnose kry, word die klem alte dikwels gelê op die slegste moontlike uitkoms vir die babatjie asook die laegehalte lewe wat vir hulle voorlê.
“Sonder om naïef te wees oor die uitdagings, want daar is baie, dink ek ’n mens se lewe en die gehalte daarvan word deur meer as jou uitdagings gedefinieer. As die Here wil, sal Elian en elke ander baba, kind en mens met spina bifida ’n vol en lang lewe hê.”
Wanneer ’n baba se ruggraat en rugmurg nie behoorlik in die baarmoeder ontwikkel nie, word \’n gaping in die ruggraat gelaat. Dié opening in die ruggraat kan aanleiding gee tot oortollige vloeistof wat tot gevolg het dat die breinweefsel nie ontwikkel nie.
- Het jy ’n getuienis wat jy met LiG-lesers wil deel? Stuur jou verhaal na lig@tydskrifte.co.za
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.