Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘’n Winkelsentrum vol mense het vir mý kind gebid’

19 Mei 2021

Danika van der Berg van Randfontein het dié aangrypende getuienis onlangs op haar Facebookblad gedeel en duisende mense aangegryp. Volgens Danika het sy twee wonderwerke op een dag beleef: Haar dogtertjie wat weer begin asemhaal het na sy verstik het en ’n “winkelsentrum vol mense” wat op hulle knieë vir háár kind gebid het.

My kind is dood. Dis ’n gedagte wat ’n ma nooit wil hoor nie.

Dit is woorde wat ’n ma nooit sal kan verwerk nie en waarvan sy ook nie die werklikheid sal kan insien nie.

Danika van der Berg en haar dogtertjie wat leweloos op die winkelsentrum se vloer gelê het voor sy weer begin asemhaal het. Foto: Facebook

Ek wil graag iets met julle deel. Nie om julle van enigiets bewus te maak soos mense gewoonlik doen nie. En ook nie om vir julle te sê hoe vinnig ongelukke gebeur nie, want dit is ook al genoeg gesê en ons almal besef dit.

Ek voel net in vandag se tyd word daar te min oor wonderwerke gepraat en as daar iemand is wat enigsins twyfel in God se goedheid, lees asseblief hierdie storie …

Ek wil ook op ’n manier uitreik na mense wat ek nie ken nie, wat deel vorm van my dogtertjie se getuienis wat ek op geen manier kan bedank nie.

Op Saterdag 15 Mei was ons in Clearwater Mall in Roodepoort en my dogtertjie het op haar fietsie (wat ’n mens kan stoot) gesit en ’n lekkertjie geëet.

Niks buite die gewone nie en niks vreemd vir haar nie.

Sy is 1 jaar en 6 maande oud. Ek gaan nie te veel uitbrei nie, want my storie is reeds lank.

Sy het skielik die lekker laat val en ek het die papiertjie weggegooi met die gedagte in my onderbewussyn dat die lekker klaar is.

LEES OOK: VIDEO: Ma se leuse na dogtertjie se dood: ‘As sý kon uithou, kan ék dit doen’

Toe ek weer sien maak haar handjie snaaks en haar koppie trek skeef. Die fietsie waarop ek haar gestoot het, het verhoed dat ek haar ten volle kan sien.

Dadelik het ek gestop en gekyk om te sien my kind is blou en sy verstik. Sy het ’n bietjie opgegooi soos haar liggaam (neem ek aan) die lekker probeer uitkry het.

Ek het haar vorentoe gedruk en haar rug gevryf dat sy kan opgooi en uit haar karretjie geruk. Ek het my vinger in haar keel gedruk om die lekker uit te kry. Ek kon niks voel nie en het haar omgedraai en gedruk en haar ruggie geklap soos ’n mens nou maar doen.

’n Man het verbygestap en gevra of ek hulp nodig het. Sonder twyfel het ek my kind in sy arms gedruk en “Ja, asseblief” gevra.

Sy het net blouer en blouer geraak. Mense het van oral gekom en probeer help en teen dié tyd was sy nie net blou nie maar pap ook. Sy het al hoe papper begin hang soos die een na die ander persoon probeer het om haar te help.

Vir my het dit gevoel soos jare wat verby gaan en ek sukkel nou nog om te glo dit wat my oë sê ek gesien het.

Later het hulle my lewelose potblou poniestertdogtertjie op die vloer neergelê en begin mond-tot-mond-asemhaling doen.

Hulle kon dit nie regkry nie – vier mense het probeer.

Haar oë het omgedop en sy was dood.

My kind is dood, het ek vir myself gesê. Ek hoor toe hoe een vrou rustig vra of daar iets is om my dogtertjie mee toe te gooi en toe vra sy hoe ver die ambulans is.

My klein lyfie het potblou en leweloos op die grond gelê. Ek kon die moedeloosheid (op almal se gesigte) sien en half hoe almal tot bedaring kom, want sy het dit nie gemaak nie en nou moet die volgende stappe beplan word …

Die volgende oomblik val almal op hulle knieë en bid. Dis al wat ons kon doen. En toe hoor ek skielik hoe iemand skree dat sy asem haal en ek val inmekaar van dankbaarheid. Maar ek besef sy gaan breinskade of een of ander vorm van skade moet hê omdat sy so lank sonder suurstof was.

Ek besef toe net daar en dan dit gaan nie so wees nie en ek gaan val op my knieë en bid saam. Ek het ons lewende God gesoebat en gesmeek vir sy genade en sy herstel en genesing om deur die lyfie te gaan.

Sy het glad nie gereageer nie – sy kon nie beweeg of haar oë oopmaak nie. Sy was lam – sy was pap.

Vrees het heeltyd vir my gesê sy is breindood. Sy het net so ’n huilerige kermgeluid gemaak totdat die ambulans daar opgedaag het.

Ek onthou ek het langs haar gaan lê en net begin bid vir die genesing van dit wat sou skade kry … of dalk reeds het …

Sy het probeer om haar oë oop te maak maar kon nie.

Die ambulans het gekom en ons is hospitaal toe. In die ambulans het sy begin beweeg en haar oë meer begin oopmaak. Ek onthou haar pupille was ontsettend groot en sy het net so na die hoek gekyk.

Ek het haar net teen my vasgedruk en bly sê sy gaan oukei wees.

By die hospitaal het hulle dadelik X-strale en ander toetse gedoen.

Ek het nie geweet wat om van die uitslae te verwag nie.

LEES OOK: ‘Daar is werklik engele om ons,’ vertel skrywer ná haar dogtertjie se dood

Die dokter het ná alles na ons toe gekom om vir ons te sê ons lyfie makeer níks! Geen skade nie – niks. Ons kon huis toe gaan en die volgende dag was sy weer haar ou self – haar ou slim self wat gesels en speel en alles doen.

Dit het my verstand te bowe gegaan.

Soveel wonderwerke in een dag.

Nie net vir die gebeurtenis self nie, maar om te sien hoe ’n winkelsentrum vol mense neersak op hulle knieë en uitroep na ons Vader is reeds iets om te beleef.

Hoe mammas my gehelp het – my vasgehou het en hulle oor my kind ontferm het terwyl ek in skok was en nie lekker besef het wat aangaan nie.

Hoe hulle my bemoedig het. Vir mý kind hulle hart uit gebid het!

Dit alles is net ’n wonderwerk.

Hoe sal ek ooit die mense kan bedank?

As enige mense hierdie getuienis lees wat deel was, wat saam gebid het, wat die ambulans gebel het en wat op een of ander manier gehelp het. Ek wil innig uit my hart dankie sê.

  • Dié getuienis word met toestemming van die Van der Berg-egpaar geplaas.
  • Het jy ’n storie om te deel? Klik hier en deel jou getuienis.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF