April is outisme-bewusmakingsmaand. Hier vertel Arleen Stokes haar verhaal. Sy moes tydens haar tweede swangerskap tussen die baba en haar verloofde kies. Toe klassieke outisme boonop by die kind gediagnoseer is, was sy moedeloos.
My tweede dogter is in 2007 gebore. Ek was verloof aan haar pa, maar hy wou nie ’n kind hê nie en het op ’n aborsie aangedring. Wat my betref, is aborsie niks minder nie as moord.
Ek was in daardie stadium ’n speurder in die polisiediens in Bloemfontein en het ongereelde ure gewerk. Toe my verloofde my los en sê dis mý keuse om die kind in die wêreld te bring, het ek die enkelouer van twee dogters geword. Shania, my oudste, was toe sewe.
Ná Jenascia se geboorte is vasgestel dat sy nie kon suig nie. In die hospitaal moes sy uit ’n koppie drink; ons moes haar leer suig. Sy het nooit gehuil nie, sy het geen skeidingsangs getoon as ek moes gaan werk en haar by vriende los nie.
LEES OOK: ‘My outistiese kind versinnebeeld Jesus vir my’
Shania, aan die ander kant, het koliek gehad en tot op sewe maande gehuil. Ek het my ma vertel dat Jenascia “anders” is, dat daar iewers ’n fout moet wees. My ma het my getroos en gesê ’n mens kan nie babas met mekaar vergelyk nie, elkeen is uniek.
Op 12 maande kon Jenascia nog nie praat of kruip nie. Sy het op haar boude vorentoe gebons. Ek het die pediater van my bekommernisse vertel. Hy het chromosoom-toetse laat doen, maar alles was in orde.
Ek was platgeslaan …
Op 18 maande het ek die dokter gevra om ’n plan te maak, daar is regtig iets verkeerd. Jenascia het toe nog nie begin praat nie. Hy het my na die Universiteit van die Vrystaat verwys waar ’n bepaalde professor in outisme spesialiseer.
Ek was platgeslaan toe ek die diagnose kry. Dit was inderdaad klassieke outisme. Ek het met die Here baklei. Ek het Hom gevra hoekom ek, ’n enkelma met twee dogters, dit moes oorkom. Ek was kwaad vir alles en almal en het selfs opgehou kerk toe gaan.
My kerk het wel ’n artikel in ’n Bloemfonteinse koerant geplaas wat oor my situasie gehandel het. En die kerk het ’n fonds gestig. Hierdie geld het gehelp dat die outisme-kenners van dieSpecial Needs Adapted Program (SNAP) Bloemfontein toe gekom het. SNAP is in Durbanville gevestig en bied ’n program aan vir kinders met outisme en ander spesiale behoeftes. Hul sukses is gebaseer op toegespitste aandag aan een leerling op ’n slag.
SNAP het aan my en Shania verduidelik wat outisme is sodat ons Jenascia kon verstaan.
Haar eerste woord
Ek het ’n baie goeie huishulp gehad; Sophie was soos ’n tweede ma vir my kinders. SNAP het Sophie opgelei om Jenascia elke dag te tutor. Daar was ’n program waarvolgens Sophie vyf ure per dag, elke dag, aan die onderrig moes afstaan. Sodra Jenascia alles volgens dié program kon doen, moes ek die uitslae wegstuur en SNAP het dan die volgende program aangestuur.
Toe Jenascia uit haar eerste klas kom, kon sy reeds haar eerste woord sê.
Omdat ek dikwels saans gewerk het en naweke op bystand was, het ek vir ’n verplasing Mosselbaai toe gevra, waar my ouers woon. Maar my werk is van so ’n aard dat ’n aansoek om verplasing bitter moeilik toegestaan word. Boonop is Mosselbaai in ’n ander provinsie.
My bevelvoerder was egter baie simpatiek en die aansoek is goedgekeur.
’n Goeie wending
Ons het in 2010 Mosselbaai toe verhuis. Sophie is saam. Wanneer ek saans moes opstaan om te gaan werk, het Jenascia agter Sophie se rug gaan lê.
Ek kon nie met Jenascia kerk toe gaan nie, want sy moes tjoepstil sit en nie gehoor word nie. Dit het beteken dat ek bloot vir Shania by die Sondagskool gaan aflaai het.
Daar het ’n jong man langs my gewoon wat my aan een van sy kollegas by sy werk voorgestel het, Jan Botha. Jenascia was toe drie. Sy en Jan het dadelik gekliek.
Jan is ’n baie gemaklike mens. Hy het my na sy kerk toe geneem en daar is ons, my outistiese kind ingesluit, met ope arms verwelkom. Sy is nooit skeef aangekyk nie.
Ek en Jan is getroud en hy het Jenascia wettig aangeneem. Hulle is onafskeidbaar. Hy is haar pa en sy is sy dogter.
Die Here antwoord my
Jenascia het by Leolan Akademie begin skoolgaan en uit die staanspoor baie goed gevaar. Sy leef haar uit in die kerk. Soms neem sy maats saam kerk toe en wys daar haar geloof spontaan. Die Vader, Seun en Heilige Gees is baie belangrik in haar lewe en sy sing van Hom oral waar sy gaan.
Op ’n dag het Jenascia ’n profesie ontvang dat sy nog baie mense na Jesus sal lei. ’n Onderwyseres, wat ’n week lank met ’n bepaalde probleem gestoei en vir niemand daarvan vertel het nie, het gebid dat die Here haar ’n uitweg wys. Jenascia het na haar toe gegaan en gesê: “I want to pray for you.” Daarop het sy vir die onderwyseres gebid, vir die presiese probleem waarvan niemand behalwe die Here geweet het nie.
By die skool sal sy gou-gou iemand wat die Here se Naam misbruik daaroor aanspreek. Sy dra die goeie boodskap onbevange oor.
Sy word egter behoorlik siek as mense nie wil luister nie. Ek en ons pastoor leer haar nou dat nadat sy hulle aangespreek het hul gedrag húl keuse is. Dat haar werk dan afgehandel is.
Die Here het reeds twee keer ’n minderbevoorregte gesin met ’n outistiese kind oor my pad gestuur. Ek kon hulle raad gee en hulle ondersteun.
Jenascia was twee keer amper dood: Sy was maar 12 maande oud toe sy skedelbreuk opgedoen het, en 12 jaar toe sy amper verdrink het nadat sy in ’n swembad geval het. Die Here het haar telkens vir ons behoue laat bly.
Eers onlangs het ek besef dat ek nou die antwoord by die Here gekry het op my vraag 17 jaar gelede, my “hoekom ék, Here?” Hy het immers destyds reeds my en my twee dogters se pad geken en Hy het sy antwoord, op sy tyd, aan my bekend gemaak.
Jenascia word dié winter 18. Die kind oor wie ek so bekommerd was, is nou vir my ’n seën.
Shania word 25. Sy het onderskeidings in al haar vakke behaal, op skool en op universiteit.
Ek dank die Here vir ’n goeie man, vir twee pragtige kinders en vir die pad wat Hy vir my uitgelê het.
Die Here is goed.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.