Julie 2021 mag vir baie mense net nog ’n maand wees, maar vir ons was dit toe my man Jaco ’n tweede kans op lewe gekry het.
Ons jongste seun, Liam, is as klein kind met asma en veranderlike immuniteitsgebrek (viarable immunodeficiency) gediagnoseer. Dit het ons lewe verander, want hy was meer siek as gesond. Hy was ons grootste bekommernis toe die pandemie kom, want met sy swak immuniteit kon dit erge nagevolge hê. Ek het by ’n ginekoloog se spreekkamer gewerk waar ons baie blootgestel was, omdat mense wat asimptomaties was gereeld ingekom het voordat hulle uitgevind het hulle is Covid-positief.
Liam het my een Maandagoggend gebel en gesê sy oog pyn. Ek dink toe dit is ’n ooginfeksie, maar die volgende dag voel sy ander oog seer en sy bors is seer as hy hoes. Die dokter sê toe ons moet hom vir Covid laat toets, maar dit klink vir my onsinnig, want ons het nêrens heen gegaan nie en die skole was gesluit. Die volgende oggend maak Liam ons wakker met kouekoors en hy het droë bloed by sy mond. Ek het hom dadelik laat toets. Die dokter laat weet ons daardie middag Liam se uitslag is positief.
Dit het gevoel of iemand ’n mes in my hart gedruk het. Ons was vreesbevange.
Liam was vir vyf dae siek, maar het dit verbasend goed hanteer. Ons oudste, Justin, het positief getoets, maar was asimptomaties. Ek het nogal erg siek begin word, alhoewel ek negatief getoets het. Jaco het simptome begin wys: naarheid, nagsweet en moegheid – maar sy suurstofvlakke het vinnig geval.
LEES MEER: ‘God het die reuse op my pad verslaan,’ vertel jong vrou ná vier breinoperasies
‘Ek is moeg; ek kan nie meer nie’
Teen Saterdag was Jaco se suurstofvlakke 74%. Ek het die ambulans geskakel. Maandagoggend moes ek by die hospitaal gaan papiere teken om hom te ventileer. Toe ek daar aankom, toe vertel hy vir my hy het ’n man op ’n brug sien staan met drie wit boksies. Hy het gesê hy is moeg en kan nie meer nie. Ek het vir hom gesê ek en die twee seuns sal oukei wees, al gebeur wat. Ek het gedink dit is die beste antwoord op daardie tyd, maar hy het gedink ek versaak hom.
So was hy nege dae in die intensiewesorgeenheid by Life Peglerae-hospitaal en 18 kg ligter. Toe ek een dag by die hospitaal aankom, kom gesels drie susters met my. Elkeen het my hulle Covid-stories vertel. Een het haar baba verloor, die ander was 34 weke swanger en ook op ’n ventilator. Ek het met soveel emosies daar uitgestap en die hysbak se knoppie vinnig gedruk om my trane te keer.
Waardeur gaan al hierdie mense nie? Hulle is helde en te danke aan hulle, dr Kenaope en die Here, is ons man en pa vir ons gespaar.
Jaco is ontslaan met ’n erewag waartydens ‘Raise a Hallelujah’ gespeel het. Ek kon vir dae nie slaap nie, want ek was te bang iets gebeur met hom. Die oksimeter het oortyd gewerk. Ek het nagte lank vir hom gelê en kyk en gewonder wat maak ons so spesiaal. Daar was soveel hartseer daar buite en soveel mense het ’n geliefde verloor … Ek het skoon skuldig gevoel om te weet ons is “voorgetrek”. Ek het in vrees gelewe dat iets gaan skeefloop en dat hy ’n terugslag sal hê.
‘Alles gaan okay wees,’ sing Snotkop
Ek het vir die Here gebid en Hom vir ’n teken gevra dat ek rustiger moet word, want ek kan nie langer in sulke vrees lewe nie. Een oggend word ek wakker met Snotkop se liedjie ‘Alles gaan okay wees’ in my kop, en ek vertel dit vir Jaco. Toe ons skool toe ry, is dit die eerste liedjie wat Liam in die kar speel – en hy het nog geslaap toe ek dit vir Jaco gesê het.
Toe ons oor die brug ry, sien ons die mooiste, grootste rooi son. Ek sê vir Liam: “Die Here het vanoggend die mooiste prentjie vir ons geskilder.” En toe ons by die verkeerslig kom, staan die ambulansdienste wat Jaco kom haal het en deel besigheidskaartjies uit. Watter teken was dit nie!
Ons God is só groot. Ek is so dankbaar dat ons so ’n almagtige God kan dien. Eintlik sê die dankbaarheid glad te min; dit is ’n druppel in die oseaan. Ek dink nie die woord wat ek wil sê bestaan al nie. Ek begin elke dag met die lied ‘Goodness of God’. Dit is ’n eer en ’n voorreg.
- Lorette (44) woon in Rustenburg. Haar man Jaco werk as ingenieursbestuurder. Hulle het twee seuns: Liam (14) is in Hoërskool Rustenburg en Justin (20) is ’n tweedejaarstudent aan die NWU op Potchefstroom.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.