Twee gewapende rooftogte en ’n ernstige perdryongeluk kon Deon Louwrens nie onderkry nie. Inteendeel, dit het hom net meer rede gegee om oor God se genade te getuig.
In 2006 was Deon Louwrens (56), sy vrou Linda en hul drie kinders, Lisa, Mari en Ruan, besig om aan te bou by hul huis in Elarduspark in Pretoria. Een aand, omstreeks agtuur, is Deon deur vyf mans, waarvan twee met vuurwapens, omsingel terwyl hy boumateriaal by die huis ingedra het. Hy is met ’n elektriese koord vasgebind en op die sitkamer se vloer neergegooi.
Linda en twee van die drie kinders was by die huis. Deon vertel: “Ek het hardop begin bid en Jesus se Naam gereeld genoem, sy bloed op ons afgesmeek en vir sy beskerming gepleit. Die inbrekers het verby my geloop, my in die gesig geskop en gesê ek moet stilbly. Maar ek het aanhou bid.
“Ons het nie ’n kluis of gewere gehad nie – slegs R200. Hulle dreig toe dat hulle ons oudste dogter Lisa gaan verkrag as ons nie vir hulle sê waar ons nóg geld bêre nie. Linda sê toe dat hulle haar eerder moet verkrag en Lisa uitlos.”
Die een booswig het toe vir Linda beveel om haar klere uit te trek. Sy het vir hom gesê dat hulle goeie mense is en dat hulle haar nie gaan verkrag nie, want dis nie reg nie.
LEES OOK: ‘Ek het besef my dae is weer gevul met lig. Ek is vry,’ vertel vrou ná huisroof
Die Heilige Gees verander die situasie soos handomkeer
Vreemd genoeg het hy van sy planne afgesien, maar hy het Linda vasgebind en ’n das styf om haar nek getrek. Daarop het hulle begin om haar hare af te sny. Hulle het haar deur die gesig geslaan.
Linda het ’n buite-sintuiglike ervaring beleef, sy was kalm en het vir die Vader gesê sy is reg om te gaan, sy is nie bang nie. “Intussen het ek steeds hardop gebid,” vertel Deon.
“En toe het die Heilige Gees die situasie soos handomkeer verander. Een van die rowers het skielik uitgeroep: ‘Jesus is alive!’ En hy het om verskoning gevra vir wat hulle gedoen het. Hulle het ons ID-dokumente en bestuurderslisensies teruggegee. Ongeveer elfuur daardie aand is hulle daar weg met ons skootrekenaars, selfone, horlosies, kameras en juwele.”
Deon kon hom loswikkel, die das van Linda se nek afhaal en die kinders losmaak. Hulle het saam gebid. “Ons was kalm,” vertel Deon, “en ons het die rowers vergewe. Ons het gebid dat God in hulle sal werk, dat hulle Hom sal aanneem en dat Hy ’n pad met hulle sal loop.
“Die Skrifgedeelte wat my anker, is Romeine 8:28 waar Paulus sê: ‘Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.’”
Deon het die polisie geskakel. “Maar toe het die skok my werklik getref en ek het begin huil. Ook Linda en die kinders was erg geskok. Gelukkig het ons selgroep kos gebring en saam met ons gebid.
“Met verloop van tyd het ons die ervaring verwerk. Ons verhouding met God het dieper en sterk geword. Ons weet dat Hy leef, dat Hy ons beskerm, dat Hy by ons is. En dat Hy ons liefhet, in goeie en in slegte tye.”

In die Koning se hande
Deon en sy gesin het in 2021, tydens die Covid-19-pandemie, Hartbeespoort toe getrek nadat hy aandele in ’n vriend se wildplaas gekoop het. Daar was ook perde op die plaas. Die vriend en vennoot het gesê dat die perde nie genoeg gery word nie en Deon het aangebied om dit te doen. In daardie stadium het hy gereeld aan perde-uithouritte deelgeneem.
“Dié spesifieke oggend het ek die merrie opgesaal en die hings het saamgedraf. Die hings het soms vasgesteek en dan moes ek hom weer aanjaag. Die laaste wat ek onthou, was toe die hings ’n derde keer vassteek en ek omdraai.
“My huismense vertel dat ek seker ’n tyd lank bewusteloos was en daarom so laat by die huis aangekom het. Ek was baie deurmekaar. Klaarblyklik het my kop ’n klip getref toe ek van die perd afgeval het, want ek was vol bloed.
“Ek is met ’n ambulans na ’n hospitaal in Johannesburg geneem, waar ’n MRI-skandering gedoen is. My skedel was gekraak en daar was bloeding op my brein. En ’n bloedklont tussen die twee hoof-breinlobbe.”
Deon is onder verdowing geplaas om vas te stel hoe sy liggaam reageer. Vanweë die drukking op die brein kon die dokters eintlik niks doen nie. En indien die bloedklont sou losskiet, kon dit noodlottig wees.
Linda het ’n gebedsgroep byeengeroep en baie mense het vir volkome genesing gebid.
“Die dokter was maar skepties,” vertel Deon. “Maar ek het geweet ek is in die Koning se hande. Met ’n volgende skandering het dinge reeds beter gelyk. Die bloeding op die brein was minder.”
Fantastiese nuus
“Ek was die Here baie dankbaar. Maar ek het groot probleme met my balans ervaar: Ek kon nie staan nie. Ek het aanvanklik met ’n loopraam oor die weg gekom, en later met krukke. Ek moes drie maande lank balans-oefeninge by die huis doen. Ná die derde maand kon ek beter loop, hoewel ek steeds effens van balans was.
“Ses maande later was my balans nog nie reg nie. Daar is weer ’n skandering gedoen. Die dokter sê toe die skade is groter as wat hy gedink het en dat dit ’n jaar sal duur om te herstel.
“’n Jaar later, dit was teen middel-2022, was my balans steeds nie wat dit moes wees nie. Die dokter het gesê dat dit ’n verdere ses jaar sou duur voordat ek my balans volkome sou herwin.
“Maar net verlede jaar het ’n neurochirurg in die Kaap gesê ek kan maar weer sport beoefen. Dit sal help om my balansprobleme volkome op te los. Dit was fantastiese nuus! Ek is so dankbaar, want die Here het my ook deur hierdie ongeluk gedra en my ’n tweede kans gegee.
“Ek het begin stap, fietsry, visvang. Ek het gholf en tennis gespeel.”

Nog ’n krisis
Drie jaar gelede het Deon en sy gesin Gauteng verruil vir ’n leefstyl-plasie in die Keisie, buite Montagu in die Klein-Karoo.
Maar ’n verdere krisis het op hulle gewag. Op 3 November 2022, toe Deon nagskof gewerk het by sy gietery-onderneming in Vereeniging (hy het tussen Montagu en Vereeniging gependel), is hy weer aangeval. Hy vertel dat hy elfuur daardie Donderdagaand die fabriek se deur wou oopmaak toe vyf mans met gewere daar instorm. Hulle het hom platgedruk en hom beveel om nie na hulle te kyk nie.
“Hulle het my na ’n kantoor gesleep en ’n kombers oor my kop gegooi. Hulle het geld en wapens gesoek, wat ek nie gehad het nie. Uiteindelik het hulle my beursie gevat, en verskeie bankkaarte, maar hulle kon nie geld onttrek nie.
“Ek het vir die een misdadiger gesê dat ek nie bang is nie, want die Here is by my. Hy het toe gebieg en gesê dat hulle hierdie dinge doen om kos te koop omdat hulle nie werk het nie.
“Toe neem hulle my skootrekenaar, asook ander rekenaars, ’n projektor, klere en veiligheidskoene, en ’n grootskerm in die raadsaal. Hulle het my selfoon stukkend geslaan, en toe die buit in my bakkie gelaai en weggery.
“Ek is so dankbaar dat my lewe weer eens gespaar is. Ek gee die Here alle eer daarvoor. Deur alles wat gebeur het, het ek God beter leer ken. Ek het nader aan Hom gekom, en ek volg Hom.
“Vandag dien ek die Here met ’n kinderlike geloof. Hy is my beste Vriend en ek is baie lief vir Hom. Ons is God se verteenwoordigers op aarde. Daar is geen rede om bang te wees nie, want God is altyd by ons.
“Daarom getuig ek waar ek kan, want die Here moet al die eer kry.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















