Alfie Pegram (46), ’n haarkapper in Gqeberha, se lewe is deur swaarkry en talle terugslae gekenmerk. Hy sê: “Die Here laat allerlei beproewings oor jou kom. Maar wat saak maak, is hoe jy aan die ander kant uitkom.”
Van valskermsoldaat tot haarkapper
Alfie se lewe was nooit vol maanskyn en rose nie. “Ek is in Sidwell in Gqeberha gebore en getoë en het baie arm grootgeword,” vertel hy. “My ma en pa is geskei toe ek nege jaar oud was. Van toe af het ek begin werk wanneer ek nie moes skoolgaan nie. Ek het tot graad 10 koerante afgelewer en tot matriek by Kentucky Fried Chicken gewerk.”
Ná matriek wou hy in sielkunde studeer, maar daar was nie geld vir verdere studie nie. “Ek het toe aansoek gedoen om by die vloot aan te sluit, maar my aansoek het nie geslaag nie en ek is na die leër toe.”
LEES OOK: ‘Ek staan nie net hier vir roosterkoek braai nie,’ sê tannie Poppie van Laingsburg
Daar het hy lid van ’n valskerm-eenheid geword. “Ons opleiding was baie straf en ‘vasbyt!’ was ons leuse.”
Maar hy het geweet hy wil nie vir altyd daar bly nie en het dit ’n gebedsaak gemaak.
“Ek het eendag verby ’n haarkappersalon in ’n winkelsentrum gestap,” vertel Alfie, “en ek het gesien hoeveel pret die mense daarbinne het. Ek het op die plek besluit dit is wat ek wil doen.”
In 1998 het Alfie by die Russell Road College in Gqeberha ingeskryf om haarkappery te bestudeer. “Ek het saans by ’n videowinkel gewerk en Saterdae by die haarsalon Crimpers.” Nadat hy as haarkapper gekwalifiseer het, het hy voltyds by Crimpers begin werk.
In 2001 het hy met die louere weggestap in die Intercoiffure South African Hairdressing-kampioenskap. Hy het ook op internasionale vlak sy merk gemaak: Hy het ses maande lank by Vidal Sassoon in West Hampstead in Londen gewerk en in dieselfde jaar in Parys, saam met haarkappers oor die wêreld heen, aan ’n groot skou deelgeneem.
Die Here se witbroodjie, maar toe …
Alfie het besef hy het sy roeping gevind. Nie net kon hy kreatief wees nie, maar hy kon ook ’n soort terapeut vir sy kliënte wees deur simpatiek na hulle te luister.
Alfie is intussen getroud en twee pragtige dogters, Kayleigh (nou 22) en Chloe (nou 19), is uit die huwelik gebore. Hy vertel: “Dit het in daardie stadium so goed met my gegaan dat ek gevoel het ek is een van die Here se witbroodjies.
“Maar toe, skielik, het my lewe in duie gestort.” Hy en sy wederhelf se paadjies het ná 16 jaar se getroude lewe van mekaar geskei en ’n lang en moeilike egskeidingsgeding het begin. Dit het sewe jaar geduur.
“My egskeiding het my gebreek, my vertroue is geskend en boonop was my twee dogters van my vervreem. Toe breek die Covid-19-pandemie in 2020 uit. Ek het gedink die pandemie is die laaste spyker in my doodkis; dit was die aakligste tyd in my lewe. My egskeiding het my finansieel geknou, en Covid-19 het my geruïneer.”
Op 10 Oktober 2020 het ’n enorme terugslag Alfie getref: Hy en sy vriendin Buki Zuzani was in ’n ernstige motorongeluk betrokke waarin Alfie se linkerbeen vergruis is. “Dis ’n absolute wonderwerk dat ek vandag leef. Die Here se hand was oor my. My honde ry gewoonlik saam met my, maar daardie aand het hulle nie. Buki ry nie gewoonlik saam nie, maar daardie aand het sy, en dit het my lewe gered. Sy kon my help; ek was veel ernstiger beseer as sy.”
Intussen het sy gewese vrou daarop aangedring dat hy sy salon verkoop. En die balju het aan sy deur bly klop. “Dit was ’n baie stresvolle tyd, en boonop was die pyn in my been en heup ondraaglik.”
Nadat die egskeiding uiteindelik afgehandel is, moes hy volgens die skikkingsooreenkoms binne ’n maand R1 miljoen aan sy gewese vrou gee. “Ek het die Here gevra om my te help en Hy het deure vir my oopgemaak. Ek kon ’n tweede verband op my salon verkry, en my familie en ’n goeie kliënt en vriend het met die res gehelp. Ek het weer eens besef die Here is altyd daar om ’n mens uit moeilike situasies te red. Hy gaan wel op sy tyd en sy manier te werk, en nie altyd soos ons wil hê Hy moet nie.”
Die besluit om nie te gaan lê nie
Ongelukkig het dit glad nie goed gegaan met sy gesondheid nie. ’n Volledige heupvervanging was onsuksesvol. Ná tientalle operasies, wat ’n revisie-vervanging ingesluit het waartydens die prostese verwyder is en met nuwe komponente vervang is, het Alfie ’n erge infeksie opgedoen.
“Ons het eers gedink dis Covid-19. Die antibiotika kon ongelukkig nie die infeksie hokslaan nie en my femur het baie verswak. ’n Femur-prostese sou die antwoord wees en ’n pen is daarop in die femur ingeplant.
“Maar verlede jaar is ek terug hospitaal toe nadat ek weer infeksie opgedoen het. En toe kry ek ’n hospitaalkiem. Op 3 Desember is my been geamputeer.”
Ná die amputasie was hy uiteindelik infeksievry. “Ek prys die Here daarvoor!”
Alfie het nie gaan lê nie, inteendeel. “Ek het besluit ek is eintlik geseënd, want ek het nie ’n arm of my hande verloor nie. Ek is nie verlam nie en ek kan steeds my beroep beoefen.”
Hy sê hy is baie gedissiplineerd. Hy staan elke oggend tweeuur op en begin dan met sy oefenprogram tuis. “Ek oefen nie net hard om my torso en die res van my liggaam sterk te hou nie, maar die oefening is ook goed vir my gemoed.” Hy swem ook gereeld.
Versoening en vreugde
Alfie se werkdag begin soggens vyfuur wanneer hy sy salon oopsluit. Hy werk voldag. Dis ook geen ongewone gesig om hom in die straat te sien waar hy saam met sy twee honde stap nie – Malibu, ’n Bostonterriër en Ziggy, ’n Franse bulhond. Wanneer hy ander mense op straat teëkom, vertel hulle hom dikwels wat ’n groot inspirasie hy vir hulle is.
Intussen is hy en sy twee dogters met mekaar versoen. Chloe werk deesdae by hom in die salon. Hy vertel: “Ek het elke aand vir my twee dogters gebid. Kersdag 2024 was die beste Kersdag in my lewe toe ons weer kon saam wees.” Hy is ook baie dankbaar vir al die mense in sy lewe wat hom bygestaan het toe hy deur diep waters is. “My kollega en vriendin Jean-Marie Smith het in my afwesigheid gehelp om die salon aan die gang te hou.
“Ek was eers vreesbevange toe ek my been verloor het, maar ek aanvaar dat dit nou my werklikheid is. Die Here praat soms hárd met ons. Te midde van al die terugslae wat my gelouter het, het my geloof sterker geword. Ek mag nou dalk net driekwart-mens wees, maar ek is steeds meer aktief as baie mense wat al hul ledemate het.
“Die Here gee my die krag om soggens met ’n lied in my hart en ’n lus vir die lewe op te staan.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.