Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Nageboortedepressie: Gedagtes om jouself en baba leed aan te doen en ander simptome wat gevaarligte laat flikker

’n Nuwe baba bring groot vreugde. Maar dit bring ook verandering mee, en selfs verlies. Vir sommige ma’s bring die nuwe lewetjie uitdagings wat onoorkombaar voel, en dalk selfs die donker gevoelens van nageboortedepressie. Hoe lank sal dié ellende voortduur?

Die meeste ma’s voel huile­rig, angstig of buierig in die eerste paar weke nadat ’n baba gebore is. Dis te wagte, dis normaal. Mense praat van die “baby blues”.

Maar by sommige vroue duur hierdie emosies baie langer voort, dermate dat dit soms as nageboortedepressie gediagnoseer word. Sommige van dié ma’s beleef ook depressie vóór die geboorte, en dan word daar van perinatale depressie gepraat, met ander woorde depressiewe gevoelens voor én ná die geboorte.

Nageboortedepressie word van “baby blues” onderskei wanneer die depressiewe gevoelens en negatiewe emosies langer as twee weke duur. Dis ’n geestesgesond­heidtoestand wat behandel kan word. En daarom is dit belangrik om met ’n dokter te gesels indien ’n vrou langer as twee weke ná die geboorte van haar kind onder dié toestand gebuk gaan.

Nageboortedepressie word nie deur ’n enkele oorsaak meegebring nie; kenners reken dis ’n mengsel van gene­tiese en omgewingsfaktore. Om ’n nuwe baba in die lewe te bring en te versorg is immers nie ’n eenvoudige saak nie; dit stel groot emosionele eise aan ’n vrou. Terwyl die lewe voortgaan, met sy elkedagse stres, moet daar ’n baba versorg word. Dalk is daar boonop allerlei verwagtinge by die werk. Dalk het die nuwe mamma ander trauma beleef, en dalk is haar hor­mone erg omgekrap.

Wat is die simptome?

Emosies en omstandighede verskil, en daarom verskil vroue se belewenis van nageboortedepressie. Baie besef eers hulle het dit wel gehad nadat hulle deur die ergste donkerte daarvan is.

Die Amerikaanse departement van geestesgesondheid het die volgende simptome van nageboortedepressie geïdentifiseer:

  • deurlopende hartseer of angstigheid, of ’n voortdurende gevoel van “leegheid”
  • geïrriteerdheid
  • skuldgevoelens, of ’n gevoel dat jy geen waarde het nie – jy voel hopeloos en/of hulpeloos
  • geen belangstelling in of plesier deur stokperdjies of ander aktiwiteite nie
  • moegheid, of ’n abnormale afname in energie
  • ’n rustelose gevoel, of ’n onvermoë om stil te sit
  • probleme met konsentrasie, geheue of om besluite te neem
  • slapeloosheid, selfs al slaap die baba. Jy word vroegoggend wakker, of jy verslaap
  • ’n buitengewone eetlus, of ’n merkbare verandering in jou gewig, of albei
  • pyne en skete, onder meer hoofpyn en krampe en spysverteringsprobleme, wat geen liggaamlike oorsaak het nie en nie deur behandeling verlig word nie
  • jy beleef dit as ’n uitdaging om ’n emosionele band met die nuwe baba te vorm
  • onophoudelike twyfel oor jou vermoë om die nuwe baba te versorg
  • gedagtes oor dood en selfdood, of om jouself of die baba leed aan te doen

Dis belangrik om te weet dat slegs ’n mediese praktisyn ’n ma kan help vas-stel of die simptome en gevoelens wat sy beleef wel nageboortedepressie is. Indien jy dus enige van die bogenoemde simptome beleef, is dit raadsaam om met ’n kundige te gesels.

Hoe lank nog …?

Nageboortedepressie kan ’n paar maande voordat ’n vrou geboorte skenk begin, en dit kan tot en met ’n jaar ná die geboorte steeds soos ’n swaar jas om haar hang. Dit kan by sommige vroue egter veel langer voortduur.

Die meeste vroue voel tranerig en angstig binne die eerste weke nadat die nuwe baba gebore is. Maar indien hierdie gevoelens langer as twee tot drie weke duur, is dit moontlik ’n teken van nage­boortedepressie.

’n Studie wat in die Harvard Review of Psychiatry gepubliseer is, het uitgewys dat nageboortedepressie ’n chroniese siekte by ’n relatief groot groep ma’s is. Dit beteken onder meer dat daar vroue is wat selfs ’n jaar nadat hul geboorte geskenk het steeds daaraan ly.

Ongeveer die helfte van die vroue wat kliniese behandeling daarvoor ontvang het, het ’n jaar ná die geboorte steeds simptome daarvan gehad. Van diegene wat nie klinies behandel is nie, het 30% steeds simptome gehad drie jaar nadat hulle geboorte geskenk het.

Hoe groot is my risiko om lan­ger daaraan te ly?

Elkeen se pad met nageboortedepres­sie is uniek. Kenners reken egter dat daar sekere risikofaktore is wat tot gevolg kan hê dat jy langer aan nageboortedepressie ly, selfs ten spyte van die behandeling wat jy ontvang. Die aard van jou simptome, en die tydsduur daarvan voordat jy met behandeling begin het, kan ’n invloed hê op hoe lank dit duur.

Risikofaktore sluit die volgende in:

  • ’n geskiedenis van depressie of ander geestesongesteldhede
  • uitdagings met borsvoeding
  • komplikasies tydens die geboorteproses
  • ’n gebrek aan ondersteuning deur jou man, familie of vriende
  • ander groot veranderings in jou lewe nadat jou baba gebore is, soos verhui-sing of werkverlies
  • ’n geskiedenis van nageboortedepressie ná ’n vorige swangerskap

Wetenskaplikes het ook vasgestel dat vroue wat seksueel mishandel is of baie stres ervaar, die risiko loop om langer aan nageboortedepressie te ly. ’n Groter persentasie vroue uit lae inkomstegroepe ly ook daaraan.

Daar bestaan nie ’n formule om te bepaal hoe lank jy daaraan sal ly nie. Maar kenners is dit eens dat dit verlig kan word indien ’n ma die regte behandeling ontvang, al bestaan daar risikofaktore vir chroniese nageboortedepressie.

Al is ’n baba sieklik, verhoog dit nie die risiko vir langtermyn nageboortedepressie by die ma nie.

Wat kan ek doen om dit te verlig?

’n Hegte band met jou baba

Laat jou baba kaal teen jou vel lê. Dié soort aanraking verrig wondere vir baba én mamma. Ook wanneer sy die baba mas­seer of vir die baba sing.

Navorsing het uitgewys dat dopamien in ’n ma se brein vrygestel word wanneer sy haar baba sien glimlag. Dit bied aan die ma ’n natuurlike goedvoel-hupstoot. Doen dit só: Hou die baba na aan jou gesig en glimlag vir hom/haar. Dit behoort ’n glimlag te ontlok. Babas begin glimlag wanneer hulle tussen 6 en 12 weke oud is.

’n Gesonde leefstyl

Dis baie makliker om saam met iemand anders gesonde gewoontes aan te kweek. Jy en jou man kan saam besluit om die volgende te doen:

  • Sorg dat julle omega-3-olies inkry. Dié vetsure kan die risiko van nageboortede­pressie verlaag. Dit word selfs ingespan om dit te behandel.
  • Kry genoeg rus. Maak beurte om na die baba om te sien, indien dit moontlik is. Onderbroke slaap kan bydra tot nage­

boortedepressie. Daarom is dit belang-rik vir ’n ma om, op enige denkbare manier, genoeg slaap te kry.

• Kom in die son. ’n Bietjie blootstelling aan sonlig en vars lug kan wondere ver­rig om die gemoed te lig. En om saam met iemand anders te oefen, is veel makliker as om dit alleen te doen. Sorg dat jy en jou man gereeld saam gaan stap.

• Bederf jouself. Vra iemand om jou te help met die baba, en sorg dan vir ’n lekker borrelbad. Kyk ’n TV-program of lees ’n gunstelingtydskrif.

’n Ondersteuningsnetwerk

Ons is sosiale wesens, en ons kan baie van ons swaar laste afgooi bloot deur dit met ons vriendekring te deel. Dis immers die vertroude plek waar ons veilig voel.

’n Ma het wel nie ’n groot netwerk vriende en familie nodig om ’n doeltref­fende ondersteuningsnetwerk te hê nie. Bloot ’n handjievol vriendinne, dalk ook ma’s, kan so ’n ondersteuningsnetwerk vorm.

Roep mediese hulp in

Indien jy reeds die bogenoemde moont­likhede behoorlik ondersoek het en jou depressiegevoelens wil nie wyk nie, gaan spreek ’n dokter. Mediese ingry-ping behels, onder meer, terapie deur ’n sielkundige of ’n berader. ’n Dokter kan ook antidepressante voorskryf, en sal die moontlike uitwerking daarvan op bors­voeding verduidelik.

Verdere raad vir ma’s wat sukkel

Hier is nog maniere om jouself te versorg ten einde die simptome te verlig:

  • kry soveel moontlik rus
  • vra ander mense om jou te help
  • probeer om nie alles perfek te wil doen nie
  • bring tyd deur saam met vriende en familie
  • deel jou gevoelens met iemand wat jy vertrou
  • sluit aan by ’n ondersteuningsgroep in jou kerk of in jou gemeenskap
  • kry oefening, al is dit bloot om met die stootwaentjie om die blok te gaan stap
  • probeer om nie groot veranderings in hierdie tyd aan te bring nie; dit kan jou nog meer laat stres

Indien jy voel dat jy jouself of jou baba wil leed aandoen, kontak die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) by 0800 456 789, of SMS 31393.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF