In Desember 2015 hou ons vakansie op Hartenbos. Pa en Seun geniet adrenaliengedrewe aktiwiteite soos nagduik, tot sewe meter diep, terwyl ek naels kou. O, genade, dis dónker daar onder – en wat van die haaie?
Ná die vakansie is ons terug in Centurion en ons beker loop oor, want die matriekuitslae lyk uitstekend. Geluk, Seun, nou wag die studentelewe op jou!
Iewers in Januarie kla Jase oor sy maag. Dis eers huismedisyne, daarna is ons dokter toe. En ’n week later na die hospitaal se ongevalle-afdeling. Almal reken dis ’n maagvirus. Maar twee dae later is sy maag opgeswel soos ’n vrou wat nege maande swanger is.
Jase word in Midstream Mediclinic opgeneem. Die dokters sê daar is geen obstruksie nie; daar moet ’n ander fout wees. Ná ’n MRI-skandering word ’n dreineringspyp in sy maag geplaas. Ek ry vinnig huis toe om aandag aan die huisalarm te gee. Hy bel my uit die hospitaal: “Ma! Kom gou!”
LEES OOK: ‘Here, moet asseblief nie hierdie genade-kind van my wegneem nie’
Die vyf kilometer van ons huis na die hospitaal voel soos vyf honderd. Jase is wasbleek. “Dokter sê dit lyk soos kanker.”
Die wêreld begin om my draai, maar ek maan myself om te probeer kalm bly.
”Seun,” vra ek, “het jy nie dalk verkeerd gehoor nie?” Intussen wil ek skree: “Dokter, hoekom dra jy hierdie boodskap aan my kind oor!”
Daar volg spanningsvolle dae. ’n Biopsie word gedoen, terwyl engele ons ondersteun – ’n vriendin wat die hele dag langs my sit; my kleuterskool se personeel wat kort-kort eetgoed bring.
Ag, Here, hoeveel skokke wag daar nog?
Op 25 Januarie moet ek en my man dié verskriklike woorde aanhoor: “Daar is min hoop. Die buik is deurtrek met kanker. Hy het dalk reeds ’n nier verloor. Een gewas is aan die derm vas, en chemoterapie sal dalk die derm perforeer.”
Ek wil dit uitgil: “Dokter! Nee! Jy praat met die verkeerde pasiënt se mense!”
Maar die dokter voeg by: “Moenie skrik as julle hom nou sien nie. Ek moes sny vir die biopsie.”
Ek het nie geweet ’n mens het soveel trane nie.
Die onkoloog verduidelik dis Burkitt se limfoom, dis reeds in fase 4. “Dokter, hoe lank het ek oor?” vra Jase.
Die antwoord kom so gemaklik: “Nege maande.” So asof dit niks is nie. Hy sê sulke dinge seker dikwels.
Ek is nie meer op my knieë nie; ek lê op my maag in die stof by die Here se voete. Waarom mý kind? Dit gebeur tog altyd met ánder mense …
Jase word na ’n hospitaal in Pretoria-Oos oorgeplaas. Dis spitstyd en die rit is ’n riller. Die ambulansbestuurder verdwaal. Wat van Jase se yslike operasiewond met die 37 krammetjies? Ek hou sy hande vas, ek troos hom met leë woorde: “Vasbyt! Alles sal oraait wees.”
By Pretoria-Oos-hospitaal is die dokters dadelik meer betrokke; hulle kommunikeer deurentyd met ons. Weens sy longontsteking en angstigheid sedeer hulle hom die hele naweek. Die dokters beskryf hom as dapper, as ’n vegter. Daar word voorlopig geen besoekers toegelaat nie. Ons vrees die moeilike pad wat vir hom en ons voorlê, maar ons glo vas dat God die stapskoene sal voorsien.
Hulle trek beenmurg om te bepaal of die kanker reeds dáár is. Inderdaad. Ag, Here, hoeveel skokke wag daar nog?
Ek sit soggens van sesuur af in ’n hoekie van sy kamer in die intensiewesorgeenheid. Tjoepstil, want ek mag nie eintlik daar wees nie. ’n Noodoperasie volg, want ’n stent moet die nierpyp oop hou omdat daar gewasse is wat dit toedruk. Die infeksietelling klím.
Ek kerm by die Here.
Ná twee weke word Jase na Saal 20 verskuif, maar hy bly in isolasie. Sy wonde moet eers genees voor die chemoterapie kan begin.
Ek klou vas aan 1 Korintiërs 10:13: God sal nooit toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. Later stuur ek dié WhatsApp: “Dis die eerste van vyf sakkies chemoterapie-drup. Bid asseblief om 22:00 saam vir geen newe-effekte of komplikasies nie. Kom ons herinner ons hemelse Vader aan sy beloftes.”
Vyf dae lank word sy bloed soggens om 04:30 getrek. Dan wag ons op die uitslag. Ons slaap min. Die masjiene skree; Jase is swak; die chemoterapie eis sy tol. Ek probeer kophou.
Pa kom elke middag ná werk hospitaal toe. Dan vlug ek buitentoe, en ek huil. Ek kan nie daarbinne huil nie; ek probeer in beheer wees.
Uiteindelik kan hy sop eet. Maar min daarvan bly binne.
Ousus kom los my af vir ’n naweek. My kleuterskool word, as deel van ’n kompetisie, deur kykNET gekies. Dit eis al my aandag. Dankie, Here, sê ek, dánkie vir wonderlike personeellede.
Toe ons Jase vir ’n naweek kan huis toe neem, is die 23 kilometer-rit problematies. Hy braak herhaaldelik. Ek moet die noodligte laat flits en in die spitsverkeer stilhou en die houer waarin hy naar geword het op ’n manier versorg voordat ek verder kan ry.
Toe ons uiteindelik by die huis se voordeur ingaan, huil ons in mekaar se arms. Hy sê: “Ek het nie gedink ek sal ooit weer hier instap nie.” Hy was twee maande lank in die hospitaal.
Twee dae later word hy koorsig en ons jaag terug hospitaal toe. En dit is hoe ons lewe die volgende klompie maande sou lyk.
Saal 20 voel soos huis
Ons is dankbaar vir die onkoloë, laboratoriumpersoneel en skoonmakers, almal wat ons met soveel menslikheid en empatie behandel. Saal 20 voel later soos huis.
Vanweë die chemoterapie en die gereelde gebraak begin Jase se sluk brand, en selfs sy boude. Soos kleintyd moet ek my 18-jarige seun salfies smeer. Dit breek my hart.
Ons maak smoothies van jogurt, groente en gemmer. Jase leer tolletjiebrei en ek brei kindermusse vir kankerpasiëntjies, en groot blokke vir ’n mat. Paulus se woorde in Romeine 8:28 dra my: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.”
Ná die derde chemoterapie-sessie volg ’n MRI-skandering. En die dokters verklaar: “Dis ’n wonderwerk. Die kanker is in remissie.”
Ja! Want ons God is in beheer. Dis presies wat ons van Dag Een af van Hom gevra het. Alle eer aan ons hemelse Vader vir sy groot genade.
Die dokters bly versigtig-optimisties, en daarom moet Jase die chemoterapie-sessies voltooi en weer ’n beenmurgbiopsie ondergaan. Nog ’n operasie volg, dié keer om die stents uit sy niere te verwyder.
Psalm 139 se belofte word vervul
Toe sy niere weer 100% funksioneer, vertel ek vir die uroloog dat die Here dit in Psalm 139:13 beloof: “U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.”
En die uroloog sê: “Wat ’n getuienis!”
Jase is oneindig dapper toe die beenmurgbiopsie sonder verdowing uitgevoer word. Tienuur daardie aand kom sê ’n verpleër: “Die dokter het laat weet die beenmurg-uitslae is ‘skoon’. Julle kan nou rustig slaap.” Dankie, Here!
Ten spyte hiervan reken die dokters dat ’n beenmurg-oorplanting steeds nodig is, maar die onkoloog stel voor dat ons ná die ses moeilike maande eers ’n rukkie moet wegbreek.
Ons ry Hartenbos toe. Ons Kaapse vriende kom kuier, maar ons is slegte geselskap. Die ses maande agter ons en die malle rit wat nog voorlê maal deur ons gemoed.
Maar ’n skielike oproep verander alles: Ons moet vroeër terugvlieg vir ’n PET-skandering. Dié deurdringende weefseltoets bevestig dat Jase heeltemal “skoon” is. ’n Beenmurgoorplanting is nou oorbodig. Voortaan sal gereelde bloedtoetse die pad vorentoe aandui.
Prys die Here! Hy doen nooit halwe werk nie.
Jase se kanker is nou reeds nege jaar lank in remissie. Getrou aan sy aard het hy begin studeer nog voordat hy heeltemal gesond verklaar is. Hy het ’n goeie werk en hy studeer steeds.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.