DEUR ELIZE HARMSE
Daar het reeds byna vier jaar verloop sedert my aanvanklike diagnose met Parkinson se siekte, en steeds gaan dit élke dag beter met my.
Ek het in Maart 2020 van God se genade getuig, maar ek kan nie anders as om weer God se lof te besing nie.
Ek het gedurende September 2021 weer my neuroloog gaan besoek. Toe ek instap, vra hy: “Wat doen jy hier?” Toe ek antwoord dat ek net daar is om aan hom te wys hoe goed ek voel en lyk sedert ek met sy behadeling begin het, was hy verstom. Hy het gesê ek lyk uitstekend en hy het nog nooit ‘n pasiënt gehad wat so goed op die medikasie reageer nie. Hy het selfs terug geblaai in my lêer om seker te maak dat hy my inderdaad met Parkinson se siekte gediagnoseer het!
Toe ek die neuroloog bedank dat hy en sy behandeling (medikasie) my genees het van Parkinson se siekte, was sy antwoord: “Dis nie ek óf my medikasie wat jou genees het nie, maar God, jul gebede en geloof.”
Die enigste simptome van Parkinsons wat ek ondervind, is dat ek kleiner as normaalweg skryf en sagter praat. Dis werklik ’n wonderwerk, want voorheen kon ek nie eet nie. Ek kon myself ook nie aan- of uittrek nie. Ek kon basies niks vir myself doen nie. Ek kon skaars praat! En ek kon ook nie meer skryf nie. Ek was totaal en al afhanklik van my kinders en kleinkinders vir oorlewing.
Ek was gefrustreerd en het vernederd gevoel. Ek het gevoel dat ek ’n oorlas is, en ek het baie gehuil.
Ek weet dat níks by God onmoontlik is nie. Dat \’n ongeneeslike siekte soos Parkinsons vir Hom dieselfde is as wat \’n verkoue vir ons is.
Met God aan my sy, het ek geen vrees nie.
- Elize Harmse is ’n administrasie-assistent by ’n hardewarewinkel in Middelburg.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.