My twee seuntjies speel ’n selfuitgedinkte speletjie in ons kar op pad skool toe: Hulle kyk wie ’n nommerplaat met die laagste getal op kan raaksien. Die meeste oggende ry ons verby ’n wit bakkie met die nommer CBS 6. Dié kom altyd van voor af en dit het al ’n gebruik geword dat die een wat hom raaksien dadelik uitroep: “Daar’s hy!”
In die oggendspitsverkeer sorg die wit bakkie met die CBS 6-nommerplaat vir ons klein vreugde, sonder dat daardie bestuurder dit ooit weet.
Daar kom oggende wat ons nie die bakkie sien nie. Dan spekuleer almal: “Is hy met verlof?” Of: “Het hy verslaap?” Of: “Werk die man dalk vandag êrens anders?”
LEES OOK: Die Ligbron wat ons voed
Ek wonder soms wat die bestuurder van CBS 6 sou dink as hy moet weet hoeveel vreugde hy soggens aan twee seuntjies en hul ma besorg. Hy is tog bloot op pad werk toe, in sy eie gedagtes versonke. Dalk is hy dan besig om sy dag te beplan, of om saam te sing met ’n liedjie wat oor die bakkie se radio blêr.
’n Bron van hoop
Hierdie eenvoudige oggendvreugde het my laat dink aan ons lewe as gelowiges. Ons is dikwels intens besig met ons eie dinge – ons beroep, ons bekommernisse, ons gewone roetine – en dan vergeet ons maklik dat daar mense is wat ons dophou. Nie noodwendig met ’n kritiese oog nie, maar dalk met ’n soekende hart. Daardie mense kyk hoe ons optree, hoe ons reageer, hoe ons leef. En sonder dat ons dit besef, word ons vir hulle ’n bron van hoop. Of nie.
Die skrywer van 1 Petrus 3:15 herinner ons hieraan: “Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking vra oor die hoop wat in julle leef.”
Hierdie hoop is nie iets wat ons hoef te beskryf of te verduidelik nie; dis iets wat ons doodgewoon uitleef. Die apostel Jakobus stel dit so mooi, en so onomwonde: “Wat baat dit, my broers, as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie dade nie? Dié geloof kan hom tog nie verlos nie? So is geloof alleen, as dit nie op dade uitloop nie, dood” (Jak 2:14, 17).
Nee, die doen van goeie dade is nie ’n voorvereiste vir ons verlossing nie, maar dis die taal waarin ons geloof hoorbaar en sigbaar word. Dit is die manier waarop ons die wêreld wys dat Christus in ons leef. Ons doen en late is die venster waardeur ander die hoop in ons kan raaksien. En dikwels is dit juis in die sogenaamde kleiner dinge waarneembaar: ’n glimlag vir ’n kassier; ’n sagte woord vir ’n kollega; ’n stil gebed vir iemand wat swaarkry.
Want ja, daar is altyd iemand wat kyk. Iemand wat hoop nodig het, en liefde. Iemand wat na Christus verlang. Ons weet nie wie dit is nie, maar die Here weet. En Hy stuur ons oor daardie mens se pad en gebruik ons sonder dat ons dit agterkom.
Vir die bestuurder van die wit bakkie isCBS 6 bloot ’n registrasienommer, maar vir twee seuntjies en hul mamma wat hulle vroegoggend in Mosselbaai se spitsverkeer bevind, is dit veel meer. Dis ’n verwagting wat beantwoord word, ’n stukkie hoop wat nie beskaam nie, ’n flentertjie vreugde wat die dag sy eerste kleur gee.
Mag ons elke dag leef met die wete dat ons draers van hoop is. Dat ons ’n lig is, meestal sonder dat ons dit weet, vir ’n mens wat daarvoor op die uitkyk is.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.




















