Ek het die afgelope jaar etlike gesprekke met verskillende mense gehad wat sê hulle voel so ’n bietjie “tussenin”. Die prentjie wat dan by my opkom, is dié van ’n plastiekhanger.
Ek het hierdie beeld op ’n keer by die opening van ’n redenaarskompetisie gebruik. Openbare redevoering handel immers oor die balans tussen wat ons sê en hoe ons dit sê. Dit word deur die hanger se twee verste punte verteenwoordig. In ’n wêreld waar die perfekte toespraak nou al byna so kunsmatig en plastiekerig soos so ’n hanger geword het, word die oop tussenin-gedeelte al hoe belangriker.
Daarin lê die geskenk wat die proses jou bied. Dis waar jy ure lank met die inhoud werk, en die inhoud met jou. ’n Toespraak wat maar enkele minute duur, het ’n lang storie wat daaragter lê. Ek wens dikwels ek kan meer kere dáárdie storie hoor, want ek sal graag wil weet hoe die spreker by die slotsom in die toespraak uitgekom het.
Ek voel dikwels asof die grootste deel van die lewe ook maar so “tussenin” plaasvind. So in die gewone gang van elke dag, so met die elkedagse dinge waarmee ons stoei en sukkel, terwyl ons in die proses gevorm word.
Ek sê gereeld dat die Here nie ’n praatjie voorberei nie, Hy berei ’n lewe voor. En daardie lewe vind dalk juis plaas in dié tye waar daar skynbaar niks gebeur nie – in die stilte, wat eintlik ’n geskenk is, en in die kere wat jy wag, wat eintlik genadetyd is. En dit gebeur waar daar nie noodwendig doringbosse brand nie, of waar die een ná die ander hoogtepunt tot nog ’n bergtop-belewenis lei nie.
Ons praat bloot te min oor daardie “tussenin”, en oor die feit dat ons nie gemaak is om deurentyd hoogtepunte te beleef nie. Ons is doodgewoon nie biologies of emosioneel of geestelik daarvoor toegerus nie. Ons liggaam kan eenvoudig nie funksioneer in ’n deurlopende ekstase van adrenalien en hartkloppings en hoendervel nie. Ons sal uitbrand!
Die Franse komponis Claude Debussy het eens gesê: “Musiek is die ruimte tussen die note.” Dis juis die stiltes wat die struktuur skep en die vloei verskaf. Dit is in die pouses waar dinge duideliker begin word, anders sou die nimmereindigende klanke na ’n chaotiese geraas geklink het.
Ek dink bogenoemde beskryf iets van ons verhouding met God. Alles in sy skepping is met ’n natuurlike ritme geskape, iets wat die Bybelboek Prediker “tye” noem. Daar is tye van werk en rus, van kom en gaan, van hoog en laag, van naby en ver. En daar is ’n seëning in elkeen van hierdie seisoene teenwoordig, gereed om ontdek te word. En in besonder in die tussenin-tye van stilte en wag.
My vriendin Faith het op ’n keer gesê: “Vrugte wat buite hul seisoen te koop is, kom teen ’n prys; om dinge ryp te druk, kos ons insgelyks iets.”
Aan die een kant wil ek nie “onder die Here uithardloop” en dan sonder Hom by ’n plek aankom nie. Aan die ander kant is ’n wagtyd alles behalwe passief, lui of leeg. Ek wil dus ook nie onnodig stilhou of stagneer waar ek ’n oop ruimte vermoed nie. Nee, ek bly soekend na geleenthede om sout en lig te wees. As ek by God kan aansluit in die werk waarmee Hy besig is, wil ek nie ’n oomblik daarvan misloop nie.
Die Psalmskrywer het die porsie goeie moed wat dit verg om dapper te wag eintlik so perfek in die middel van ons vertroue in God kom plaas. Lees maar Psalm 27:14: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!”
En as dit waarmee God besig is ’n bietjie langer duur as wat ek gehoop of verwag het, is dit dalk juis omdat Hy weet watter voorbereiding ek vir die volgende seisoen nodig het.




















