DEUR SIMONE GAUCHE
“Mamma!” skree my seuntjie, “ek wil iets in jou oor fluister!”
Ek buk af; hy maak ’n bakkie met sy handjies en druk dit teen my oor.
Ek luister na sy fluisterstem: “Ek wil wegkruipertjie speel.”
Ek lag saam oor sy lawwigheid, en ons speel lekker wegkruipertjie.
Later dié dag kry ek ’n stemnota van my man se foon. Dis weer my seuntjie se sagte stemmetjie: “Mamma, ek is lief vir jou. Sien jou nou-nou.”
Ek glimlag in my hart, want ek weet hy sit en speel in die vertrek langsaan terwyl ek skottelgoed was.
Om beter te kan hoor, my kind
’n Jong kind se stem het aanvanklik net een volume-moontlikheid – skree. Hulle skree as hulle opgewonde is; hulle skree as hulle kwaad is; hulle skree as hulle gelukkig is; hulle skree as hulle hartseer is en hulle skree as hulle bang is. Maar my seuntjie het pas geleer hy kan ook fluister.
Die volgende oggend sit ons almal op die bed; dis die ideale geleentheid om die kinders te leer om telefoontjie te speel. Ek fluister “waatlemoen” in my man se oor, en hy fluister vir my jongste.
Uiteindelik bereik die boodskap my oudste se ore, en hy skree: “Eet lemoen!”
Ek skud my kop. “Kom ons probeer weer.”
LEES OOK: My verwerking van Psalm 19
Eers teen die derde rondte hoor hy “waatlemoen”. Opgewonde klap hy hande vir homself, en hy besluit hy geniet dié speletjie.
Die tweede rondte verloop egter op dieselfde trant.
Ons speel nog ’n paar rondtes. Sy voorkop keep in ’n diep frons, hy word stil, luister aandagtig. Hy verstaan die speletjie ál beter, en met elke rondte hoor hy ook beter.
Die Gees se stem
Daardie aand, toe alles om my rustig raak, dink ek: Ons het ook geleer om stil te word om God se stem te probeer hoor. Want Hy skree nie; dikwels fluister sy Gees.
As ons Hom reg wil hoor, moet ons hart op Hom gerig wees. En ons ore gewoond aan die fluistering. Dis amper soos om ’n radio op die regte golflengte in te stel.
As ons nie reg ingestel is nie, hoor ons Hom nie wanneer Hy ons die regte pad aanwys nie.
Ek het eendag in ’n kunsmuseum rondgedwaal en ’n kunswerk gesien wat ’n groot indruk op my gemaak het: Die kunstenaar het ’n “toring van Babel” gebou – uit ’n verskeidenheid radio’s. Al die radio’s was gelyktydig aangeskakel en elkeen het op sy eie golflengte geblêr. Van die radio’s het slegs gesuis, of die een of ander onontsyferbare geraas gemaak. Wat ’n kakofonie!
Deesdae dink ek baie aan daardie dag. Veral wanneer die lewe hard om my raas. En ek nie raad weet met die lawaai in my binneste nie.
Dan weet ek nie hoe ek ooit weer God se stem sal hoor nie, en of ek dit hoegenaamd sal herken nie.
Om God se stem te hoor, te midde van soveel ander stemme, is nie ’n ingebore vaardigheid nie. Dit verg oefening, toewyding. Nee, die stemme om en in ons word nooit sagter nie, maar met verloop van tyd leer ons om die Gees se fluisteringe duideliker te hoor.
Hoor hier!
Raak stil en hoor ook nou, hier aan die begin van die jaar, Jesus se trooswoorde: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. Ek en die Vader is een” (Joh 10:27-30).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.