Hy sê hy probeer om soos Jesus na mense toe te leef. Hy loop waar hy wil wees, sê hy, soos Jesus geloop het. En, soos Jesus, reik hy en sy vriende na buitestanders uit.
Deur Conette le Roux
Pierre du Plessis is beslis nie jou gewone dominee nie. En selfs nie die stereotipiese soort kerkplanter nie.
Hoor dan net sy storie: Hy het modeontwerp geswot; hy het reeds ontwerpe vir Soviet Jeans gedoen. Tot heel onlangs toe het hy as stilis en kunsredakteur in die advertensiebedryf gewerk.
Onder sy T-hemp se regtermou loer daar ’n tatoeëermerk uit. Dit lyk soos ’n kunswerk.
Pierre is 37 jaar oud. Hy vertel hoe hy en sy gesin – sy vrou, Rialette (41), en die kinders, Noa (8) en Luther (7) – ’n paar jaar gelede die veilige en gerieflike woonbuurt waar hulle tuis was, vir Sunnyside verruil het. En hoe hy deesdae in sy omgewing loop waar hy wil wees. Soos Jesus geloop het.
Hy vertel ook oor hoe 3rdplace tot stand gekom het. “Ek en my vrou en ’n klompie vriende wou ’n kreatiewe geloofsgemeenskap skep. ’n Plek en ’n omgewing waar mense gemaklik kon voel. Juis ook dié wat nie sommer in die kerk kom nie. Of wat nie deel van ’n gemeenskap is nie. Buitestanders, dus. Die tipiese ‘ander’ …”
Dit alles was so tien jaar gelede. Vandag sê hy oor 3rdplace: “Dit is ’n paradoks: Dit is baie informeel en gemaklik, maar steeds diep en ernstig – wel, ons dink so!
“Ons wil ruimte skep vir vrae, twyfel, kreatiwiteit. Ons wil brood breek en wyn skink vir ’n wêreld wat honger en dors is. Ons deel graag ons stories met mekaar. En ons probeer om vriendskappe te bou – wat nie altyd maklik is nie. Mense bly maar mense …”
Kommunikasie
Pierre is in hart en niere ’n kommunikeerder. Hy sê: “Een label wat ek graag dra, is dié van ’n onderwyser, van ’n outydse prediker. Ek probeer om sin te maak uit dit wat die lewe na ons kant toe gooi, en dan onderrig en verkondig ek dié insigte, sodat mense beter mense kan wees.
“Ek probeer om na mense toe te leef; ek probeer altyd om iets wat minder mooi is, mooi te maak. Om dinge heel te maak. Ek dink dit is wat Jesus gedoen het: Hy het ons kom leer hoe om mens te wees, en om só ons wêreld mooi te maak en heel te maak.”
Pierre wend sy kommunikasievaardighede ook op ’n breër terrein aan. Sy werk by 3rdplace hou hom nie voltyds besig nie, en daarom kry hy kans om by sy en Rialette se onderneming, Be Brave, praatjies vir korporatiewe kliënte aan te bied. Hier gesels hy hoofsaaklik oor tendense en innovering, “en hoe om in ’n mal wêreld te werk en te leef”.
Rialette is ’n leefstylafrigter wat spesialiseer in die identifisering en ontwikkeling van mense se sterk punte, ten bate van die maatskappy of onderneming waar hulle werk.
Op pad …
Pierre stap graag. Hieroor sê hy: “As jy in jou omgewing rond stap, leer jy dit op ’n ander manier ken – die reuke, die klanke. Ons is tog só opgesluit in ons huise, ons estates, ons motors en kantore. Baie ver verwyder van wat aangaan in ons stede en in ons land.
“Hier help voetslaan jou. Dit sit jou liggaam ’n slag weer op die aarde.”
En hy hou van skryf. Sy eerste boek, Jesus ruik na mirre en stof, het pas by Lux Verbi verskyn. Pierre se kennis oor antieke kulture wat hy tydens sy teologiese studies by Unisa opgedoen het, word hier op ’n toeganklike wyse aangebied. Die bekende prof Stephan Joubert sê oor dié boek: “Dit bied ’n kreatiewe perspektief op Jesus en op die lewe self.”
Pierre vertel hoe hy in sy vroeë twintigs was toe Jesus sy lewe soos handomkeer verander het. “Ek het besluit om die waarheid te soek … net om te moes agterkom dat die waarheid eintlik ’n Persoon is.”
Daarom is dit sy droom dat sy boek ook ander mense aan Jesus sal voorstel. “Ek hoop dat Jesus nader aan jou sal wees nadat jy hierdie boek gelees het. Dat jy Hom dan ’n bietjie beter sal ken, sodat jy kan sien hoe naby Hy die heeltyd aan jou was. Dan hoop ek jy begin ook om soos Hy te ruik, sodat ook jý ’n wonderlike reuk vir die wêreld sal wees.”
Pierre sê: Leef só nader aan mense …
- Maak plek aan jou tafel vir buitestanders, skeptiese mense, arm mense, enkelouers. Vir die sogenaamde moeilike mense, vir eenvoudiges.
- Onthou dat om begrip vir ’n ander mens se storie te hê, ook ’n uitdrukking van Jesus-liefde is.
- Ons kan iets by die ou Ierse monnike leer. Hulle het net om een rede hulle vas gebreek: wanneer daar vreemdelinge by die klooster opgedaag het. Gasvryheid was vir hulle belangriker as vroomheid.
- Jy het vier soorte mense in jou lewe nodig: ’n mentor wat voor jou uit loop; ’n goeie vriend wat agter jou aan loop; ’n dissipel wat aan jou sy is; en ’n vriend wat nie soos jy lyk nie.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.