Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Om op te gee is nie ’n opsie nie,’ sê dié pleegma van vyf seuns

DEUR CONETTE LE ROUX; FOTO: HENNIE VAN LOGGERENBERG / OCTA5

“Die enigste ding wat my krag gee en my toelaat om my kinders suksesvol groot te maak in armoede is gebed.”

LEES OOK: ‘Kos en geld is nie alles nie – liefde is,’ sê pleegma

Só vertel die 41-jarige Emily Punze, ’n sekuriteitswag van Potchefstroom, wat drie biologiese én twee pleegseuns as enkelma grootmaak. Emily se eerste man is oorlede en haar tweede huwelik was moeilik. Haar laaste man het haar later vir ’n ander vrou verlaat.

Maar dié vrou volhard. “Om op te gee is nie ’n opsie nie. Ná baie swaarkry is ek steeds alive and kicking. Ek wil graag goed doen vir my kinders,” sê Emily.

Die feit dat Emily goeie, liefdevolle ouers gehad het gee haar steeds krag om voort te gaan. Hoewel haar ouers in ’n stadium vir ses jaar uitmekaar was, het ook dít vir haar iets geleer. “Ek moes my twee jonger sussies versorg en het die bure se wasgoed vir kosgeld gewas. Ek het ’n hart wat ander wil help. Die versorging vir my sussies het my passie vir pleegsorg geïnspireer.”

Emily het vir die fotosessie* opgedaag nadat sy nagskof gewerk het. “Regdeur die dag het sy die ander vroue aangemoedig terwyl hulle mooigemaak is. Sy moes so moeg gewees het, maar sy het steeds aangebied om te help waar sy kan. Haar dankbaarheid maak ’n mens nederig,” vertel Louise Conradie, medestigter van Mosaic.

Vir Kersfees sien Emily uit na die spesiale tyd saam met haar kinders. “Dit is so belangrik dat ons ons kinders laat verstaan van Jesus se geboorte en dat Hy gekom het en gesterf het as hoeksteen van ons geloof.”

Volgens Emily probeer sy ook dankbaarheid by haar kinders kweek en daarom deel hulle altyd hulle Kersfeesmiddagete met ’n behoeftige.

“Bid altyd. Hou uit. God is daar! En volg jou drome,” is die boodskap wat Emily met ander wil deel.

*Mosaic, ’n nie-winsgewende organisasie wat pleegma’s ondersteun, en fotograaf Hennie van Loggerenberg van Octa5 en sy vrou Katie het vroeër vanjaar (2022) Mosaic-pleegma’s regoor Suid-Afrika bederf deur hulle mooi te maak en gestileerde foto’s (vir die meeste van hulle ’n eerste) van elkeen te neem. Dié foto’s pryk nou in ’n koffietafelboek genaamd Hope lives here.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF