Ons sit op die rusbank, reg om uit die Bybel te begin lees. Ek wil die storie lees van die ryk jong man wat na Jesus toe kom en Hom vra wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry (Matt 19:16-30). As inleiding vra ek my twee seuntjies wat húlle dink ’n mens moet doen om hemel toe te gaan.
Ek verwag antwoorde soos: soet wees; luister vir Pappa en Mamma; doen wat in die Bybel staan. En ek hou my gereed om aan hulle te verduidelik dat ’n mens niks kan doen om jou plek in die hemel te verdien nie.
Maar toe verras my jongste my weer toe hy uitroep, hard, vol oortuiging: “Doodgaan!”
Ek kon nie help om te lag nie. Hy is beslis nie verkeerd nie. Maar hy klink heel opgewek daaroor, so asof hy daarna uitsien …
Later dink ek: Dis darem baie interessant dat dit vir so ’n klein lyfie so maklik is om te aanvaar dat die dood deel van die lewe is. Hoe moeilik verstaan grootmense dit nie!
Grootskaalse verandering; dood; opstanding. Dis die patroon van die lewe, en dié siklus herhaal hom deurgaans in ons bestaan. Jesus sê: “As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in” (Joh 12:24).
Ons baklei egter teen die dood. Ons weet in ons kop dat opstanding en vernuwing die uiteindelike doel is, en dat dood en verlies die pad daarheen is, maar dis vir ons moeilik om dit in ons hart te aanvaar. Dié proses moet hom deurgaans in ons lewe herhaal. Ons moet gereeld die spreekwoordelike “klein dode” sterf ten einde ’n nuwe mens te word wat meer soos Christus is. Dood is die noodsaaklike prys wat ons moet betaal om weer op te staan.
Jesus het dit duidelik gestel dat daar geen ander manier is nie. Hy het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou” (Luk 9:23-24).
Ons is huiwerig om oor die dood te praat, al sien ons dit oral om ons. Niks wat lewe, sal vir altyd in die huidige vorm voortbestaan nie. Plante blom, en die blomme verlep en gaan dood. Dierespesies sterf uit. Selfs die son, wat lewe gee, is besig om stadig dood te gaan.
’n Mens sou dus dink dat Christene die dood met groter vrede sou aanvaar, aangesien Jesus se lyding en dood so sigbaar was. Juis met sy dood moes ons besef het dat die dood deel is van die lewe op aarde. Dat “dood” nie die teenoorgestelde van “lewe” is, maar die voortsetting daarvan. Christene glo in elk geval dat die dood oorwin is en dat dit bloot ’n deurgang na die ewigheid is. Ja, ons weet daar is ’n nuwe lewe anderkant die dood.
Daarom hoef ons nie die dood te vrees nie; dis ’n noodsaaklike proses waarmee ons lewe op aarde afgesluit word. En die nuwe lewe begin.
Hoor Paulus se versekering aan die gelowiges: “… dit het gebeur sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe (2 Kor 1:9).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.