Ons sit en speel op die mat. Uit die bloute sê my seuntjie: “Mamma, jy haal verkeerd asem!”
Niemand het nog ooit vir my gesê ek haal nie reg asem nie. Asemhaling is immers noodsaaklik vir oorlewing, en ek haal my hele lewe lank (reg) asem!
Ek vra hom hoekom hy so sê.
Toe wys hy my hoe ’n mens nou éintlik moet asemhaal: Hy trek sy asem deur sy neus in, diep. Ek sien hoe sy borskassie bult. Dan blaas hy die lug met ’n harde geluid deur sy mond uit.
Skielik verstaan ek sy opmerking. Hulle het seker onlangs asemhalingsoefeninge by die skool geleer.
Dit klink onsinnig
Dit het my laat dink aan ’n groepie vissermanne wat een nag met die boot uit is. Soos dit soms die geval is, was dit ’n slegte nag en die geluk was nie aan hul kant nie. Die hele nag deur het hulle probeer, maar die vis het weggebly. Moedeloos en moeg gesukkel hoor hulle eensklaps ’n stem. Iemand wat op die strand staan en op hulle skree: “Gooi die net aan die ander kant uit!”
Dit klink onsinnig. Hulle ken die see. Maar hulle sal probeer, daar gaan tog nie veel aan nie …
Toe, wonder bo wonder, word die net swáár. Dis skielik so vol dat hulle dit nie behoorlik gesleep kry nie. En toe herken een van die vissermanne die Man op die strand.
LEES MEER: Jou brose, kwesbare liggaam
Die beste stuurman …
Ek dink aan take wat ek gereeld by my werk verrig, soos om ’n wond toe te werk of gips aan te sit. Dis dinge wat ek byna in my slaap kan doen.
Hoe sal dit wees, wonder ek, as iemand op my begin skree? Een wat sê ek moet dit eerder anders doen? Dink self: Sal jy met jou graad 9-rekeningkunde-kennis vir ’n rekenmeester wil vertel hoe om die boeke te laat klop? Sal jy ’n verkeersbeampte aanvat oor die manier waarop hy of sy die spitsverkeer reël? Vir ’n ervare skoonmaker hoe om die besem vas te hou?
“Die beste stuurman staan aan wal,” lui die ou spreuk. Kan jy jou indink hoe groot die vissermanne se aanvanklike verontwaardiging moes wees toe ’n buitestander hulle wou leer hoe om te werk te gaan?
Ek dink soms aan hoe anders dinge kon verloop het as die dissipels te trots was om gehoor te gee aan die raad wat hulle van die kant gekry het. Hulle het Jesus nie onmiddellik herken nie; hulle moes eers deur Hom verras word voordat hul oë kon oopgaan. Toe moes hulle Hom vertrou.
God op die kantlyn
God word dikwels, ironies genoeg, in die onreëlmatige gevind, in die uitsonderings op die reël. Hy verras ons gereeld, Hy betrap ons onkant. Dan moet ons sorg dat ons ego eenkant toe staan. Ons moet ons toelaat om deur Hom “uitgevang” te word, en om Hom te vertrou.
Sulke dinge gebeur juis wanneer ons dit nie verwag nie, wanneer ons nie daarvoor gereed is nie – in ’n onbewaakte oomblik, deur ’n onwaarskynlike mens, ’n vreemdklinkende idee, ’n onortodokse situasie.
Hou jou dus gereed om God op die kantlyn te ontmoet, en sorg dat jy aangetrek is vir die feesmaal waarheen Hy jou nooi.
* Hoor hoe word die verhaal van die wonderlike visvangs deur die Evangelieskrywer oorvertel: “Hy sê toe vir hulle: ‘Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.’ Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie. Toe hulle aan land kom, sien hulle ’n vuur brand en ’n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. Jesus sê toe vir hulle: ‘Bring van die vis wat julle nou net gevang het.’” (Joh 21:6, 9-10).
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.