Ek het onlangs Karin Coetzee se getuienis op LiG se webtuiste gelees.
Dit het my diep geraak, want ook ek moes in 2021 deur diep waters gaan ná ’n beroerte. Dit was so drie weke voor my 28ste verjaardag, ek was 29 weke swanger, en my bloeddruk het gereeld die hoogte in geskiet.
Daardie dag was ek en my man van Lichtenburg af op pad Potchefstroom toe vir ’n doktersafspraak. My bloeddruk was reeds hoog in die spreekkamer, maar ek is huis toe gestuur.
Ek en my man wou my pa, wat in Potchefstroom woon, gaan groet. Ons het pas by hom aangekom toe ek die beroerte kry. My man het besef iets ernstigs is verkeerd en hy het my dadelik in die kar gehelp en hospitaal toe gejaag.
Ek het ongeveer ’n week in die hoësorgeenheid deurgebring, waarna ’n noodkeisersnee op my uitgevoer moes word omdat my bloeddruk deurentyd hoog gebly het.
So is ons baba gebore … maar hy is toe net ’n dag vir ons geleen.
Dit was en is steeds ’n seer wat ’n mens vir niemand anders kan beskryf nie. My lyf en siel was só moeg.
‘Al wat vir my man oorgebly het …’
Die werklike trauma het my eers later getref, toe ek al by die huis was. My man was in hierdie tyd my steunpilaar. As dit nie vir hom was nie, weet ek nie hoe ek dit sou kon verwerk nie.
My beroerte en ons verlies was vir hom net so swaar soos vir my, maar hy is ’n besonder sterk mens en hy het my ondersteun soos niemand anders sou kon nie.
Ons het gedink dat ons ’n dogtertjie verwag, en dit was ’n groot verrassing toe daar vir ons ’n seun gebore is. My man het egter nie die geleentheid gehad om hom vas te hou terwyl hy nog geleef het nie. Hy moes van sy werk af jaag om by die hospitaal te kom nadat die hospitaalpersoneel hom gebel het. Dit was ongelukkig te laat.
Al wat vir hom oorgebly het, was om ons seun te groet. Hy praat nie daaroor nie, maar ek weet hy het ook seer.
My ma en my pa het my ook wonderlik ondersteun. My pa het van Potchefstroom af gekom om my in Lichtenburg te kom help terwyl my man by die werk was. My ma was toe in die Kaap en kon ongelukkig nie na my toe kom nie.
‘Die Here het my gedra’
Spraak- en fisioterapie was toe my voorland; ek moes weer leer om behoorlik te praat en te beweeg. Ek is baie dankbaar teenoor almal vir die hulp wat ek ontvang het.
Die grootste hulp en troos het van die Here gekom. Hy het my die moed en die deursettingsvermoë gegee om te kom tot waar ek vandag is.
Ek is trots op die vordering wat ek gemaak het. Byna alles funksioneer weer normaal, hoewel ek soms sukkel om behoorlik te praat. Die Here het my gespaar vir my man en ons dogtertjie, Hy het my weer laat léwe.
My geloof het in die hersteltyd behoorlik wortelgeskiet en gegroei. Die herstelproses was niks minder nie as ’n wonderwerk. As ek terugdink aan hoe ek gelyk het pas ná die beroerte, en ek sien myself nou in die spieël, kan ek dit byna nie glo nie.
Daar was dae toe ek mismoedig was en gedink het dat ek nooit weer behoorlik sou kon loop of weer so baie sou kon praat soos altyd nie. Die Here het my laat vasstaan. Hy het my in sy arms gedra. Soveel mense, regoor die wêreld, het vir my gebid, en gebed is kragtig.
Spreuke 3:5 is ’n teksvers wat vir my die meeste beteken het gedurende my herstel: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” Dis iets wat ek moes leer doen.
‘Ek het geleer …’
Ek het die afgelope twee jaar op ’n geestelike vlak sóveel geleer en gegroei. Ek het besef dat die Here se planne nie altyd verloop soos wat ’n mens wil hê dit moet nie, maar dat dit ongetwyfeld die beste vir jou is.
Ek het ook geleer dat ’n mens bloot moet vra, uit jou hart uit vra, en Hy sal voorsien.
Ek het geleer dat Hy my liefhet, en dat ek op hom kan staatmaak, ongeag wat ek in my lewe moet hanteer.
Ek wil vir mense sê wat ’n moeilike pad moet stap: Glo in jouself. En vertrou op die Here. Jy is soveel sterker wanneer jy die pad saam met Hom aandurf as wat jy jou ooit kan indink.
Moet nooit ophou probeer nie. Jy kán deur alles kom. Jou lewenstryd, wat dit ook al mag wees, verloop in fases. Hanteer dit soos dit kom. Leef een dag op ’n slag. Rus as jy voel jy moet rus, want jy is net ’n mens. Môre probeer jy weer.
- Annelize Olivier (30) woon in Lichtenburg, Noordwes. Sy is ’n tuisbly-mamma vir Anne-Mei (6), terwyl haar man Jacques (30) ’n toesighouer is by ’n plaaslike graanfabriek.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.