DEUR CONETTE LE ROUX
“Ek fokus op Jesus Christus. Dis my enigste hoop en al hoe ek elke dag kan aangaan. Ashley doen dieselfde,” het Lynn Blignaut, die ma van Ashley Oosthuizen wat tans ’n lewenslange vonnis vir dwelmhandel in Thailand uitdien, gisteraand (23 Februarie) gesê.
Die 22-jarige Ashley is reeds twee jaar lank in aanhouding in Thailand nadat sy glo ’n pakkie met dwelms op 8 Oktober 2020 in ontvangs geneem het by haar werkplek, die restaurant “Hot in the biscuit”. Dié pakkie is glo deur haar kêrel aan ’n vriend gestuur, luidens mediaberigte. Ashley het ontken dat sy geweet het wat in die pakkie was.
Volgens Lynn, wat in George woon, het hulle prokureur reeds hofstukke vir ’n appèl in Thailand ingedien en kan die appèlproses tussen agt en 14 maande neem.
“Gelukkig is twee en ’n half maande darem reeds verby. Ek hou vas aan die feit dat niks te groot is vir God nie en dat Hy steeds in beheer is. Niks is onmoontlik vir Hom nie. Ons bid vir God se guns dat die proses vinniger sal gebeur,” sê Lynn.
Intussen kon Lynn op 18 Februarie na byna twee maande weer via ’n WhatsApp-video-oproep met haar dogter praat. Sy vertel: “Toe ons mekaar sien het ons net gelag en gehuil. Dit was net te amazing om haar stem weer te hoor en om haar te kon sien.”
LEES OOK: Prostitusie-bediening: ‘God verander straatvroue se hooplose lewe op wonderbaarlike maniere’
Volgens Lynn het Ashley “deur God se genade onder omstandighede goed gelyk” en dat sy voortaan een maal per maand vir 10 minute met haar kan gesels.
Haar bekommernisse het sy vir die Here gegee, vertel Lynn.
“Soos ek vanaand hier sit, is daar nie iets wat my regtig bekommer nie omdat al my vertroue op die Here is. Ek het al my bekommernisse by Hom neergelê, want dis al wat ek nou kan doen,” sê Lynn, die eienaar van ’n besigheid wat mediese toerusting verkoop en verhuur.
Lynn se enigste versoek is dat die publiek saam met haar sal bid vir Ashley omdat daar “krag in gebed” is. Sy is tans nog besig om ’n trustfonds op te rig vir donasies wat sal help met die regskostes.
Lynn vertel sy is verbaas oor die ondersteuning van die publiek wat Ashley kry. “Ek glo dit is hoe die Here ’n deur oopmaak. What was meant for evil He can turn into good. Dit is presies wat hier gebeur en ons prys die Here daarvoor.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.