Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ons groei is vir God belangriker as ons gemak,’ vertel vrou ná siektestryd

Die krag van God was en is en sal altyd daar wees. Soms sien ons dit nie raak nie, veral wanneer ons met seer en swaarkry gekonfronteer word. Maar Jesus het oorwin, en daarom sal ons ook oorwin.

In 2021 het my lewe soos handomkeer verander, ná ’n twee jaar lange stryd met my gesondheid. Dis dokters kon aanvanklik niks vind nie, maar oplaas is ek met TB in my heupbeen gediagnoseer. Dié heupbeen is in Oktober 2021 verwyder en ek moes ’n heupvervanging ondergaan.

Die herstelpad was uitdagend, en dit was dikwels ’n kwessie van een tree vorentoe en twee treë terug. Vier maande later moes ek weer geopereer word. Dit het nie goed gegaan nie en ek het met allerlei infeksies gesukkel.

Ook my gesin is deur diep waters: My man Koos moes noodgedwonge sy werk as langafstand-vragmotorbestuurder bedank om my by te staan, want ek kon weens die pyn niks meer alleen doen nie. Ons lewe het as ’t ware tot stilstand gekom. Daar was nie meer ’n inkomste nie, daar was niks om weer op die been te kon kom nie.

‘Ons kon sy stem duidelik hoor’

In daardie tyd het ek en Koos teruggedink aan die drome en visioene wat ons in 2019 gehad het: beelde van verwoesting in ons lewe, maar ook uiteindelike oorwinning. Ons het dit nie toe verstaan nie, maar in Oktober 2021 en die maande daarna het ons besef dat dit God is wat ons tot stilstand gebring het. Daar was dinge in ons lewe wat Hy wou regmaak sodat ons vir Hom kon vrug dra.

LEES OOK: ‘Ek was gereed om te gaan as dit sy wil was,’ vertel vrou ná haar hart 15 keer gaan staan

Toe ons uiteindelik stil geword het, het Hy begin praat. Ons kon sy stem duidelik hoor.

Ons het geleer die diep vallei in ons lewe was nodig, so seer soos dit was. En ons het opnuut besef God begewe of verlaat ons nooit.

Ons was ook diep geskok toe ons ontdek dat ’n mens God kan dien, maar Hom steeds nie ken vir wie en wat Hy is nie.

Ek en Koos moes bitter dinge deurmaak. Sommige dae het dit gevoel asof ons in ons probleme verdrink. Dan het die dood na ’n paradys gelyk, maar dit was dan dat God se kragtige hand deurgebreek het.

Met elke toets het ons Hom beter leer ken – ons Voorsiener in nood, ons Geneesheer in siekte, ons Heelmaker in gebrokenheid, ons Rigting en ons Raad in dwaling, ons Wysheid in dwaasheid, ons Openbaring in onkunde, ons Lig in duisternis, en ons Krag en Mag in swakheid.

Wanneer God besluit dis tyd om af te breek en van voor af te bou, kan niks in sy pad staan nie. Hy kom in sy grootheid en breek alles af wat nie binne sy wil is nie.

’n Totale, bonatuurlike ommekeer

As ek nou op alles terugkyk, sien ek inderdaad die talle terugslae, maar ek sien ook hoe God my elke keer opgetel het. Toe ons nie geweet het waar ons volgende stukkie brood vandaan sal kom nie, het Hy ons op ’n bonatuurlike wyse laat eet. God het ons uit ons vleeslikheid tot geestelikheid gelei.

Hy is eerder ingestel op ons vorming na sy beeld as met ons gemak. Hy beloof om saam met ons deur die diep valleie te stap. Hy sit saam met ons op die ashoop, en daar maak Hy ons vry.

In November 2022 het die Here ingetree en daar het ’n totale ommekeer in my gesondheid gekom: Die infeksie is op ’n bonatuurlike wye genees! Die dokters en verpleegpersoneel was verbaas en hulle het saam met ons gejuig.

Tans kom ek met ’n loopraam oor die weg terwyl ek op my heupvervanging wag. My liggaam is gereed vir dié operasie, en God het my vrygemaak van trauma en seer.

Ek en Koos moes leer om nie bitterheid te huisves nie, want God het dit so bestem dat ons dié pad loop. Hy wil in alles verheerlik word. Ons is sy lewende offers, en wanneer ons vir Hom “ja” sê, is Hy getrou. Hy maak alles tot niet wat ons teister en ons van ’n lewe in oorvloed weerhou.

Die Woord sê dat wanneer ons ’n ruk lank gely het, Hy ons as sy heilige nasie beskou. My woord aan ander is: Laat toe dat God se krag in jou werk, sodat dit op ’n natuurlike wyse kan deurskyn en sodat ander dit kan sien. Dis waarvoor ons hier is, dat God in en deur ons lewe verheerlik word. Ons word geroep om lewende bewyse van sy krag, genade en barmhartigheid te wees.

  • Yolandi Minnaar (36) en haar man Koos is 14 jaar lank getroud. Hulle woon in Mosselbaai met hul dogters Kelsey (14) en tweeling Tahlia en Berenice (8). Koos werk by ’n skeepvaartmaatskappy.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF