Ek is 40 jaar oud, ‘n enkelloper en in die huwelik-bedryf. My wêreld bestaan uit bruide, troues en alles wat mooi is daaraan. Op dié manier was ek reeds by sowat 170 troues betrokke. En telkens het ek besef hoe uniek elke mens se verhaal is.
By ’n troue sien jy inderdaad die lewe op sy mooiste. Jy voel egter soms ook die diepe, onderliggende hartseer by sommige sulke geleenthede aan.
Dis hartseer, ja, om agter te kom dat hierdie paartjie bloot trou omdat ander mense druk op hulle uitgeoefen het. Omdat hul verhouding nie volgens die samelewing se tydlyn verloop het nie.
Omdat daar ’n biologiese klok is wat tik … Maar die meeste van hierdie stories, so ver ek dit kan sien, eindig mooi: die stralende bruid in die pragtige wit rok voor die kansel. Dit maak my gelukkig.
Gelukkige enkelloper, ja, maar …
Elke troue herinner my egter ook aan my eie “status” as alleenloper, dat ek al lank vir my spesiale dag wag. En dié van my baie vriende wat in dieselfde bootjie as ek is.
Ons is deel van ’n groep mans en vroue wat ’n keuse gemaak het om vir die huweliksmaat wat God vir ons bestem het, te wag. Hierdie is soms ’n alleenpad – meer eensaam as wat baie getroude mense ooit sal besef.
Dikwels wonder ek oor die ongegronde aannames wat oor ons gemaak word. Die grappies waarna ons dikwels moet luister.
Dalk het dit tyd geword dat ons, die ongetroudes, ook ons getroude vriende en kennisse herinner aan wie en wat ons is. Hoe ons oor sake dink. Hier is ’n klompie opmerkings:
Só dink die enkelloper:
- Ja, ons loop ’n alleenpad en, ja, dis nie altyd ons eie keuse dat dit so moet wees nie. Dis dikwels eensaam en vol frustrasies.
- Ons glo dat God reeds vir ons ’n maat gekies het, en dat ons bloot op die regte tyd, God se tyd, moet wag. Ons glo dat indien ons Hom volg, ons by ons perfekte pasmaat sal uitkom. Ek weet van baie mense met pragtige verhale oor hoe God hulle bymekaar gebring het – maar ek glo dat al hierdie dinge binne die Vader se tyd gebeur. Ons glo dis ons verantwoordelikheid om na God se stem te luister en sy Groter Plan te gehoorsaam. Intussen doen ons wat Hy ons gee om te doen.
- Ons maak staat op ons vriende se begrip. Neem tog die tyd en vra jou enkellopende vriende uit oor hulle siening van hierdie seisoen waarin hulle hulleself bevind. Jy sal dalk net verstom staan oor die insig en wysheid waarmee hulle oor die onderwerp dink. Ons vra dat vriende ons en ons keuses sal respekteer, al verstaan hulle dit nie of al stem hulle nie noodwendig daarmee saam nie. Dat hulle sal ophou om dinge te sê soos “jy is oudmodies” of “jy is te geestelik” of – my gunsteling – “jou standaarde is te hoog”. Word gelowiges dan nie juis geroep om volgens “hoër standaarde” te leef nie? Moet ons nie ’n voorbeeld vir ’n stukkende wêreld wees nie? Al beteken dit ons kies om die moeiliker pad te stap?
- My een (getroude) vriendin sê gereeld dinge soos: “In ’n Godgewilde huwelik verdubbel jou vreugde en halveer jou hartseer.” Hoe gelukkig is sulke mense nie! Daar is iemand wat jou laste help dra, wat saam met jou besluite kan neem, wat saam met jou na God se stem kan luister. Jy het ’n uitgebreide familie, met al die voordele daarvan. Jy is soos die Bybel sê: “Een mens agtervolg ’n duisend, maar twee laat tienduisende op die vlug slaan” (vgl Deut 32:30).
- Neem asseblief in ag dat ons, die enkellopendes, bogenoemde dinge moet ontbeer. Dalk is dit vir jou al vanselfsprekend; vir ons is dit steeds ’n droom. Daarom sal ons graag oor die Kerstyd werk wanneer jy en jou gesin uitspan, of ’n bietjie later huis toe gaan as jy vroeg loop omdat daar gesinsverpligtinge is, of oor die algemeen jou omstandighede by ons werkplek in ag neem. Maar moet dit asseblief nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Wees net ’n bietjie meer erkentlik; dis ook vir ons ’n opoffering.
- Ons is nie “hoekie vir eensames”-kandidate nie, en ons wil ons welmenende vriende versoek om hulle asseblief daarvan te weerhou om vir ons blind dates te reël of namens ons afsprake via die internet of die een of ander toepassing te maak. Hier oortree julle ons private domein. Net omdat ons enkellopend is, beteken dit nie dat ons nie vriende het nie. As jy regtig glo dat jy my potensiële man ontmoet het, gaan bid daaroor. Vra vir God of jy iets daaromtrent moet doen. Dalk moet jy net bid … Ek wou in elk geval al lankal aan jou gesê het, jy wat my ken en vir my omgee: “Net omdat daardie man ongetroud is (soos ek) en ’n gelowige is (soos ek), beteken nie dat hy ‘nommerpas’ vir my is nie. Sulke aannames het my al in vele ongemaklike situasies laat beland – en ’n blind date wat soos ‘n onderhoud voel.”
- En terwyl ons nou met mekaar eerlik is: Moenie simpel opmerkings oor my enkelstatus maak nie. Ek ken ál daardie ou “grappies” en hulle is deur die bank erg afgesaag.
Hou ook asseblief op om te vra of daar al ’n spesiale iemand in my lewe is. Na al die jare van wag, sal dit beslis die eerste ding wees wat ek vir jou vertel! Ja, ons is pynlik bewus van ons ouderdom.
En ja, ons bid oor wat ons verantwoordelikheid is rondom ons gesondheid en ander mediese implikasies. Ons neem dié saak beslis nie ligtelik op nie; al mag jy dalk so dink.
Nee, my enkelstatus is nie ’n “probleem” nie. Dis wel ’n raaisel, ’n geheimenis. My enkellopende vriende is van die mees welaangepaste mense denkbaar. Emosioneel intelligent bo die meeste mense wat ek ken.
Hulle is slim, sportief, geestelik gesproke op ’n goeie plek. As hul enkelstatus vir hulle ’n probleem was, sou hulle dit lankal opgelos het. Wees genadig met jou enkelvriende en wees dáár vir hulle.
Wanneer die wonderwerk wel eendag gebeur, dan vier jy saam fees! Intussen worstel ons almal, soos die ou Spreukedigter, steeds met die geheimenis van hoe dinge tussen ’n vrou en man dan nou eintlik werk.
Ons bly hoop op begrip. Én om God se tyd te herken wanneer dit vir ons aanbreek.
Geskryf deur Sylvia Strauss in November 2020.
Lees ook: Help! Ek is geskei en skielik melaats