DEUR SIMONE GAUCHE
My twee seuntjies speel lekker in die bad terwyl ek gou aandete klaarmaak.
Meteens hoor ek ’n gegil vanuit die badkamer. Dis kompleet soos die koelbloedige noodroepe in gruwelflieks. Ek hoor albei my twee seuntjies se stemmetjies en hardloop nader. Die ergste moontlike verduidelikings flikker deur my gedagtes. Dit moet iets verskrikliks wees wat hulle so ontstel het.
In die badkamer aangekom tref ek die twee baie benoud in die pikswart donker gedompel. Die gloeilamp van die badkamer het geblaas.
LEES OOK: Solank jy na Jesus toe stap, maak dit nie saak as jy begin sink nie
“Mamma, wat het nou gebeur?” skree hulle altwee.
“Dis donker!”
“Waar is die lig?”
Ek tel hulle een vir een uit die bad. Hulle snak nog na asem en ek kry hulle nie bedaar om vir hulle te verduidelik dat dit net die gloeilamp is, wat geblaas het nie.
Jean, my jongste, skree: “Ek wil na ’n ander huis toe gaan!”
Ek droog hulle af in hul kamer, waar dit lig is, en verduidelik vir hulle wat gebeur het, maar Jean is steeds ontsteld en wil eerder na ’n ander huis toe gaan.
Aanvanklik is sy reaksie vir my verskriklik oordadig. Daar is tog niks fout met ons huis nie. Maar later dink ek weer daaroor na.
Ons reageer soms presies dieselfde. Die Here het ons geroep om die lig in die donker wêreld te wees, maar so gou as wat dinge rondom ons begin donker word, wil ons so ver as moontlik daarvandaan weghardloop. Ons soek ’n nuwe spreekwoordelike huis. ’n Huis waar ons in ander mense se lig gemaklik kan sit, in stede daarvan om die lig te wees te midde van die duisternis om ons. Dit is juis tydens hierdie donker tye wat ons die lamp moet wees wat lig moet gee vir almal in ons huis.
Hoor wat sê Jesus hieroor: “Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Matt 5:14-16).
Ek bestuur altyd met my hoofligte aan vir veiligheid. Die meeste oggende sien my kinders dit glad nie raak nie. Een wintersoggend, bewolk en grys, vra my oudste: “Mamma, waarom is die ligte dan vandag aan?”
Ek verduidelik dat die ligte elke dag aan is, maar omdat dit vandag donkerder buite is, is dit meer opvalllend en sien ’n mens dit makliker raak. So is dit ook met my en jou. Ons lig word baie meer opvallend vir ander as dit donkerder om ons raak. ’n Mens het immers nie die lig nodig as die son skyn en alles helder is om ons nie. Ons lig moet hoop gee in die duisternis. En hoe donkerder dit om jou is, hoe meer staan die lig uit.
Moenie jou lig wegsteek nie. Leef as mense van die lig soos Efesiërs 5:8 ons vra. Volgende keer as die duisternis om jou toesak, dink twee keer voor jy weghardloop en iemand anders se lig gaan soek. Dalk is dit ’n geleentheid vir jou om jou lig vir die wêreld te laat skyn. Mag jy hierdie week die ligdraer wees wat ander na Hom toe lei. Laat jou liggie helder skyn!
“En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie” (Joh 1:5).
- Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.