Met haar selfoon in die hand het sy daardie oggend alles in die fynste besonderhede op video probeer vasvang. Dit was immers die groot dag: hul eersteling se geboorte ná ’n wonderlike en maklike 40 weke-swangerskap. “Maar toe gebeur die ondenkbare,” vertel Janine Terblanche van Pretoria. HOOFFOTO: LOVINA CLAASSEN
Ons het lankal besluit hy sou Jordan heet, vernoem na die Jordaanrivier. Hy was ons deurgang na die beloofde land. Dit was ’n splinternuwe seisoen in ons lewe as jong getroudes. Op pad hospitaal toe was die opwinding en vreugde feitlik tasbaar. Elke kosbare oomblik moes eenvoudig gedokumenteer word sodat ek eendag vir ons seuntjie kon wys hoe baie ons na sy koms uitgesien het.
Ek en manlief Nardus het die hele ent pad gelag, gesels en gedagdroom. Binnekort sou ons ’n regte mamma en pappa wees. Ons kon nie wag om hierdie nuwe lewetjie in die wêreld te verwelkom nie.
Maar al die blydskap en opwinding is in een verskriklike oomblik gesmoor. Enkele ure ná die geboorte, sonder vooraf waarskuwing, is Jordan se stil liggaampie op my maag neergelê.
Wat nou?
Hoekom, Here?
Ek onthou die dokters se geskarrel terwyl hulle die klein lyfie probeer suurstof gee. Die deurmekaar emosies wat deur my kop maal. Die skok, die verwarring. Die vrae en die vrees wat my met een pletterslag oorrompel, en wat al die stemme en klanke in die kamer uitdoof.
Dan die woorde wat geen ouer ooit moet hoor nie: “Ons is jammer, maar daar is niks meer wat ons vir Jordan kan doen nie. Al wat hom nog aan die lewe hou, is masjiene en pype.”
My nuwe ma-hart breek in duisend stukkies. Ek voel verlam. Dit kan nie met óns gebeur nie! Dis tog nie wat God vir ons beplan het nie.
Of is dit?
Met sy piepklein, perfekte lyfie in my arms, blaas ons seuntjie sy laaste asem uit. Sy eerste doek en die pakkie met klere lê nog onaangeraak op die broeikas. Die gevoel van verlies is onbeskryflik.
Maar die vrede van God, wat soos ’n sagte briesie die kamer binnekom, is eensklaps tasbaar.
Ek kyk af na ons kindjie, klein en weerloos. Ek sien die kordate neusie en streel die sagte velletjie. Vat aan die volmaak gevormde handjies.
Iewers, in ’n stil hoekie diep in my hart, weet ek die engele het reeds Jordan se siel kom haal. God se gesante was deurentyd by ons in die kamer, en nou is hy by Jesus. ’n Sekerheid van die hemel begin in my hart groei.
Maar midde-in die pyn van verlies begin die vrees en twyfel posvat. Die vrae warrel deur my kop: Hoe hanteer ’n mens so iets? Hoe sal ek ooit weer kan aangaan? Is dít nou ons storie? Ons is dan Christene!
Here, is U ooit bewus van wat nou hier gebeur het?
Ons pad deur die woestyn
In daardie eerste dae en weke is die liggaamlike en emosionele pyn intens. Ek voel leeg, stukkend. Ek strompel deur emosies wat wipplank ry tussen uiterste hartseer en woede.
Saans huil ek my man wakker, en soggens spartel ek teen die prentjie van ’n lewelose lyfie in my kop. Die trauma van totsiens sê moet eers gaan lê voordat ek weer helder kan dink.
Deur alles is ek desperaat soekend na God in hierdie chaos. Slegs Hy kan help. Ek skryf brief ná brief aan Hom. Ek pleit dat Hy die seer sal wegneem, dat Hy Hom in ons situasie sal begewe, hoe Hy ook al wil.
Gou begin ek en Nardus besef die wêreld is nie volmaak nie. Hiérdie is nie die hemel nie. Dinge loop skeef; ongelukke gebeur; kinders word siek; slegte dinge tref goeie mense. Christene is nie van swaarkry gevrywaar nie.
Maar ons besluit ook om te fokus op die feit dat God goed is. Hy is nie die oorsaak van die slegte dinge nie; Hy is die antwoord daarop. Stelselmatig sien ons hoe sy krag by ons opdaag wanneer ons niks meer in onsself oor het nie. Hoe sy goedheid die helderste skyn in die donkerste tye. Hoe Hy dáár is wanneer ons sielshonger, opreg en maskerloos na Hom soek.
Bo alles staan ons verwonderd oor hoe Hy mense as engele stuur om ons op hierdie droë, klipperige woestynpad te lei. Ons wonderlike ouers en susters en broers dra kos aan, hulle verpleeg ons wonde en bemoedig waar hulle kan.
Om gegrond te bly in ons kerkfamilie is ook ’n redding. ’n Mens kan jou so maklik isoleer in die seer, en dan in ’n gat val waaruit jy moeilik sal ontsnap.
God, ons kompas
Drie dae ná Jordan se geboorte preek ons pastoor, At Boshoff van die CRC-gemeente in Pretoria-Oos, oor die Jordaanrivier. Hy sê onder meer: “This year will be a Jordan-crossing year.”
My hart trek op ’n knop. Dit voel asof die woorde spesiaal vir ons bedoel is. Die boodskap plant onmiddellik ’n verwagting na iets moois, die belofte van ’n oorgang na iets beters. Met ’n geloof kleiner as ’n mosterdsaadjie ontdek ek dat ’n mens kan rou met hoop in jou hart.
Die maande skiet verby, en op ’n wonderbaarlike manier wen ek ’n toer na die Israeliete se beloofde land. Die reisplan is uitgewerk volgens die destydse roete vanaf Egipte, deur die Jordaanrivier, tot in Israel.
Ons blydskaptrane vloei, want dis my en Nardus se hartsbegeerte om Jordan by die Jordaanrivier “terug te saai” vir God.
Dis ’n wonderlike toer, en elke plek bring ’n stukkie genesing. By die Jordaanrivier strooi ons Jordan se assies op die water, en ons word gedoop. Vir my en Nardus is dit ’n Goddelike oomblik van oorgee en nuut begin.
’n Nuwe seisoen breek aan
Reeds voor die Israel-toer het ons weer probeer swanger raak, maar sonder sukses. Ek is, inteendeel, met eierstok-siste gediagnoseer weens die trauma ná ons verlies. Die begeerte na ’n kindjie bly by ons.
Daar is baie dinge wat deur ’n vrou se gedagtes maal wanneer sy onsuksesvol probeer swanger word. Vrees, twyfel en die wisselende emosie wat sentreer om die vraag: “Wat is fout met my?” Baie mense het vir ons gebid; daar was ook ander wat my soos ’n vreemdeling behandel het.
My identiteit is aangetas. Ek het “die-meisie-wat-haar-baba-verloor-het” geword. En later: “die-vriendin-wat-nou-sukkel-om-swanger-te-word”. Sommige dae het die duiwel hierdie etikette in my gedagtes herhaal. Ek moes doelbewus my bagasie by God se voete gaan neerlê. Ek moes alles laat gaan.
Tydens ’n vas-week by die kerk stap ek doelgerig vorentoe en gaan gee ons babas wat nog eendag sal kom vir God. Net soos Hanna.
Terug by die huis vee ek die kalender skoon waarop my siklus aangeteken is, want ek weet nou God het nie my hulp nodig nie. Dis tyd dat ek slegs op Hom vertrou om swanger te word, sodat ek Hom ook vreesloos kan vertrou wanneer dit wel gebeur.
Elke keer wanneer twyfel aanklop, gaan haal ek babakleertjies uit die kas en begin dankie sê vir die tien perfekte vingertjies en tien perfekte toontjies wat in daardie klere gaan pas. En dan word die babapakkie langs ons bed opgehang. Naderhand was ons kamer vol sulke klere!
Toe die nuus kom dat ons swanger is, het ek op my knieë neergeval en my hart uitgehuil.
Uiteindelik! Ons herstel-seisoen het aangebreek; die wagtyd was verby.
Jordan se boetie is Noah gedoop, as herinnering aan die reënboog ná die groot storm en God se belofte dat dit nooit weer sal gebeur nie. Noah beteken “troos, rus en ’n lang lewe”. Dis wat ons elke dag oor hom uitspreek.
Twee jaar later het ons ’n pragtige dogtertjie ryker geword, Ayla. Haar naam verwys na ’n terpentynboom wat in die gebied groei waar Dawid vir Goliat verslaan het. Dit is hoë, sterk bome wat, vanweë hul sterk wortelstelsel, wind en weer kan weerstaan.
Maar God se herstelwerk was nog nie klaar nie: In Mei 2023 word klein Lumay-Evah gebore. Haar naam beteken “lewenslig”.
Ons gesin se storie het begin met ’n geveg teen die dood, maar die Here het dit kom kroon met lewe en lig – in drievoudige oorvloed!
Vandag kan ek getuig: God is goed en regverdig. Hy is ’n veilige toevlug. En die fynste besonderhede maak vir Hom saak.
Ons almal se paadjie kronkel soms deur dorre dele, maar dit bly ons keuse hoe ons deur die woestyn gaan. As jy alles vir Hom gee, sal Hy jou na die beloofde land lei. Hy sal alles teruggee wat die vyand kom steel het, op sý tyd en op sý manier.
- Janine Terblanche is ‘n ma van drie en woon in Pretoria. Sy is ’n grafiese ontwerper.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.