Ek en my man Tiaan het, nog voordat ons met mekaar getrou het, geweet ons sal eendag kinders wil hê. Ons het, soos altyd voor belangrike besluite, dit voor die Here se voete gelê. Ons het gebid dat as dit sy wil is, dit sal gebeur.
LEES OOK: ‘Hulle is almal ons s’n,’ sê ouers van vyf nie-biologiese kinders
Binne ’n paar maande is daardie gebed verhoor. Ons was die Here baie dankbaar en het gretig uitgesien na die klein lyfie wat op pad is. Tydens my ma se 60ste verjaarsdag in die Wildtuin het ons die familie met die nuus verras. Almal was baie opgewonde.
Die opgewondenheid was egter van korte duur. Op pad terug ná die lekker vakansie kon ek agterkom iets is nie reg nie. My skoonouers het ons by die lughawe kom haal en ek het my skoonma vertel dat daar fout is.
Later daardie dag is ons hospitaal toe, net om die hartverskeurende tyding te kry dat ek wel ’n miskraam gehad het. Ek was verpletter. Ek het maande aaneen gehuil. Ek was kwaad vir die Here. Ek kon nie glo dat Hy iets sou wegneem waarvoor ons gebid en voor sy voete gelê het nie.
My geloof is getoets
Vir die eerste keer is my geloof werklik getoets. Ek het altyd die volste vertroue in die Here gehad dat alles sal gebeur soos dit moet. En nou was daardie vertroue onder erge druk. Op ’n dag het ek selfs gesê ek weet nie of Hy ooit bestaan nie …
Maar toe het ek beleef dat Hy my styf vashou. Ek het sy onvoorwaardelike liefde intens ervaar, en ek is genees van al die seer.
Ek onthou dat ek en my ma eendag gesels het en ek uitgeroep het: “Mamma, ek voel uiteindelik beter!”
’n Klein rukkie later was ons weer swanger. Watter wonderlike nuus was dit nie!
Maar die listige duiwel het my bang gemaak: Sê nou dit loop weer uit op ’n miskraam? Ek het gedurig badkamer toe gehardloop, en tydens die gewone besoeke aan die dokter was ek bitter senuweeagtig.
Maar te midde van al die spanning is ons seuntjie Lian in Junie 2020 gebore, perdfris en gesond.
Nie lank ná Lian se geboorte nie was ons gereed vir ’n tweede enetjie. En ons was weer so bevoorreg om gou swanger te raak. Weer het ons ons familie met die goeie nuus verras – net om later weer ’n miskraam te hê. Ek was boonop daarvan oortuig dat ek ’n tweeling verwag het.
Gelukkig was ek dié keer dieper in my geloof gegrond.
’n Volgende swangerskap het gevolg, en ’n volgende miskraam – die derde een. Dit het my erg ontstel, want ek was daarvan oortuig dat die fetus dié keer mooi sou ontwikkel.
Die dokters kon geen verklaring gee nie en kon nêrens fout vind nie. Hulle het bly vertel hoe gelukkig ek is om so maklik swanger te raak.
My gemoed was taamlik laag toe ons pastoor ons meedeel dat hy ’n droom gehad het. Basies het dit daarop neergekom dat hy glo ons gaan weer swanger raak, maar dié keer sal dit onbeplan en onverwags gebeur.
My man se siekte
Toe het my man siek geword. Hy het meer as een keer, in die middel van die nag, kouekoors ontwikkel en erge naarheid ervaar. Twee keer het ons by die hospitaal se ongevalle-eenheid gaan draai.
Ná etlike toetse is daar vergrote limfkliere tussen sy dun- en dikderm opgespoor. Ons het groot geskrik. Ná ’n biopsie van die vergrote limfkliere kon hy nie vir klein Lian optel nie.
Toe kom die uitslae: Die dokter het gesê alles is skoon. Bowendien kon hy nie enige vergrote limfkliere sien nie. Prys die Here!
So gaan die weke verby, en ek besef gereeld dat ek nog nooit in my lewe so bekommerd was soos toe my man so siek was nie. En ek dink nie veel daarvan dat my menstruasie laat is nie. Maar die tyd stap aan … en oplaas laat doen ek ’n swangerskaptoets.
Moet nooit hoop verloor nie
Die volgende dag lui my foon. Dis die suster wat die toets gedoen het, wat my meedeel ek is swanger, boonop reeds tien-en-’n-half weke. Ek was verstom, báie bly en die nuus was beslis onverwags.
Ons klein Andries is in Februarie vanjaar gebore. Hy is ’n besonderse en gesonde seuntjie. Ons dankbaarheid ken geen perke nie.
Ná die baie seer tye, al die stres en die gepaardgaande vrese, het ons twee wonderwerk-kinders hier op aarde. En vier Koninkrykskindertjies wat ons eendag in die hemel sal sien.
Ek wil graag alle mammas bemoedig wat miskrame gehad het of wat sukkel om swanger te raak. Die Here se tyd is perfek. Moet nooit hoop verloor nie. Ons sien soms net die feite hier om ons, maar die Here sien die groter prentjie. Mag Hy elke gesin wat deur iets soortgelyks gegaan het met sy liefde omvou.
- Anke Groenewald is ’n fisioterapeut in die Bolandse dorp Wellington.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.