Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ons Vader se perfekte tydsberekening vir twee boeties’

DEUR ANNA-MARIE DE VILLIERS

Ek en my man Scholtz is in 1997 getroud. Soos menige jong paartjie het ons ook gedroom om kinders te hê, maar dinge het nie heeltemal verloop soos ons dit wou hê nie. Maand ná maand se teleurstelling, jaar ná jaar … Daar was behandelings, etlike inplantings – alles tevergeefs.

Iewers in 2008 droom ek een nag ek en Scholtz lê en slaap en ek word wakker van iemand wat in die huis raas. Ek kom regop en roep: “Wie is daar? Wie raas so?”

Die volgende oomblik kom twee seuntjies ingehardloop – ’n blondekoppie met ’n ligte vel en ’n blas donkerkoppie. Die blondekopseuntjie sê vir my: “Mamma, dis ek en Boetie. Ons speel net.” Hulle was ongeveer drie jaar oud.

Ek het wakker geskrik en vir Scholtz van die droom vertel. Ek het gesê dat daar ’n “lig” om die droom was.

Ná my droom verloop daar ’n verdere vier jaar. Vier jaar se onsuksesvolle pogings om swanger te raak. Maar in Oktober 2012 kry ons ’n oproep van die dokter: “Julle is swanger!” sê hy. Ons was só bly – en ek en Scholtz spot nog en sê dis seker ’n tweeling, want in die droom was die seuntjies ewe groot.

Op 24 Mei 2013 word Joa de Villiers gebore, twee maande te vroeg. Ná drie weke in die hospitaal gaan ons huis toe met ons perfekte blondekopseuntjie.  Tydens my kraamverlof kom haal my suster my ’n paar keer, want volgens haar moet ek ’n dagsorg-plek vir Joa gaan soek. Die skooltjies in die Paarl is blykbaar baie vol.

Joa en Christiaan neem elke jaar wanneer die skole open saam \’n foto. Toe Christiaan (regs) se mamma hom destyds vra waarom hulle mekaar Boetie noem was sy antwoord: “Jesus het vir ons kom sê ons is boeties.” Foto verskaf

Ons is in en uit by die een dagsorg-plek ná die ander, maar hierdie moederhart het telkens geweet dis nie waar Joa moes wees nie. Ek dink my suster Helene was nogal baie gefrustreerd met my …

Op ’n dag vra iemand of ek al van Moses-Kidz gehoor het (dis deesdae Family Tree Leadership Academy). Net daar onthou ek dat toe ons by Joa in die hospitaal was, daar ’n vrou gekom het wat na ’n vriendin se baba kom kyk het en sy het gevra: “Wie se klein seuntjie is dit daardie?”

Ewe trots het ek my aan haar voorgestel. Waarop sy gesê het: “Ek wil eendag na jou seuntjie omsien. Ek werk by Moses-Kidz.”

LEES OOK: ‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

Nadat hierdie stukkie herinnering na my teruggekeer het, het ons ’n afspraak gemaak. En die dag toe ons daar aankom, het dit kompleet gevoel asof die Here ons by die hek inwag.

Joa was een van die eerste kindertjies by dié oulike skooltjie. (Dis tog vreemd hoe die stigters van Moses Kidz besluit het om die skooltjie te begin in dieselfde maand wat ons gehoor het ons is swanger …)

By my ooievaarstee het Karen Stemmet ’n visie wat ons Vader haar gegee het met ons gedeel (sien foto hieronder).

Foto verskaf

Family Tree skool is geleë aan die voet van Paarlberg. Nader aan die berg kan dit nie – net soos in die visie.

Family Tree Leadership Academy: Partnering with Parents in Raising World Changers for Jesus!

Joa en sy maatjie Christiaan noem mekaar “Boetie” sedert hulle twee jaar oud is. Hulle word vanjaar 9. Foto verskaf

Toe Joa twee jaar oud was, gaan haal ek hom een middag by Moses-Kidz, toe reeds Family Tree. Die assistent kom na my toe en sê dat iets vreemds gebeur het: Joa en sy maatjie Christiaan het mekaar begin “Boetie” noem. My trane het dadelik begin loop, want Christiaan is net so oud soos Joa, en hy het donker hare en ’n blas vel. Dit was alles presies soos in die droom.

LEES OOK: ‘In ons swaarkry het ek God in al sy grootsheid ontmoet’

En van daardie dag het hulle van mekaar as “Boetie” gepraat. En mekaar so aangespreek. Nie ons óf Christiaan se ouers, Elana en Bertus Loubser, mag die ander een op sy naam noem nie; ons word vinnig reggehelp: “Dis Boetie.”

Klein Christiaan was vier toe sy ma Elana hom gevra het waarom hy en Joa besluit het om mekaar ‘Boetie’ te noem. Christiaan se antwoord was: “Jesus het vir ons kom sê ons is boeties.”

Die De Villiers- en Loubser-gesinne. Volgens die ouers weet hulle daar is \’n spesiale band en dat die twee seuns \’n spesiale roeping het. Foto verskaf

Haar volgende vraag was: “Maar hoe het Jesus dit vir julle kom sê?”

Christiaan het toe heel verontwaardig na haar gekyk, asof sy tog moes weet, en haar só geantwoord: “Hy het dit in ons hartjie kom sê.”

Dié twee “boeties” word binnekort nege jaar oud. En die afgelope sewe jaar “Boetie” hulle mekaar strykdeur. Hulle speel – en baklei ook soms – soos net boeties kan!

Ons as ouers weet egter dat daar ’n spesiale band is, en dat hulle ’n spesiale roeping so saam het. Daarom kan ons nie wag om te sien wat ons Vader vir hulle beplan nie.

En ek besef dat as ons swanger geraak het toe óns wou, ons hierdie groot seën van die twee boeties sou misloop. Ons Vader se tydsberekening is altyd perfek, want Hy ken die groter prentjie.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF