DEUR ENGELA DUVENAGE
Reeds in die lente kla die Gautengers dat dit ongehoord warm is. En in Oktober, Leipoldt se mooiste, mooiste maand, tap die sweet hulle behoorlik af.
Op Facebook skryf ’n gerekende wetenskap- en omgewingsjoernalis hoe die reën wegbly. Sy vertel dat die gemiddelde Oktober-temperatuur in Johannesburg tussen 1951 en 1990 23,8 °C was – en dat die kwik in die eerste twee weke van Oktober 2022 selde onder 30 °C gedaal het.
Vir haar is dit alles tekens van iets vreemds wat besig is om te gebeur, iets wat ’n mens toenemend aan eie lyf kan voel. En dan vra sy: “Hoekom is daar niks in die nuus daaroor nie?”
Sy, soos vele ander ingeligtes, is werklik bekommerd. Dis klimaatverandering-in-aksie, reken hulle. En dit móét groot nuus wees, want die mensdom is besig om die gevolge en impak daarvan aan eie bas te begin voel.
In November het die sogenaamde Conference of the Parties-samesprekings oor maniere om klimaatverandering te keer in ’n vakansiedorp in Egipte plaasgevind. Dit was reeds die 27ste sodanige byeenkoms wat deur die Verenigde Nasies aangebied is. Die oorhoofse plan is dat almal saamwerk om te voorkom dat die temperatuur te hoog styg, en dat lande wat die impak daarvan begin voel ’n soort skadevergoeding van die mees geïndustrialiseerde lande moet ontvang.
Ná die konferensie brom die omgewingsaktiviste egter oor die baie praatjies en klagtes op die agenda, maar die min aksie wat (weer eens) daaruit voortgevloei het.
Sommige mense vind dit ironies dat honderde afgevaardigdes van regoor die wêreld duisende kilometer Egipte toe vlieg om oor aardverwarming te beraadslaag – en in die proses met hul vliegmyle en brandstofgasse daartoe bydra.
Ontkenners en bewyse
Daar is steeds baie mense wat ontken dat die natuur aan die verander is. Dat dit ’n toevalligheid is dat vloede die afgelope tyd meer gereeld voorkom én meer verwoestend is. Dat somers ál langer word en droogtes ál feller.
Die meeste wetenskaplikes sien egter die toenemend- onheilspellende patrone raak tussen al die data wat hulle insamel. Navorsers kom agter dat insekpeste vanuit die Middellandse See-gebied, wat gevoelig is vir koue, hulle ál meer begin tuismaak in landerye en boorde in die koeler Europese streke waar hulle vroeër nie voorgekom het nie. Waarnemers sien hoe kokerbome stelselmatig suidwaarts agter koeler toestande aan “trek” en sukkel om in die hitsige noordelike verspreidingsgebied te oorleef.
Twee akademici aan die Universiteit van die Witwatersrand, Jennifer Fitchett en Kestrel Raik, het in 100 jaar se koerant-eksemplare gaan soek na artikels wat verwys na die datum waarop die eerste jakarandas in Johannesburg, Pretoria en omstreke blom.
Daar kon hulle vasstel dat blomtyd oor die afgelope eeu met byna twee maande vervroeg het. In die 1920’s was dit middel-November, en deesdae verskyn die eerste pers blommetjies reeds teen middel-September.
Dis aan die veranderende klimaat te wyte, sê hulle in ’n artikel in Journal of Urban Forestry and Urban Greening. Volgens weerdata het die maksimum-dagtemperature met 0,1 °C tot 0,2 °C per dekade in dié gebied gestyg. Minimum-dagtemperature het selfs vinniger, teen 0,2 °C tot 0,4 °C per dekade, gestyg.
Dis nie net by jakarandas wat hierdie verskuiwing van blomdatums te bespeur is nie. Volgens ’n 2011-analise van langtermyndata het appel- en peerbloeisels in die Suidwes-Kaap toe reeds vroeër vol in die blom gestaan – dis 1,9 dae per dekade gouer vir Golden Delicious-appels, en 1,8 dae vir Bon Chrétien-pere. Dis nie goeie nuus nie, want hoe vroeër hulle blom, hoe groter is die kans op rypskade én dat die insekte wat hulle moet bestuif nie in die omtes is nie.
Insekte se migrasiedatums skuif ook. Vroeër vanjaar het Jennifer Fitchett en ’n klompie medewerkers by Wits weer die ou koerante deurgeblaai en latere sosiale media-inskrywings gevolg om na te speur wanneer in die somer die eerste groot swerms grasveldwitjie-skoenlappers (Belenois aurota) gewoonlik oor Johannesburg te siene is in hul trek na Mosambiek.
Hul bevinding? Oor die afgelope 100 jaar het hierdie datum elke dekade 2,9 dae vroeër aangebreek. Die swerms oor Johannesburg verskyn dus deesdae sowat ’n maand vroeër as wat die geval ’n eeu gelede was, het die navorsers in die International Journal of Biometeorology verduidelik. Dit word gekoppel aan die stygende temperature, en die reënval in Desember.
Aspekte soos veranderings in grondgehalte, die aantal sonlig-ure wat ontvang word, asook plaaslike besoedelingsvlakke en koolstofdioksied in die lug, beïnvloed onder meer hierdie verskuiwings.
Jou uitdaging vir dié tyd
Die 11-jarige omgewingsaktivis Romario Valentine van Umhlanga in KwaZulu-Natal en die span van Struik-uitgewers gee in die boek Protect our Planet (Struik, 2022) wenke oor hoe jy in en om die huis slimmer kan werk om die aarde se ontwil. Want elke bietjie help.
Hier is van dié wenke:
- Pak die yskas reg. Romario reken dat as jou yskas netjieser is, jy gouer sal kry waarna jy soek. Dan sal jy die yskasdeur kan toemaak voordat te veel koue lug ontsnap. Dit kos baie krag om ’n yskas koel te hou. Moet dus ook nie warm kos daarin sit nie.
- Doen jou huistake met omsigtigheid. Moenie die wasmasjien aanskakel met slegs ’n halwe bondel daarin nie; dit kos net soveel energie en water as om ’n vol bondel te was. Was met koue water eerder as warm water.
- Trek uit! Sommige herlaaiers (byvoorbeeld dié vir jou selfoon of skootreke-naar) gebruik steeds krag al is daar nie ’n toestel daaraan gekoppel nie. Ontkoppel dit dus eerder heeltemal van die kragprop waarin dit gedruk is.
- Skakel af! Skakel die ligte af as jy ’n kamer verlaat.
- Tel, tel, tel! Tel ’n bietjie hoeveel stukke plastiek en ander rommel jy daagliks weggooi. Dis báie, nè? En elke stukkie gaan iewers op ’n rommelhoop beland. Rommelhope is besig om die aarde te verswelg.
- Hou verby! Moenie iets koop wat jy nie regtig nodig het nie, veral nie as dit van plastiek gemaak is nie. Kies duursamer klere en produkte. En gebruik herbruikbare items waar moontlik, byvoorbeeld materiaal-winkelsakke.
- Kies kleiner. Hoe kleiner ’n troeteldier, hoe minder vleis word geëet en hoe kleiner is die impak op die aarde. Oorweeg gerus plantvretende hoenders, hase of konyne.
- Dié artikel verskyn in die Someruitgawe 2022/2023 van die gedrukte LiG. Klik hier om op die tydskrif in te teken.
- Engela Duvenage is ’n vryskutwetenskapskrywer. Sy skryf graag oor navorsers se werk. Daar kinderboek Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika het in 2020 verskyn. Sy hoop op ’n wêreld waar mense mekaar en hul omgewing waardeer en respekteer. Volg haar op Twitter by @engelbriewe of op Facebook.