Onvrugbaarheid en infertiliteit.
Ek het vir baie lank gevoel dat God my nie hoor nie. Ek het later begin glo dat Hy my doelbewus ignoreer. Ons het Hom gesmeek vir ʼn baba, maar daar was vir jare geen antwoord nie.
Die stilte was net so erg soos ‘n moontlike “nee.” Hoor God ons hoegenaamd en hoe weet ons dit? En as Hy ons hoor, hoe en hoekom antwoord Hy ons?
Daar was nog altyd kommunikasie tussen God en die mens. Aan die begin het Hy direk met die mens gepraat, maar Hy het ook die natuur, mense, engele, drome of visioene gebruik om boodskappe oor te dra.
Hy het ook onder ons kom woon en só met ons gepraat. Daarna is die Heilige Gees uitgestort en Hy het ons leidsman en trooster geword.
In my ervaring praat Hy vandag nog op verskeie maniere met sy kinders. Maar hoekom praat Hy met ons en wat wil Hy vir ons sê? Uit die Woord sien ons dat sy begeerte is om ʼn intieme verhouding met Hom te hê.
Hy wil vir ons sy liefde en wil wys en ons weghou van die sonde. Verder glo ek Hy wil ons in staat stel om sy werk hier op aarde te doen en sy lig aan mense openbaar.
Ek glo God neem dikwels die eerste tree, maar wat gebeur as ons eerste na Hom te kom met ʼn dringende vraag? As jy aan ongewensde kinderloosheid ly, kan jy baie vrae hê.
- Hoe lank moet ons probeer swanger raak?
- Moet ons aanneem?
- Moet ons vir behandeling gaan? Of eerder wag?
- Gaan ons ooit kinders hê?
- Doen ons iets verkeerds?
- Wat moet ons volgende doen? Hoe lank gaan dit neem?
Dit kan onbeskryflik verwarrend wees as ons ervaar dat die Here eenvoudig nie reageer nie.
Op my eie reis deur onvrugbaarheid, het die Here vir my twee groot openbaringe gegee wat dalk jou perspektief ook kan verander.
Die eerste is dat ons dalk nie altyd die regte vrae vra nie. My gebed was: “Here, gee asseblief vir ons ʼn baba!” Dit was wat ek gedink het ek die graagste wou hê. Maar omdat die Here my selfs beter ken as wat ek myself ken, het die Heilige Gees my gebed vertaal en na die Here geneem.
Onvrugbaarheid en my groot gebed
Vandag weet ek dat my gebed eintlik was om vrede te hê met wie ek was. Ek het onbewustelik gedink ʼn baba gaan die oplossing wees vir my om te ontsnap van verskeie dele van my verlede omdat ek dan vorentoe sou kon kyk en daarvan kon vergeet.
Die antwoord op my gebed was ʼn uitmergelende dog vervullende reis deur my verlede waar ek my ervaringe kon vereenselwig met wie ek is. Vir die eerste keer kon ek my lewensverhaal begin vertel en trots wees op wie ek is. God het onvrugbaarheid gebruik om vir my te wys hoe Hy nog altyd by my was.
Die tweede openbaring (en eintlik ‘n herinnering), was dat God ons nie altyd antwoord soos en hoe ons wil hê nie. Ek onthou ek het een keer ʼn versadigingspunt bereik. Ek het op die vloer neergeval en uitgeroep tot die Here. Ek was woedend en het aangedring op ʼn onmiddellike antwoord. Maar daar was stilte. En ek was bitter en hartseer.
Vandag kyk ek terug en ek sien hoe daardie dag die begin was van soveel deurbrake. Nie lank daarna nie het ek stelselmatig begin sien waarmee die Here besig was. Soms vergeet ons Hy is God – en ons nie.
Hy het gekies om my te antwoord in die vorm van ʼn kettingreaksie. In plaas van die een, allesomvattende, onmiddellike antwoord wat ek wou hê, het hy ervaringe aanmekaar geryg en die antwoord op my vraag geleidelik aan my openbaar. Dit het hy gedoen ten spyte van my ongeduld en voorskriftelikheid. Wat ʼn genadige God!
Onvrugbaarheid: Wat ons eintlik moet bid
Uit my eie ervaring kan ek onomwonde sê dat God ons wel antwoord. Ek dink egter ons grootste gebed moet wees: “Here, help my om die regte vrae te vra.” Dan kan ons kan Hom maar vertrou vir die regte antwoorde op die regte tyd.
Met alles in my hoop en bid ek dat die uiteinde van julle situasie ʼn kindjie is, maar indien nie, weet ek dat God in staat is om selfs groter begeertes te vervul. Al voel dit vir jou asof Hy stil is, weet dit: Hy is dalk besig om jou voor te berei vir antwoorde op vrae wat jy dalk nie eers weet jy het nie.
Hierdie is deel van ‘n reeks oor onvrugbaarheid.
Ander artikels in die reeks:
Moet ek bly wees oor ‘n babatee as ek dalk nooit een gaan hê nie?
Hoe om swanger te raak en ander ongemaklike onderwerpe
Geskryf deur Jackie van Wyk.