Baie mense sê ouerskap is soos tuinmaak: Jy moet die snoeiskêr betyds inlê om die jong boompies reg te snoei, en vroeër eerder as later na die saag gryp om van daardie welig groeiende ongehoorsaamheid ontslae te raak. Maar hoe seker is jy dat sulke optrede gesonde ouerlike gesag verteenwoordig? Wat sê die Bybel?
“Kinders is God se grootste geskenk aan grootmense. Hulle verteenwoordig geestelike seën en die voortsetting van God se verbondsbeloftes.”
So sê prof Marius Nel, professor in Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit teologie. Hy verduidelik: “Kinders is die waarborg van God se verbond met Israel, soos wat duidelik blyk uit God se belofte in Genesis 12:1-3, toe Hy die verbond met Abram en Sarai gesluit het.
“Die verbond plaas ouerskap in ’n totaal ander lig as bloot ’n sosiale of familie-verantwoordelikheid. Kinders is vir gelowiges niks minder nie as ’n seën.
“Indien ons ouerskap en gesag vanuit hierdie perspektief verstaan, begryp ons dat dit nie primêr oor beheer gaan nie, maar oor rentmeesterskap. Ouers het die voorreg én die verantwoordelikheid om die volgende geslag op te voed wat die toeëiening van God se beloftes sal voortsit.
“En dit beteken dat ouerlike gesag, wat gelowiges betref, nie ’n doel op sigself is nie, maar die manier is waardeur God se verbondsbeloftes van geslag tot geslag oorgedra word.”
Gesonde gesag laat kinders floreer
“Die Bybelskrywers plaas gesag binne ’n verhouding,” sê dr Siegfried Louw, ’n spelterapeut en predikant in Brackenfell. “God se gesag skep, beskerm en vorm lewe. Ouers word geroep om dieselfde funksie te vervul, te wete: Teenwoordigheid wat groei moontlik maak, en grense wat beskerm.
“Bybelse gesag lyk soos Christus se gesag: Dit staan op waarheid, maar buig tot diens.
“As ouers leer om hul kinders met respek en selfinsig te behandel, word die gesin ’n ruimte van genade, ’n plek waar mense leer dat God se gesag jou laat floreer.”
Marius sluit hierby aan: “Die Bybelskrywers plaas die ouer-kind-verhouding binne ’n gesagstruktuur wat wedersydse verantwoordelikheid veronderstel. Ouers en kinders was nie mekaar se gelyke nie en het nie dieselfde rol vervul nie. Ouers en kinders was vir mekaar se welwese verantwoordelik. Die sleutelreël vir kinders was: ‘Eer jou vader en jou moeder.’ En ’n pa, wat in die antieke wêreld vir die kinders se dissiplinering verantwoordelik was, is vermaan om nie sy kinders opstandig te maak nie.
“Die wysheidsliteratuur in die Ou Testament beklemtoon die belangrikheid daarvan om kinders te dissiplineer. Dit was een van die ouers se kernverantwoordelikhede.”
Siegfried sê: “Ouers en kinders het verskillende rolle in dié verband. ’n Kind het behoefte aan leiding, en ’n ouer het die verantwoordelikheid om rigting te gee. Wanneer gesag dienend en deursigtig uitgeoefen word, leer ’n kind dat orde en liefde kan saambestaan.
“Gesonde gesag skep vertroue, nie vrees nie.”
Gesag is ’n roeping
Gesag en verantwoordelikheid kan nie van mekaar geskei word nie, sê Siegfried. “Waar gesag is, is verantwoordelikheid. Vir ouers beteken dit om grense daar te stel wat beskerm, en om terselfdertyd luisterend teenwoordig te wees.
“Dit vra nie volmaaktheid nie, maar volwassenheid. Dit vra van ouers om eienaarskap te aanvaar, ook van hul eie gevoelens en reaksies, en om sodoende ’n ruimte te skep waarin kinders leer om verantwoordelik op te tree.”
Dr Nadia Marais is ’n senior lektor in sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit teologie. Sy sê: “Vandag, met die insig wat die moderne wetenskap ons bied, veral kindersielkunde en neurowetenskap, weet ons dat kinders se prefrontale korteks heelwat later ontwikkel as wat ons voorheen gedink het. Dit is die deel van die brein wat selfregulering, besluitneming, logika en probleemoplossing beheer, én die verstaan van oorsaak en gevolg.
“Lyfstraf en ’n outoritêre ouerskapstyl waarin ’n positiewe verbintenis en duidelike kommunikasie ontbreek, belemmer die gesonde band tussen ouer en kind. Meer nog, volgens kenners verhinder dit ook die ontwikkeling van hierdie prefrontale korteks.
“Dit beteken egter nie dat ouers nié ’n gesagvolle rol by hul kinders moet speel nie. ’n Kalm dog ferm handhawing van grense, en bepaalde gevolge vir die nie-nakoming daarvan wat duidelik aan die kinders uitgespel word, skep veiligheid by sulke kinders.
“Hierdie gesagvolle ouerskapstyl kan uitgeken word aan die ouers se liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en, bowenal, selfbeheersing. Dit vra van ouers niks minder nie as om in elke groot en klein interaksie met hul kinders die vrug van die Gees uit te leef.”

Nadia beklemtoon die waarheid dat kinders volledig méns is, en daarom geregtig is op dieselfde soort menswaardigheid, liefde, respek, en weerhouding van geweld as enige ander mens. “Hulle leer by ons om ander te respekteer, om ook hulleself te respekteer. En hulle leer by ons wat dit beteken om landsburgers en geloofsmense te wees.
“Daarby word ons elke oomblik – ook wanneer ons geduld min is, of wanneer ons moeg is, of wanneer ons te na gekom voel – fyn dopgehou.
“Te dikwels verwag ons van ons kinders om reg te kry wat ons self nie kan regkry nie. As ons ander motorbestuurders vloek, of op ons kinders skree, of ons kinders slaan of ons lewensmaat slegsê, is óns die probleem.
“Watter kans het ons kinders dan om beter as ons op te tree? Hul brein is dan nog aan die ontwikkel …”
Wanneer ouers eers begryp dat hul gesag ’n rol is en nie ’n posisie nie, kyk hulle anders na hoe hulle grense stel, opvoed en teregwys.
Siegfried stel dit só: “Gesag is ’n rol wat groei uit ’n verhouding, dis nie ’n posisie wat jy beklee nie. In ’n gesin beteken dit dat ouers leiding gee deur hul volwassenheid, deur hul voorbeeld, en deur hul eerlike kontak met hul kinders. Dis soos Jesus sy dissipels gelei het – nie van ’n afstand af nie, maar deur teenwoordigheid en diens.
“Ouers word dus geroep om gesag as ’n roeping uit te leef en nie as ’n ‘rang’ te beskou nie.”
Dissipline is dissipelskap
Hoe verskil dissipline handhaaf van straf uitdeel?
Siegfried sê: “Ons dink gewoonlik dadelik aan straf wanneer ons die woord ‘dissipline’ hoor. Maar dissipline en straf is twee radikaal verskillende sake. Wat gelowiges betref, het dissipline ’n noue verband met dissipelskap. Dit het ’n langtermyn-doelwit: Om Christus na te volg. Omdat dit gaan oor ’n verhouding met jou kinders en met God, is jou manier van lewe en teenwoordig wees baie belangrik.
Nadia sluit hierby aan: “Ek dink dit is ouers se lewenslange taak om hul kinders te leer of te wys hoe om hul menswaardigheid raak te sien.
“Kry ouers dit altyd reg? Natuurlik nie! Dit vra moed om weerloos en sag te bly wanneer jou geduld en energie op is.
“En beteken dit dat ouers oor al die antwoorde beskik? Gewis nie! Ek het steeds meer vrae as antwoorde, en ek probeer om gereeld na kenners te luister en te bly leer. Pediaters en sielkundiges en wetenskaplikes, maar ook ervare ouers met hul eie vrae en voorstelle, kan jou baie leer.”
Ouers moet verstaan dat dissipelskap liefde insluit, en gehoorsaamheid. Die Amerikaanse teoloog prof John Piper skryf só oor gehoorsaamheid: “Dit maak geen sin dat God van kinders verwag om hul ouers te gehoorsaam en dan nié van ouers verwag om gehoorsaamheid van die kinders te vereis nie. Dis ’n deel van ouers se werk om kinders die heerlikheid te leer van ’n gelukkige, onderdanige gees. Gesagsdraers is immers deur God in ons lewe geplaas.
“Ouers verteenwoordig God by hul jong kinders, en dis érg om daardie kinders groot te maak met ’n geneigdheid om God se bevele te ignoreer.”
Marius sê dat ouerlike gesag, soos die Bybel dit voorskryf, kinders geestelik vorm. En daarom moet die kinders by die gesin se geloofsbeoefening betrek word. “Ou Testamentiese feeste, soos die pasga, het spesifiek voorsiening gemaak vir kinders om geloofsvrae aan hul ouers te vra. Lees maar Eksodus 13:8.”
Die ‘jy is genoeg’-refrein
“’n Wonderlike geskenk aan ouers is dat hulle nie alles hoef te weet of alles hoef te wees nie,” sê Nadia. “Dat hulle saam met hul kind, en saam met ander mense wat ook oor kinders besorg is, kan groei en leer.
“Dis nie ouers se verantwoordelikheid om hul kinders gelukkig te maak nie; dis wel hul verantwoordelikheid om die kinders veilig te hou. Ouers moet hulle beywer vir hul kinders se welwese.
“Dit vra dat ouers allereers aan hulleself werk, aan hul verhouding met die ander ouer, die lewensmaat. Dat ouers aandag gee aan hul eie onverwerkte trauma, wat soms uit hul kinderdae voortkom. En dat hulle hul onsekerhede en vrese en angs trompop loop, asook hul gebrek aan selfliefde en selfrespek.”
Bogenoemde is allernoodsaaklik, sê Nadia. “Want wanneer ons geestelik en emosioneel gesproke gesond is en met volwassenheid kan reageer op dit wat die lewe na ons kant toe gooi, kan ons – met baie geduld en baie herhaling en baie liefde – die nodige leiding aan ons kinders gee. En, wie weet, dalk word ons later die sagte stem in hul agterkop wat hulle daaraan herinner dat hulle genoeg is – en goed genoeg – sonder dat hulle te hard hoef te probeer.
“As óns kind net dit kan oorhou van my ouerskap, die ‘jy is genoeg-refrein,’ is dit vir my genoeg.”

















