Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Ouers langs die sportveld

Ouers langs die sportveld

Om jou kinders op die sportveld te sien meeding, wek uiteenlopende emosies: opwinding, afwagting,  hoop, maar ook senuweeagtigheid en selfs angs. Jy wil dolgraag hê hulle moet sukses behaal sodat julle almal trots kan wees. 

Maar die grens tussen gesonde aanmoediging en ongesonde druk is papierdun, en dit word maklik oorgesteek. 

Ouers se ego langs die sportveld

“Die skolesportomgewing word ál meer kompeterend, veral wat spansport betref,” sê Gielie Hoffmann, geestesbreier (oftewel “mental coach”) van Pretoria, en skrywer van The tough athlete: 10 tools to improve your mental toughness. 

Hy vervolg: “In baie gevalle duur sportsoorte, wat vroeër tot ’n kort seisoen beperk was, nou die beste deel van die jaar. Waar daar destyds twee oefeninge per week was, is daar nou vier. Én die oefeninge hou langer aan. Pleks van een is daar twee wedstryde per week. In baie van die groter skole word daar van topdeelnemers vereis om sport soos ’n professionele atleet te benader.   

“Dit sorg vir toenemende druk, en dit beïnvloed nie net die kinders nie, maar ook die ouers wat hulle ondersteun. Sommige ouers verloor hul emosionele balans omdat hulle ongelukkig voel oor ’n skeidsregter se beslissing, ’n spanmaat se spel, of selfs hul kind s’n. 

“Die ouers se ego is as ’t ware op die spel. En die intense emosies wat hulle tydens die wedstryd ervaar, gaan soms gepaard met verminderde impulsbeheer, wat ’n uitbarsting tot gevolg kan hê.”

Is ’n meer heilsame benadering moontlik? Kan dit geskep word?

“Daar is geen kitsoplossing nie,” sê Gielie, “maar dis sinvol om te besin oor wat sport vir ’n kind kan beteken. En watter rol ouers en afrigters en die skool, ideaal gesproke, hierin kan speel.”

Sport op skool

Oor die waarde van sport op skool sê Gielie: “Sport bied kinders ’n uitstekende geleentheid om dissipline, veerkragtigheid en spanwerk aan te leer. Hulle ervaar eerstehands dat toewyding en volharding vrug dra. 

“Daarby gee dit ’n kind se selfvertroue, identiteitsvorming en sosiale ontwikkeling ’n hupstoot. ’n Kind wat sport op skool geniet, sal ná skool waarskynlik voortgaan met die een of ander fisieke aktiwiteit.

“By ouers en afrigters wat sport in ’n goeie gees benader, kan kinders beginsels leer wat hulle lewenslank kan toepas om sukses, druk en teleurstelling behoorlik te kan hanteer.”

Hoe nou, liewe ouer?

“Kinders het die behoefte aan ’n ouer wat hulle ondersteun, ongeag wat gebeur,” sê Gielie. “Sodra ’n ouer egter die afrigter of skeidsregter se hoed opsit, kan dinge sleg skeefloop.

“Dis verstandig om sport ouderdomgepas te benader. Van voorskool tot graad 5 moet kinders blootstelling aan ’n verskeidenheid sportsoorte geniet. Dis waar hulle agterkom waarvan hulle hou. Dit moet ’n genotvolle ontdekkingstog wees, met min druk.

“Van 12 tot 14 jaar is ’n oorgangsfase waartydens kinders dikwels ernstig raak oor sport. Hulle sal tipies sê: ‘Ek wil in die A-span wees.’ Hulle kan baie druk op hulleself plaas. Hier is ouers se funksie om ondersteunend te wees en die kind se toewyding te ewenaar. Om dinge te sê soos: ‘As jy hard werk, sal ek doen wat ek kan om jou die geleentheid te gee.’ 

“’n Gaping tussen die kind se toewyding en die ouer s’n, soos ’n kind wat wil presteer bloot om die ouer tevrede te stel, skep spanning.

“Van 14 tot 18 jaar, veral in die geval van A-spanspelers, is dit goed as die kinders 70% van die verantwoordelikheid dra. Laat hulle, byvoorbeeld, hul eie kospakkie en sportklere inpak. Op dié manier aanvaar hulle eienaarskap van hul sportbetrokkenheid.

“Tydens die laaste twee fases speel die ouer toenemend die rol van ‘skokabsorbeerder’. Hulle bied op ’n kalm manier perspektief wanneer spankeuses, beserings of druk ter sprake kom. Só skep hulle ’n vertrouensverhouding sodat die kind enige onsekerheid of kwelling met hulle kan deel. As die ouer te krities of te prestasiegerig is, word dié veilige ruimte ál kleiner. 

 “Hierdie rol kan slegs deur die ouer vervul word, nie deur die afrigter nie. En as die ouer beskikbaar en ondersteunend is, sal die kind op alle vlakke beter vaar.”

Gesonde en ongesonde druk 

“Sportdeelname betree ’n omgewing wat heelwat druk behels,” sê Gielie. “Hoe ouers en afrigters en deelnemers dié druk benader en hanteer, bepaal of die deelname verrykend is of nie.  

“Gesonde druk help kinders om hul beste te lewer; ongesonde druk verhoed dit. In dié opsig gee ouers en kinders en afrigters se taalgebruik dikwels die deurslag. Om te sê ‘ons móét vandag wen,’ is ongesond. Om te sê ‘vandag wil ek regtig my bes lewer,’ is gesond. 

“Indien jou kinders erken dat hulle druk ervaar, kan jy hulle help deur hul fokus te verskuif na ’n doelstelling wat meer haalbaar is, maar wat hulle steeds aanvuur.

“’n Praktiese voorbeeld van hoe ouers hul kinders kan ondersteun, is om op te let hoe en waaroor julle in die motor praat wanneer julle op pad is na ’n wedstryd of ’n byeenkoms. Vermaan jy jou kinders om hul sokkies op te trek, of skep jy doelbewus ’n kalm omgewing deur, byvoorbeeld, hul aandag ’n bietjie af te trek?

“En hoe reageer jy ná die wedstryd? Kinders wat die veld of baan verlaat, is op hul kwesbaarste. Hulle is moeg, hul bloedsuiker het gedaal, hul streshormone is hemelhoog. En hul vel is dun. Dis nou die tyd om die kind, ongeag wat tydens die wedstryd gebeur het, ’n ‘high five’ of ’n drukkie te gee. En iets om te eet of te drink.  

“Jy het dalk nou heelwat te sê, maar wag eers totdat jy rustig is en meer perspektief het. Kinders wat ’n fout gemaak of swak gevaar het, is deeglik daarvan bewus. Jy hoef dit nie uit te wys nie. 

“Indien julle ’n goeie verhouding het, kan jy later daaroor gesels. Vra dan jou kinders só uit: ‘Waar dink jy het jy goed gevaar? Waaraan wil jy nog werk?’ 

“Plaas die klem op dit wat binne die kind se beheer is. Jy doen jou kind geen guns wanneer jy die skuld op ’n spanmaat of die skeidsregter pak nie. Dit kweek bloot ’n slagoffermentaliteit. Onthou ook dat negatiewe praatjies oor die afrigter jou kind met innerlike konflik opsaal.” 

Dis sinvol as ouers saam met hul kinders besluit watter waardes hulle tydens sportdeelname wil uitleef. Hieroor sê Gielie. “Is jy slegs trots wanneer jou kind of jou kind se span goed presteer, of toon jy ook waardering vir ander aspekte? Hopelik sê jy soms ook dinge soos: ‘Ek gee nie soseer om of jy wen of verloor nie. Indien jy al die oefeninge bygewoon het, hard gewerk het, jou beste gelewer het op die veld, moeilike situasies goed hanteer het en eerbaar opgetree het, het ek die grootste respek vir jou.’

“Wanneer jy jou kind egter oorbewus maak van die uitslag, speel jou kind nie meer om te wen nie maar om nié te verloor nie. Daar is ’n verskil. 

“Jou stem is die eerste wat jou kind soggens hoor en die laaste voor hulle gaan slaap. Dink goed na oor dit wat jy oordra en voorleef.”

Lees ook: Hanteer jou kind se teleurstellings sinvol.

Wat is die skool se rol? 

Baie skole het ’n sportbeleid wat ouers moet onderteken indien hul kind aan sport deelneem. Dit omskryf toelaatbare gedrag en die stappe wat gevolg word indien ouers daarvan afwyk.

Dikwels tree een ouer op as middelman tussen ’n span se afrigter en die betrokke ouers. Dié persoon hanteer die administrasie en kan met ander ouers skakel indien kommerwekkende gedrag voorkom. Hoe vroeër dié soort kommunikasie, hoe beter – voordat die slegte gedrag eskaleer. 

Afrigters kan aan die begin van ’n seisoen uitstippel watter reëls geld, onder meer: “Ons is betyds vir oefeninge; ons praat mooi met mekaar op die veld,” ensovoorts. Dit kan op ’n plakkaat uiteengesit word. Kinders reageer goed op grense wat deursigtig is en reëls wat konsekwent en regverdig toegepas word.   

Wanneer kinders ná afloop van ’n seisoen as ryker mense daar wegstap, neem hulle volgende jaar weer deel. Dis die éintlike oorwinning. 

– Kontak Gielie Hoffmann by gielie@gieliehoffmann.co.za of besoek www.gieliehoffmann.co.za

– The tough athlete: 10 tools to improve your mental toughness is ’n handleiding vir sportmanne, afrigters en ouers wat deur Gielie Hoffmann geskryf is. Daar is ’n Kindle-weergawe op Amazon beskikbaar. 

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►