“Al wat ek ooit wou wees, is ’n mamma. Min het ek geweet wat die reis sou inhou,” vertel Rusanne Liebenberg van Kemptonpark. Sy vertel van God se genade tydens twee moeilike swangerskappe, die verlies van ’n eersteling en ’n wonderwerkdogtertjie.
Kort na ons tweede huweliksherdenking in Desember 2022, verras ek my man Dirco met ’n vroeë Kerspakkie met ’n bordjie daarby: “Geseënde Kersfees, Pappa!”
Dit nadat ek uit pure opgewondenheid ’n ruk lank elke week ’n tuisswangerskapstoets gedoen het.
Met God se genade het ons reis met ’n eerstelingseuntjie begin – Andru, ’n mengsel van my en Dirco se name. Dit beteken “moedig” en “braaf/sterk”. Hoe gepas die naam se betekenis sou wees, sou ons weldra besef.
LEES OOK: 440 g-wonderwerkie word binnekort vyf en sieklike ma veg voort
Aprilmaand was sy kamer al gereed; hy moes net op 25 Augustus arriveer.
Op 18 Mei, op Dirco se verjaardag, het ek erge pyn begin ervaar en besef iets is verkeerd.
In die hospitaal, op die ongevallebed, moes ek hoor dat ek op 26 weke reeds 6 cm ontsluit is.
’n Mens weet nie wat om te doen nie, ’n mens weet net dis heeltemal te vroeg.
Omdat Andru reeds in die geboortekanaal was en sy hartkloppie baie swak, kon ek geen pynmedikasie ontvang nie. Daar was geen manier om die proses te stop nie.
‘Daar was geen geluid nie’
Andru is daardie aand normaal gebore.
Daar was geen geluid nie, die kamer was stil. Die pediater het hom dadelik geïnkubeer en in die broeikas geplaas sonder dat ons hom kon vashou. Sy Apgar-telling was 2/10.
Toe die pediater die broeikas tot langs my bed stoot, kon ons hom vlugtig bewonder. Dirco het ’n foto geneem en toe verdwyn hulle na die neonatale intensiewesorgeenheid (NICU).
Ons seuntjie was ons grootste trots. Al was die skok so groot.
Dirco kon later nog foto’s en video’s van Andru gaan neem; sy Apgar-telling was 9/10.
Kort nadat Dirco doeke en babagoedjies by die huis gaan haal het, het hy eers by Andru ingeloer. Hy het by my kamer ingekom en begin huil, dinge het nie goed gelyk nie.
Dirco het my in ’n rolstoel na Andru gestoot. Ek kon hom inneem, sien hoe volmaak sy lyfie is. Die dokter het ons uitgestuur, hy sou ons roep sodra Andru stabiel is.
Maar kort daarna kom die pediater en verpleegpersoneel my kamer binne. Met gesigte wat boekdele spreek.
‘Hy is sterwend’
“Julle moet kom groet, hy is sterwend.”
Dit was die seerste woorde wat ons net wou wegwens. “Hoekom, Here?”
Ons het langs sy broeikas gesit. Met elke beweging het ons gehoop dis iets positiefs, maar dit was die masjiene en medisyne. Andru het aanhou veg, maar sy longe was te swak. Daar was bloeding op sy brein en sy lyfie kon nie veg teen die infeksie wat hy opgedoen het nie.
Elke moontlike dokter van neuroloog tot kardioloog was daar, maar niemand kon hom red nie.
Hy was 12 ure lank vir ons geleen.
Daar was nie eens tyd om sy eerste pakkie klere aan te trek of dat ons sy eerste doek kon ruil nie.
Daar was geen antwoorde oor ‘hoekom’ nie. Ons het gehoop vir antwoorde deur toetse op my plasenta, maar dit is nooit weggestuur nie.
Omdat babas voor die 24 weke-merk as mediese afval beskou word, het woede ons deurdrenk. Hoe kan so ’n mensie nie waardig wees nie? Ons seuntjie het geleef, hy is waardig. Gelukkig kon ons sy liggaampie veras en afskeid neem.
Vandag het ons net ’n doodsertifikaat, geen geboortesertifikaat nie. ’n Mens kan nie ’n geboorte registreer na die sterfte nie. Twaalf ure was nie genoeg nie.
Dit het gevoel of ons lewe uitmekaar val. Ons, voorheen sosiale vlinders, was nou soos kluisenaars. Ons het heeltemal anders na die wêreld begin kyk. Ons het vriende en familie verloor omdat die situasie te ongemaklik vir hulle is.
Sodra iemand iets vanselfsprekend aanvaar, wou ons skree. Mense het dinge uit onkunde gesê, woorde wat soos ’n mes sny, dan huil ons agter toe deure.
Die rouproses is moeilik vir ouers wat ’n kind verloor het. Dit hou nooit op nie. Elke dag bring nuwe vloede van emosies.
Tog het God ons aangehou dra. My en Dirco se liefdesband het sterker geraak as ooit voorheen.
Ons het Andru se kamer net so gelos. Dis waar ons sit as vrae te veel raak en trane aanhou vloei. Dis ook waar ons met God praat.
Terwyl ons weer probeer swanger raak, het ek weer weekliks ’n swangerskaptoets gedoen. Dokters het gesê hierdie keer sou daar baie voorsorg getref moes word omdat ek ’n “inkompetente serviks” (serviks-swakheid) het. Steeds het ons aanhou vertrou.
Januarie 2024 was ek swanger! Weer ’n verrassingspakkie vir Dirco op ons bed. Ons kontak dadelik ’n nuwe ginekoloog wat in hoërisikoswangerskappe spesialiseer.
Toe ons daai hartkloppie vir die eerste keer hoor, het emosies ons oorweldig.
Ter voorkoming moes ek ekstra progesteroon kry en op 14 weke ’n mediese stekie wat die serviks toe hou.
Ons was bekommerd en bang, maar ons het aangehou bid.
God het geantwoord
Dis ’n dogtertjie! Elianey, dit beteken ‘God het geantwoord’.
Op Vadersdag kry ek geweldige pyne op my buik. Dit laat my en Dirco die 37 km-rit na ’n ander hospitaal aanpak.
Op 23 weke hoor ons weer: “Dis kontraksies.”
Ons kyk vir mekaar en begin huil. Lelik huil.
Net soos met Andru, het ek g’n infeksie gehad nie. Ek is dadelik opgeneem vir medikasie om die kontraksies en infeksie te keer.
Dirco het getrou langs my gewaak terwyl ek baie gebid het en Christelike liedjies gesing het soos dit in my kop opgekom het.
Ses dae later word ek ontslaan. Weer ervaar ons ’n bonatuurlike teenwoordigheid. Volgens die dokter het die servikale stekie ’n geboorte voorkom. Ek wéét dis God; hierdie swangerskap is net ’n wonderwerk.
Hierna begin ons met Bybelstudie uit Johannes en Jesus se sewe wondertekens. Asook baie bedrus, kortisooninspuitings om die longetjies te ontwikkel en ek gaan versigtig terug werk toe. Heeltyd lê ons die swangerskap voor God se voete neer.
Van week 30 af volg gereelde doktersbesoeke weens pyn en afskeidings.
Middel Augustus raak my bloeddruk baie laag, en Vrydag 23 Augustus vind die dokter bloeding tussen my plasenta en membrane.
Nogeens observasies in die hospitaal. Vroeg Sondagoggend raak die pyne érg. ’n Volgende sonar wys meer bloeding en verminderde vrugwater. Toe die dokter sê: “Dis tyd om Sussie uit te haal,” gebeur alles vinnig.
“Hoe is ons weer hier, Here? 33 weke is te vroeg!”
Eers in die teater besef ek dis 25 Augustus, Andru se due date.
Ons klein prem-dogtertjie word kort daarna met ’n keisersnee gebore.
Met haar eerste huil het ek en Dirco ordentlik saamgehuil.
Ons kon haar sien en teen ons bors druk. ’n Oomblik lank voel alles normaal, maar toe staan ons weer voor ’n NICU-bedjie. Dit voel bekend en die vrees oorweldig ons. Maar ons hou vas aan God en sy beloftes.
Elainey se veggees
En Elianey veg; sy verbaas ons almal met elke mylpaal wat sy bereik.
In die broeikas kon ons haar hanteer tussen drade en pypies deur.
Ons hart trek swaar wanneer ons na besoektye huis toe ry, maar geleidelik begin dinge beter raak en ons mag haar teen ons vashou.
In die NICU beleef ons wonderlike ondersteuning tussen ander ouers en verpleegsters. Ons voel God se genade.
Toe Elianey na 23 dae ontslaan word was ons doodmoeg, maar verwonderd oor haar veggees.
Ons hart is vol dankbaarheid oor Elianey, maar ons verlang daagliks na Ouboet Andru. Tog weet ons ons sal hom eendag in God se koninkryk weer sien.
Wanneer mense vra of Elianey ons eerste baba is, kry ons ’n knop in die keel en vertel dan Andru se storie. Ons is trotse ouers van twee kinders met ’n veggees wat skrik vir niks.
Ek weet steeds nie of ’n volgende swangerskap minder gevaarlik sal wees nie. Maar vir eers fokus ons op die hier en nou en los die toekoms in God se hande.
Vandag is ons net nederig dankbaar. Al was die reis ondenkbaar moeilik.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.