Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Pelgrims

Ek het ’n ligte tikkie op my skouer gevoel en omgedraai. Die man voor my het ’n groen stuk papier en ’n pen na my toe uitgehou. “Help my asseblief, Mama,” het hy gevra. “Ek kan nie skryf nie.”

Ek het die vorm by hom geneem en begin invul soos hy my voorgesê het. Ek het so onderlangs na hom geloer. Sy broek met die gestrykte nate, die blink skoene. Daar in die afgeleefde kantoor van die verkeersdepartement met sy rye ongeduldiges het die ongeletterde man onvanpas gelyk. Amper te netjies vir die omgewing waar ons ons bevind het.

Hy het my hartlik bedank nadat die vorm ingevul is en hy ’n kruisie gemaak het waar ek hom gewys het.

Dae later het ek steeds aan dié man gedink. Iemand wat al seker meer as ses dekades lank leef, en nie kan lees of skryf nie.

Hoe is dit om nie te kan lees of skryf nie? Hoeveel van hierdie wêreld bly vir jou geslote as jy nie dié vaardigheid het nie? Hoe kom jy oor die weg?

 

Ons wat wel kan lees en skryf, leef ook in ’n wêreld waarin baie dinge vir ons duister bly. Ons wat God liefhet en Hom aanbid, voel dié onverstaanbaarheid, die verborgenheid, selfs meer akuut aan. Ons dien ’n God wat alles weet, wat met sy kinders praat deur die Bybel en die Heilige Gees – en tog is daar baie dinge wat Hy nie aan ons openbaar nie.

God gee nie altyd antwoorde nie, en ons kan nie altyd alles ontsyfer nie. Ons bly vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld, soos Petrus sê (vgl 1 Pet 2:11).

In hierdie sin is ons soos daardie man wat nie kan lees en skryf nie. Ons weet hoe dit voel om die lewe nie te verstaan nie.

Maar tog het ons hierdie hoop: dat ons kan hulp vra, én dit op die regte tyd sal kry.

 

Ons leef dus soos pelgrims in hierdie wêreld, afhanklik van ander se goedheid en raad. Afhanklik van God om die lewe vir ons te help ontsyfer.

Wanneer ons ’n pelgrimsperspektief het, kyk ons anders na die lewe. Ons besluite en ons dade, ons gedagtes en ons drome lyk anders. Ons leer ken ons eie beperkings, maar ons begin ook om ons eindelose potensiaal raak te sien. Daardie potensiaal wat Godgegewe en God-gerig is.

Pelgrims kies dikwels ook afdraaipaaie, maar ons stap deur die lewe met die besef dat Jesus die Roete is waarlangs die lewenspad lei. Dat Hy ook ons Reisgenoot is. Soms praat Hy met ons, soms is Hy stil. Soms gee Hy ons die lewensbrood uit sy hand, soms gebruik Hy ander om aan ons ’n beker koue water te gee.

Soms gee Hy antwoorde, soms nie. Soms help Hy op ’n wonderwerkende wyse, ander kere gebruik Hy jóú hande en kundigheid om hulp te verleen. Soos daardie dag toe ek die groen vorm ingevul het met ’n vaardigheid wat ek as vanselfsprekend aanvaar. Een pelgrim wat ’n ander pelgrim op die lewenspad help, doodgewoon, sonder ophef, op daardie plek waar ons paaie gekruis het.

Francine, redakteur se handtekening. Lees nog redakteursbriewe hier.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF