DEUR ANTON PRETORIUS
Perdeterapie is ’n innoverende, ervaringsgerigte, psigoterapeutiese benadering wat perde aktief by geestesgesondheid betrek. Dis ’n soort behandeling wat dié skrywer gehelp het om sy demone te takel.
Baie mense probeer om die stigma rakende geestesongesteldhede intern te prosesseer. Jy voel skaam, skuldig en verleë. En jy is onwillig (en soms doodgewoon nie daartoe in staat nie) om behandeling te soek. Dit het erge stres tot gevolg, en angs. En dit kan in ’n bose kringloop ontaard.
‘Ek is ’n alkoholis, maar die Here het ’n saak met my,’ sê Jaaco Rademeyer
My lewenslange stryd met verslawing, angs en depressie het my lewe, en my gesin s’n, tot op die rand van totale vernietiging gebring. Ek was platsak en werkloos, en my vrou en driejarige seuntjie was op die punt om my te verlaat. Ek was 37 jaar oud.
Een naweek het ek in ’n tronksel beland. Ek het behoorlik die put se bodem getref. Ek was geestelik, finansieel, liggaamlik en emosioneel teen die grond. Selfdoodgedagtes was my gereelde metgesel. Ek was desperaat. Daar moes eenvoudig ’n ommeswaai in my lewe kom.
Wanneer ek vandag daarop terugkyk, besef ek dit was ’n broodnodige wekroep. Ek moes eers beleef hoe selfvernietiging lyk voordat die herbouproses kon begin.
Die kliniek en die perdeplaas
Met die ondersteuning van my gesin is ek oplaas by Life Path Health se Sereno-kliniek in die Paarl opgeneem. Dis ’n private geestesgesondheidshospitaal vir volwassenes, waar lewensvaardighede soos streshantering, selfagting en kommunikasie aangeleer word, en op persoonlike verhoudings gefokus word.
Een van die sessies wat die kliniek aanbied, is perdeterapie.
As skrywer en verslaggewer, liberaal en rebels, was ek nog altyd skepties oor vae, onwesenlike, “pie in the sky”-begrippe. Dit wil sê enige iets wat nie wetenskaplik bewys kan word nie. Die idee dat perde kan bydra tot die verbetering van ’n mens se gemoedstoestand was vir my bitter vreemd.
Slegs ’n handjievol van die Sereno-pasiënte is vir dié uitstappie gekeur, en ek het probeer om die situasie oopkop te benader. Ek was trouens selfs effens opgewonde oor dié ongewone avontuur.
Vroegmôre is ons in ’n bussie gelaai en na ’n perdeplaas in Agter-Paarl geneem waar van rylesse tot sorgfasiliteite aangebied word. Hier is ons voorgestel aan Earth-Soul Connection, ’n perde-ondersteunde psigoterapiepraktyk-vennootskap wat in 2019 gestig is. Die psigiater dr Karien Botha en perdespesialis dr Gail Venecourt neem hier die leiding.
Karien is ’n gesoute geestesgesondheidspesialis in die Paarl, en boonop ’n perdeliefhebber. Gail het twintig jaar gelede besluit om haar werk by die Landbounavorsingsraad te los ten einde voltyds met perde te werk. Sy beskik oor verskeie kwalifikasies in landbou, wat dieregedrag insluit. Sy staan wyd bekend as een van Suid-Afrika se voorste perde-fluisteraars.
Karien en Gail is albei lede van die Perde-Ondersteunde Psigoterapie Instituut van Suid-Afrika (EAPISA) wat in 2007 gestig is deur die kliniese sielkundige Kim Kidson.
Tydens die bekendstelling het Gail en Karien die terapiemetodes verduidelik wat Earth-Soul Connection toepas. Dis ’n soort sielkundige terapie wat mense met perde verbind sodat eersgenoemde gehelp kan word om emosionele kwessies of trauma te verwerk.
Gail en Karien help meestal mense met verslawingsrehabilitasie en hul geestesgesondheid. Die gebruik van perde vir terapeutiese ingryping word aangemoedig ten einde emosionele groei en genesing te bevorder.
“Die perd is ’n spieëlbeeld van jou emosies,” verduidelik Gail. “Perde se emosionele intelligensie maak hulle doeltreffende terapie-diere. Dis ’n konsep wat vir baie mense vreemd mag klink, maar dit is so dat perde emosies kommunikeer. Net soos mense, is perde sosiale wesens.”
Jou verhouding met ’n perd gee ’n aanduiding van jou benadering tot die lewe
As prooidiere wat voortdurend veg om oorlewing, kommunikeer perde hul gevoelens aan die res van die trop, asook hoe hulle die omgewing waarneem. “Perde dra hierdie boodskap ook aan mense oor,” sê Gail. “Indien ons dit regkry om hul lyftaal te lees.”
As ’n perdespesialis is dit Gail se taak om die perd se gedrag te ontleed en daardie bevindings te gebruik om die pasiënt te help om sy of haar emosionele toestand te verbeter. Die individuele verhouding met die perd word volgens dié drie terapie-pilare geëvalueer: konneksie (verbintenis); kommunikasie; leierskap.
Pasiënte kry die opdrag om die perd met een hand deur ’n noukeurig-saamgestelde hindernisbaan te lei, terwyl die ander hand ’n sak perdevoer en ’n ketel vol koue water vashou. Laasgenoemde verteenwoordig op ’n simboliese manier die bagasie wat jy met jou saamsleep.
Om ’n perd deur ’n doolhof te lei, sonder om angstig te wees of oorheersend op te tree, is nie maklik nie. Maar dit, het ek agtergekom, is die kruks van die saak. Die lewe is nie perdekoop nie. Dis dikwels ’n uitdagende stryd, en jou verhouding met ’n perd gee ’n aanduiding van jou benadering tot die lewe.
Dit bied jou blootstelling aan probleemoplossingsvaardighede, soos hoe om persoonlike grense te handhaaf, konflik te bestuur, verantwoordelikheid te aanvaar, en hoe om jou gevoelens mondelings oor te dra.
My eerste interaksie met die perd was een van ruk en stoot. Karien het gou my ongemak uitgewys, en só die spyker op die kop geslaan. “Jou verhouding met die perd dui op impulsiwiteit,” het sy gesê. “En daar is ’n steurende krag in jou verlede, wat steeds by jou spook en wat jou terughou. Jy sukkel met vooruitgang en verantwoordelikheid.”
Daardie diagnose was nie ’n raaiskoot nie; dit was gegrond op ’n aantal waarnemings van my interaksie met die perd. Dit was besonder akkuraat.
Ek het Karien se opdrag gehoorsaam en my gedagtes skoongemaak. Toe sleep ek my emosionele bagasie saam terwyl ek weer die leisels optel. Toe die perd vassteek, het ek stil geword, diep asemgehaal, en vorentoe gekyk.
Ná die derde probeerslag was ek en die vurige afgetrede resiesperd Roman goeie vriende. Daar was vertroue tussen my en hom. Hy het begin besef dat ek meer beslissend opgetree het, dat ek eerlik was oor my emosies.
En ek het geleer ’n perd het die vermoë om dwarsdeur jou te sien.
Volgens Gail help die versorging van ’n perd die betrokke pasiënt om empatie te ontwikkel. Om werklike verhoudings tot stand te bring. Karien sê: “Dis veral doeltreffend vir geestesversteurde mense, asook dié wat aan dwelms verslaaf is. Dit stel hulle in staat om emosies en ander probleme te takel deur hierdie direkte ervaring, en deur nie-verbale kommunikasie.”
‘My oogklappe het uiteindelik afgeval’
Die laaste stap van die oefening was om ’n rukkie alleen saam met Roman te wees, om my hart by hom oop te maak. “Vertel hom alles en enige iets,” het Karien gesê. “Die dinge wat jou pla, dit wat jou gelukkig maak of motiveer.
“Die perd luister, maar praat nie saam nie. Hy praat ook nie terug nie. Perde is die perfekte luistermaats,” het sy bygevoeg.
Terwyl ek daar gestaan en my hart uitgehuil het, en die perd vertel het van my verslawing en depressie asook my onvermoë om ’n goeie mens, pa en man te wees, het iets in my kop gebeur. Ek het opeens besef dat ek en die perd emosioneel met mekaar verbind is. En ek het kalm geword.
’n Diepgaande en bevrydende ervaring
Vir die eerste keer was my lewe se koers duidelik sigbaar. Ek het begryp wat met my aan die gang was, hoe ek besig was om my selfbeeld te vernietig.
Ek weet nie hoekom die terapie gewerk het nie, maar dit het. Dit het my uit ’n baie donker plek gered.
Ná hierdie diepgaande en bevrydende ervaring het ek tot die besef gekom dat ek meer selfvertroue het, bedagsamer is, en meer in voeling met my emosies. Ek is beslis meer selfgeldend en selfversekerd. Dis asof my oogklappe uiteindelik afgeval het.
Voor my ervaring met die perde was ek die soort mens wat maklik tou opgegooi het as dinge moeilik raak. Dwelms en drank was my ontsnappingsmeganisme wanneer die lewe my ondergekry het.
Ek bevind my steeds op die herstelpad, maar ek kan nou sê dat ek ’n nuwe uitkyk op die lewe het. Ek is nader aan my gesin, aan myself en aan God.
Ek het by Earth-Soul Connection opgedaag tydens ’n laagtepunt in my lewe. Ek het niks verwag nie. Ek het daar uitgestap met ’n nuwe, positiewe blik op die lewe. Ook as ’n bekeerling van perde-ondersteunde psigoterapie.
Die belangrikste les wat ek hieruit geleer het?
Om met geestesongesteldheid te leef, is dapper; dis geen skande nie.
- Vir meer inligting, besoek gerus earthsoulconnection.com
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.