“Ek was verskriklik kwaad vir die Here. Ek kon nie aan ’n Bybel vat óf bid nie.
“My droom om ’n seun te hê, ’n erfgenaam vir die plaas, het voor my oë versplinter. My wens om die familietradisie voort te sit, die vyfde generasie wat hier boer, is van my af weggeneem.”
‘Soms het ek gewens dat my kind net sy kop kan stamp …’
Dié woede het gevolg nadat dokters vasgestel het dat Kotie se enigste seun Cobus verstandelik gestrem is.
Kotie Kriel (nou 77), ’n vrugteboer buite Montagu, gesels openlik oor sy seun Cobus (nou 45) se gestremdheid.
Hy vertel: “My vrou Annelie het vroeg al opgemerk dat die kind ‘snaaks’ huil en dat sy ontwikkeling op ses maande nie is soos ons twee dogtertjies s’n was nie.”
LEES OOK: Vrou wat drie kinders tuis versorg: ‘God help my om die wedloop met ’n blye hart af te lê’
Maar ná ’n besoek aan ’n spesialis by Tygerberg-hospitaal in Kaapstad kon die werklike probleem nog nie gediagnoseer word nie. Daar is bloot gesê Kotie en Annelie moet berus in die wete dat hul kind nooit sal kan praat nie.
Daarop is die ouers na prof Leary by die Rooikruis-kinderhospitaal se psigiatriese afdeling.
Etlike bloedtoetse is gedoen. Twee weke later het die professor gesê dat Cobus se vyfde en sewentiende chromosome foutief is. Die uitslae is na Parys, Frankryk, gestuur. En só is vasgestel dat Cobus se afwyking maar die derde soortgelyke geval ter wêreld is.
Die werklikheid het hulle hard getref. Kotie vertel: “Ek was geweldig ontsteld. Ek het my gevoelens weggesteek vir my vrou, want sy het swaar genoeg gehad.
“Maar ek het dikwels ver die veld in geloop en kliphard geskree. Ek het klippe opgetel en dit weer op die grond neergesmyt.
“Soms het ek gewens dat my kind net sy kop kan stamp, of val, sodat sy verstand kan ‘regkom’. Al het ek geweet dis onmoontlik.”
‘Ek het begin om hom op my skouers rond te dra’
Kotie vertel: “In daardie tyd was ek maar ’n ‘bo-oor’ Christen. Aanvanklik het ek vir die Here gevra hoekom ek hierdie kind moes hê. Ek was ook briesend as mense vir my sê dat hulle jammer is … maar dat die Here weet vir wie om so ’n kind te gee.
“Ek moet ook erken dat hierdie kind ’n stremming op ons huwelik geplaas het. Alles was ’n uitdaging, want hy het die verstand van ’n vierjarige.
“So dikwels het ek my op moedverloor se vlakte bevind, en dan beïnvloed dit die atmosfeer in die huis. My vrou het my regop gehou.
“Maar toe, hoe meer ek by Cobus betrokke geraak het, hoe meer het ek sy toestand aanvaar. Ek het begin om hom op my skouers rond te dra, totdat hy amper 11 was. Dit het die band tussen ons versterk. En toe ek my weer kom kry, was ek so lief vir daardie kind dat dit eintlik seermaak.”
Almal op die plaas het hom opgepas; Cobus was ’n regte plaaskind.
‘Hallo, ek is ook hier!’
Vir die eerste sestien jaar van sy lewe is Cobus se vordering by die Rooikruis-kinderhospitaal gemonitor, want hy was die enigste mens met dié foutiewe chromosome wat ’n paar woorde kon praat. “En dit danksy sy ma en sy ouma se toewyding.
“My hewige emosies rakende my kind se toestand het stadigaan bedaar. As jy in die Rooikruis-kinderhospitaal se gange rondloop, sien jy stootkarretjies vol gestremde kinders. En wanneer ek daar uitstap, het ek die Here gedank vir alles wat ek het.”
Cobus is na die Alta du Toit-skool vir gestremdes in Kuilsrivier gestuur. Daar is hy geleer om homself te versorg. Naweke het hy plaas toe gekom.
Hy was agttien toe hy finaal teruggekeer het plaas toe. “Want hy is gelukkig op die plaas,” sê sy pa, “en die omgewing se mense ken hom. Hy kan nie boer nie, maar hy gaan oral saam.
“Hy praat dat jy hom kan verstaan en hy het ’n egalige temperament. Eintlik is hy ’n regte platjie en hy maak graag grappe, so op sy lomp manier. Soms sal hy my hard in die maag slaan. Dalk is dit net sy manier om te sê: ‘Hallo, ek is ook hier!’ Maar hy weet hy mag nie aan ’n vrou slaan nie.
“Hy kan egter nie rigting hou nie en is ook baie stadig. Tog beskik hy oor ’n buitengewone goeie gehoor, sig en reuksintuig. Hy trek homself aan, maar ek moet hom bad, sy hare was en hom skeer.”
‘Hy het verhoed dat ek in ’n diep, donker gat beland’
Ná ’n baie gelukkige huwelik van 47 jaar is Annelie onverwags aan ’n hartaanval oorlede. Kotie het vir die Here gesê dat hy nie sonder sy vrou kon voortgaan nie.
Hy onthou: “Skielik was ek stoksielalleen met Cobus. Daardie kind, wat ek aanvanklik nie wou aanvaar nie, was toe die een wat my by my positiewe gehou het. Hy het my onmiddellik as enigste ouer aanvaar. En op sy manier vir my gesorg. Hy het gesê: ‘Pa, trui, koud’ as ek sonder ’n trui in die koue loop. En: ‘Pa, hare koekoes’ as ek my hare moes kam.
“Ons twee was deurentyd bymekaar, en hy het verhoed dat ek in ’n diep, donker gat beland.”
Die vele wonderwerke
“Op ’n dag het ek gaan sit en begin tel hoeveel wonderwerke ek beleef het: my goeie vrou; dat ’n haelbui op my huis se dak val en my wingerde vyftig treë verder niks oorkom nie; dat ek presies op die regte tyd by die dokter uitgekom het om ’n hartomleiding te kry; dat die kanker net betyds gekeer is met my prostaatoperasie.
“Die Vader het my deur dit alles gesond gehou, want Hy het geweet ek moes vir my kind sorg. Ek het my totale afhanklikheid van die Here besef. En nog stywer aan Hom vasgehou en nader aan Hom gegroei.
“Die alleenheid het my egter mettertyd gevang en ek het die Vader gevra vir ’n maat. Maar ek wou nie een gaan soek nie. Toe maak ek kontak met my oorlede vrou se niggie Elmarie, wat toe reeds 12 jaar lank ’n weduwee was. Min het ek geweet dat sy ook in daardie tyd gebid het soos ek gebid het.
“Te midde van die Covid-19-pandemie het ons die telefoondrade warm gesels – en eers ná die opheffing van die isolasietydperk het ons mekaar van aangesig tot aangesig gesien.
“Elmarie het drie volwasse kinders, en sy ontferm haar ook oor ’n dogter met Downsindroom. Sy is ’n regte afvlerk-voëltjie-soort-mens.
“Daarom het sy dadelik positief teenoor Cobus gevoel. Alles het gou gebeur: Ons het mekaar gereeld ontmoet en is later getroud. Ons het onlangs ons vierde huweliksherdenking gevier.
“Vandag is ek dolgelukkig. En ek dank die Here vir Elmarie in my lewe, wat Cobus soos haar eie aanvaar het.
“Ek het vrede gemaak daarmee dat ek nie ’n erfgenaam vir die plaas het nie. Cobus is so ’n plesier om in die huis te hê, hy is so ’n aanspraak vir ons …
“As ek op alles terugkyk, kan ek nie glo dat ek so opstandig en weerbarstig was nie. Soms strek die lewe, met al sy uitdagings, donker voor jou uit. Maar ek het geleer dat die Here jou elke dag ’n porsie genade gee, net genoeg om jou deur die dag te dra.
“Ek besef nou die Here het my ryklik geseën. Hy het voorsien. Ek dank Hom vir soveel genade.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.