Ons dogter Chantelle is in 1981 op 36 weke gebore. Ek het pre-eklampsie ontwikkel en hulle moes haar met induksie in die lewe bring. Sy het ’n skrale 1,6 kg geweeg.
Ek het geelsug en lewerversaking ontwikkel en sy het in Ermelo-hospitaal gebly terwyl ek na die ou HF Verwoerd-hospitaal in Pretoria oorgeplaas is. Ek was drie weke in ’n koma.
Daarna is ons eerste seun op 38 weke stilgebore en moes ons hom begrawe. In 1985 is ons tweede seun op 37 weke ook stilgebore. Ons wou nie net een kind hê nie, aangesien my moeder op 33-jarige ouderdom oorlede is toe ek 12 jaar en my sus 11 jaar was. Ek en my sussie moes mekaar gedra het. My vader is op 44-jarige ouderdom ook oorlede.
Daarna het ek weer swanger geraak en ons tweeling is op 32 weke met ’n gewig van 1,2 kg gebore. Hulle oorleef wonderbaarlik sonder enige gebreke. Spesialiste het my daarna aangeraai om gesteriliseer te word, aangesien al my swangerskappe in pre-eklampsie eindig. Ek het toe so gemaak met die wete dat die Here ons geseën het met drie pragtige dogters.
’n Groot skok
So het 10 jaar daarna verloop. Chantelle was in matriek en tweeling Michelle en Lizelle in graad 8. Een oggend het ek wakker geword en was baie naar as ek net kos ruik. Aangesien ek intussen epilepsie ontwikkel het, het ek ’n afspraak by ’n dokter gemaak. Hy het my meegedeel dat ek swanger was. My man Johan kon dit nie glo nie en het amper van die dak waar hy gewerk het afgeval.
LEES OOK: ‘Ons seuntjie Jordan is teruggegee in die Jordaanrivier,’ vertel ma ná lang genesingspad
Dokters in Ermelo het my na ’n ginekoloog in Trichardt verwys en met ’n laparoskopie gevind ek is steeds gesteriliseer en dat ’n spermsel op ’n manier deurgekom het. Ek het die seuntjie op 13 weke met ’n miskraam verloor.
Ons het die dokter gevra om seker te maak om weer te steriliseer maar hulle het gesê ek is steeds gesteriliseer en dat ek nie weer sal swanger raak nie. Ons het met vakansie gegaan om net ’n ruskans te kry.
’n Wonderwerk
Ons wou twee kinders hê en Jesus het vir ons drie dogters gegee waarmee ons net geluk het. Ons was baie gelukkig en 18 jaar getroud. Groot was ons ontnugtering toe ek uitvind ek is wéér swanger. Ek is dadelik na ’n ginekeloog in Johannesburg verwys. Hy het aanbeveel dat ons moet dink aan aborsie aangesien ek reeds 38 jaar is en my bloeddruk klaar weer begin styg het. Ons het ’n besluit geneem dat ons die baba gaan behou, want hy is ’n wonderwerk en Jesus sal nie vir ons nog ’n seun gee en ons nie hierdeur help nie.
Met bedrus en medikasie kon ek die swangerskap tot 28 weke bring. My bloeddruk het gestyg na 236/186 en ’n noodkeisersnit moes gedoen word. Hannes is in 1999 op 28 weke gebore – hy was slegs 30 cm en het 1,1 kg geweeg. Sy gewig het geval na 890 g, maar hy was ’n vegtertjie en na sewe weke in die neonatale intensiewesorgheendheid is hy met ’n gewig van 1,9 kg ontslaan.
Op drie maande het ons uitgevind hy het retinopatie (ROP) in graad 5 en is blind. ROP is ’n oogsiekte wat veroorsaak dat abnormale bloedvate in die retina groei wat tot blindheid kan lei.
’n Vegtertjie met baie uithouvermoë
Hy het reeds vanaf twee jaar operasies aan sy voetjies gekry omdat hy serebrale gestremdheid het en het eers op vier jaar begin loop. Die dokters se bevinding ná toetse was dat hy ’n rolstoelgeval is. Hy kon nie ver stap nie en het van ’n rolstoel gebruik gemaak as ons winkels toe was.
Hy het egter hard gewerk om te stap en met behulp van fisioterapie en báie uithouvermoë het ons 5 km-pretlope gedoen. Die rolstoel en loopraam is weggebêre en hy loop nou daarsonder. Hy het omtrent 14 operasies aan sy arms en bene gehad, maar alles het gehelp om onafhanklik sonder hulpmiddels te loop.
Hy het sy skoolloopbaan by Prinshofskool vir siggestremdes voltooi. Nou is hy al in sy derde jaar van IT-programmering-studies. Hannes was ons wonderwerkie en bring steeds net geluk in almal se lewe. Hy is altyd positief en definitief ook Jesus se kind.
- Hilda Fouche (61) is van Theresapark in Pretoria-Noord. Sy is al 42 jaar getroud met Johan en hulle het ses kleinkinders.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.