Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

#reisevanverlies: ‘God vermors nie jou pyn nie’

DEUR CONETTE LE ROUX

Elke ouer se groot vrees het drie vroue se werklikheid geword.

Die Kaapstadse persoonlike stilis Marilize de Clercq se eersteling is agt jaar
gelede doodgebore. Sulei Eygelaar van Limpopo se drie maande oue baba is in
2020 as gevolg van vloeistof in sy longe oorlede. En Karen Swanepoel van
Mosselbaai was die enigste oorlewende nadat haar man en twee kleuters in
2012 in ’n motorongeluk gesterf het.

“Maar,” sê Karen nou, “God vermors nie jou pyn nie. Die skat wat ek ontdek
het, is dit wat ek vir ander kan beteken. Ook dat wat werklik saak maak jou
verhouding met God en ander mense is.”

Sy vertel ook dat sy nou haar lewe daaraan wy om ander mense wat verliese
gely het, te motiveer en moed in te praat. En hoewel sy nog altyd ’n introvert
was, praat sy nou heelwat makliker, selfs voor ’n groot gehoor.

Marilize sê: “Om God se genade toe te pas. Daar is ’n sagtheid wat in ’n mens
posvat. Daar gaan weer iets met jou gebeur, of dit nou by die werk is of in ander klein dingetjies. Ons moet nou weer ander help om die lig in donker tye
te laat skyn. Dis wonderlik hoe God daardie dinge gebruik om jou nader te
bring aan wat Hy wou gehad het jy moet wees. En dit hoef nie noodwendig ’n
verlies of seerkry te wees nie.”

Sulei getuig dat die oë waarmee sy vandag kyk totaal verander het. “My fokus
het verskuif na Jesus en die ewigheid.” Dis vir haar ook nou baie belangrik om
ander mense te help wat ’n verlies gely het. “Karen het my baie hoop gegee. Sy
het nie noodwendig raad gegee nie, sy het bloot vertel waar sy in haar reis is.
Nou is ek reeds twee jaar verder op mý reis, en nou kan ék weer vir iemand
anders iets beteken.”

Elke vrou leef ook nou met ’n dankbaarheid-leuse.

Marilize: “Dankbaarheid het my gehelp om nie bitterheid te kies nie. Om na
my woorde te kyk sodat dit vrug sal dra. Ek besef ek het nog ’n kans gekry om
God se lig te laat skyn. Ek laat gaan nou makliker, vergewe makliker.”

Karen is dankbaar vir ’n tweede kans. “Ek het besef ek het ’n tweede kans
gekry. Elke dag is ’n geskenk uit God se hande.” Sy het intussen weer liefde
gevind en is in Desember 2015 met André getroud. Hulle het uit die staanspoor
geweet hulle wil graag kinders hê, maar Karen was reeds ouer as 40. Ná twee
jaar se vrugtelose probeerslae, het hulle besluit om in vitro-bevrugting op die
proef te stel – maar nie meer as drie keer nie. Die eerste twee keer was
onsuksesvol, maar ná die derde in vitro-bevrugting was hulle swanger met ’n
tweeling. Karin sê: “Reynard en Desiré is my dubbele reënboog ná die storm.”

Sulei sê: “Ek glo dit wel nie elke dag nie, maar vandag is ek dankbaar dat God
mý gekies het om my kind weg te neem. Anders weet ek nie of ek Hom werklik
sou geken het nie. Sou ek Hom ooit ontmoet het?”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.