Sangeres Leandra Foster reik haar eerste enkelsnit Free eersdaags uit en vertel dat die betekenis van Vadersdag vir haar anders lyk as vorige jare. “Ek wil graag ander aanmoedig wat deur dieselfde hartseer as ek is, en hulle herinner dat geliefdes wat afgesterf het nou vry is en by Jesus rus,” sê Leandra. Sy deel haar pad na vryheid met LiG.
Waar kom die inspirasie van jou nuwe enkelsnit Free vandaan?
My pa is November 2019 oorlede en my hele wêreld het tot stilstand gekom. By die hospitaal het ek begin skryf aan die lirieke vir Free, my eerste enkelsnit. Ek dink dit is die emosies wat ek probeer verwerk het, wat in hierdie lied gegaan het.
Vertel meer van die verhouding tussen jou en jou pa?
Ek sing vandat ek agt haar oud is en my pa was altyd my grootste ondersteuner. Hy het my aangemoedig om aan te hou sing en te oefen, en het my ook gereeld gevat vir optredes by plekke in Pretoria. Kort na sy dood het ek besluit om iets spesiaal te skep ter eerbieding aan my pa en die mens wat hy was.
Jy sing nou voltyds – hoe het jou pad tot hier geloop?
Ná ek my pa verloor het, het ek besef dat ek nie in my sangloopbaan gaan groei as ek nie bereid is om alles te gee nie. En dan gaan ek dalk nooit die geleentheid kry om te ontdek wat God vir my lewe beplan nie. Ek het my loopbaan as kettingbestuurder verruil vir voltydse bediening vir Jesus en om ander mense te dien. In Efesiërs 2:10 herinner God ons dat Hy ons geskep het om ons lewe te wy aan goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
Vadersdag is vir jou ’n moeilike tyd, hoe voel jy daaroor hierdie jaar?
Die boodskap agter Free is om mense wat deur dieselfde hartseer as ek is, te herinner dat die geliefde persoon of persone nou vry is en by Jesus rus. Ek hoop om mense te bemoedig deur die wete dat die oorledene nou vlerke het soos ’n engel en dat ons mense waarvoor ons lief is moet vryspreek, sodat ons ook vry kan wees.
En hoe lyk die toekoms vir Leandra Foster?
My man Gregor ondersteun my 100% in my besluit om voltyds aan my sangloopbaan te werk. Dit is harde werk en ek besef dit gebeur nie net oornag nie. Maar as ek elke dag God se wil vir my lewe soek, sal ek by Sy droom vir my lewe uitkom. Drome wat groter en meer is as waarvan ’n mens kan droom.
Die enkelsnit Free is op Vadersdag, Sondag 21 Junie 2020, vrygestel en kan op YouTube of op Leandra se Facebook-blad geluister word. Die snit is verwerk en opgeneem deur Little Big Studio.