DEUR CONETTE LE ROUX
Die afgelope twee jaar was ’n besonder uitdagende tyd vir Therien Taljaard en haar familie. “Dit het gevoel asof ek deel gevorm het van ’n eienaardige, mallemeule-tragedie: Sodra een vreesaanjaende rit verby is, het die volgende een begin. Een wat jou weer na jou asem laat snak. Kort-kort moes ek my daaraan herinner dat die son weer sal skyn en dat ek en my familie, nou meer as ooit, mekaar nodig het,” vertel dié digitale kommunikasiebestuurder van Pretoria.
LEES OOK: ‘Ek het die hemel ervaar,’ vertel vrou wat byna aan Covid-19 sterf
In Desember 2020 het sy eers haar oupa Wessel Roodt weens Covid-19 aan die dood afgestaan. ’n Week later het ouma Joan Roodt aan Covid-19-verwante longontsteking gesterf.
Slegs ’n paar maande daarna het die gevreesde virus selfs nader gekom: Therien, haar man Jean-Louis, haar ma Elmarie, haar pa Norman en sussie Maritza is almal met Covid-19 gediagnoseer.
Toe, op 1 Julie 2021, het Therien se pa, ’n diabeet, met Covid-19-verwante longontsteking in die hospitaal beland. Therien onthou: “Die virus het hom hard getref. In ’n stadium het die dokters laat weet my pa se longe is letterlik besig om te disintegreer. Hulle het nie veel hoop gehad nie en gesê ons moet ons maar op die ergste voorberei.
“Ek en my sussie het egter besluit ons gaan nie toelaat dat die vyand ons vreugde steel nie. Ons het aanhou bid en aanhou glo en vertrou dat hy gesond sal word.”
Ná sowat vier weke het die bykans ondenkbare gebeur: Norman het so herstel dat hy ontslaan kon word. Volgens Therien het die mediese personeel dit as ’n wonderwerk bestempel.
Maar die moeilike pad na volkome herstel het nog voorgelê. “My pa het meer as 30 kg in die hospitaal verloor. Hy was moeg en afgemat en wou nie meer baklei nie; hy wou regtig tou opgooi.” Die traumatiese ervarings in die hospitaal was vir hom moeilik om te verwerk. “My pa kon vir ’n hele ruk nie slaap as die gang se lig nie aan was nie; hy was gewoond aan die helder lig wat in die hospitaalgange skyn. En dit terwyl hy dikwels moes aanskou hoe die een ná die ander pasiënt wat die stryd teen die virus verloor het, met ’n trollie weggeneem word …”
Op 7 Augustus, om 2:30 daardie oggend, skrik Therien wakker. In haar hart was daar eensklaps ’n spesiale boodskap vir haar pa. “Ek het daardie oggend ’n droom van die Here gekry,” vertel sy. “In die droom het Hy my by ’n leertjie laat opklim en deur ’n venster laat kyk. Ek het die Here se oë gesien en Hy het vir my gesê: ‘Soek My deur die chaos.’
“Toe ek wakker word, was ek aanvanklik bang my pa skrik hom boeglam as ek hom daardie tyd van die oggend bel. Maar dit het swaar op my hart gelê en ek het beleef God wil hê ek moet my pa vertel dat hy ’n tweede kans op lewe gekry het. Ook dat sy getuienis God se lig aan die wêreld sal wys. Ek het toe maar besluit om dadelik te bel.”
Daarna, sê sy, het sy stilte, kalmte en rustigheid beleef. Dit het vir haar gevoel die deurmekaar wêreld waarin sy en haar familie hulle bevind het, het uiteindelik tot bedaring gekom.
Ook haar pa het nuwe moed gekry. Therien vertel: “Hy sê die droom het weer eens aan hom bewys dat jy dankbaar moet wees vir ‘die hier en nou’. Dat jy die klein dingetjies in die lewe moet waardeer.”
“Ek sal die woorde ‘soek My deur die chaos’ nooit, ooit vergeet nie. Dit herinner my elke dag aan hoe groot en almagtig ons God is. Dit maak nie saak hoe diep en donker ’n gat soms voel nie, God se lig kan op soveel maniere raakgesien word. Wanneer ek my in moeilike omstandighede bevind, rig ek my oë na die hemel en klou vas aan God se belofte: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie.’
“Al wat ons moet doen, is om God deur die chaos te soek. Want soms maak Hy nie die storms om ons stil nie, maar die storm in ons.”