DEUR CONETTE LE ROUX
Lauren Jacobs was slegs 14 jaar oud toe sy vir haar ma gesê het sy gaan eendag ’n veilige huis vir mishandelde vroue en kinders bou.
LEES OOK: ‘God het my seer gebruik om haar te help,’ vertel pleegma van die Springs-gruwelhuis se Landi
Lauren vertel: “Ek weet nie hoe ek op daardie ouderdom reeds duidelikheid oor my roeping kon hê nie, maar ek weet Jesus het my tóé reeds begin voorberei vir die reis wat op my wag.”
‘Slegs deur Jesus’
Sowat 25 jaar later spreek dié joernalis, predikant, skrywer en internasionale spreker ’n groep joernaliste by ’n Christelike mediakonferensie in Kaapstad toe.
Sedert daardie 14-jarige tiener besef het wat haar roeping is, het sy saam met honderde mishandelde vroue en kinders “gereis” in ’n poging om hulle te help. Eers vyf jaar lank saam met Suid-Afrikaanse vroue as traumaberader nadat sy sielkunde geswot het. Daarna het sy besef Jesus moet ongetwyfeld deel van jou reis na heling wees. “Sielkundiges, beraders en dokters moet deel van hierdie reis wees omdat hulle ons bystaan. Maar uiteindelik kom ware heling slegs deur Jesus.”
Lauren het toe ’n honneursgraad in Bybelse beradingsterapie voltooi. Hierna het ’n meestersgraad in teologie gevolg.
‘Die statistiek is skokkend’
Een van die ontstellende stories wat Lauren met die konferensiegangers gedeel het, was dié oor ’n voorval tydens een van haar oorsese reise.
Sy het vertel hoe sy, tydens ’n besoek aan Asië, in ’n huurmotor was wat verby ’n huilende dogtertjie gery het. Dit wat sy by die kind gesien het, sou haar haar lewe lank bybly.
Die dogtertjie het op ’n sypaadjie langs ’n baie besige pad gesit en sonder ophou gehuil. Sy was so vuil dat Lauren byna nie die verslete klere aan haar lyf kon raaksien nie. Haar trane het skoon paadjies oor haar gesig getrek. Maar wat Lauren die meeste ontstel het, was dat niemand gestop het om te help nie.
Toe sy die motorbestuurder daaroor uitvra, was sy antwoord eenvoudig: “Dis omdat sy ’n dogtertjie is.”
Dit, het Lauren uitgevind, is wat gereeld met Chinese dogtertjies gebeur – ás hulle tot dan oorleef. Die statistiek is skokkend: ’n Geskatte 100 miljoen dogtertjies is sedert 1980 in China geaborteer nadat die enkelkind-beleid ingestel is. Dit was meestal omdat die ouers, wanneer hulle uitgevind het hulle verwag ’n dogtertjie, ’n aborsie gekies het, met die hoop dat hul volgende kind ’n seuntjie sal wees.
“Die enkelkind-beleid is sowat agt jaar gelede afgeskaf, maar die kulturele ingesteldheid is steeds dat seuns meer waarde as dogters het.”
LEES OOK: ‘Jesus Christus se liefde red my en my dogtertjie,’ vertel vrou
Lauren vertel ook van wasbakke wat op die hospitaal se teatertafel geplaas word wanneer Chinese vroue geboorte gee. “Sommige pasgebore dogtertjies word, in plaas daarvan om gebad te word, letterlik verdrink.
“Ongelukkig vind geslagsmoord ook in dele van Indië plaas. Sulke kulturele sienings dat dogters niks werd is nie, móét verander word.”
‘Wat gaan jy hieraan doen?’
Dis skokfeite soos dié wat Lauren ’n paniekaanval besorg het toe sy dit die eerste keer tydens haar navorsing teëgekom het.
Hieroor vertel sy: “Soms begin jou roeping met ’n paniekaanval. God wil ons nie altyd gerusstel of troos nie, want ons is veerkragtig en sterk. Hy het my geskok met dié ontstellende feite oor geslagsmoord. En later, tydens ’n diens by my kerk, het Hy my gevra: ‘Wat gaan jy hieraan doen?’”
Lauren vertel hoe bang sy aanvanklik was, en hoe sy vir God gesê het sy kan dit nie alleen doen nie. Sy antwoord was egter: “Jy gaan dit nie alleen doen nie; daar is báie mense wat reeds hierteen werk.”
En so het ’n nuwe reis vir Lauren begin.
Dis nou twaalf jaar later. Lauren het sedertdien talle vroue tydens haar navorsing ontmoet, meestal aanlyn, maar ook persoonlik. “Hoe meer stories ek van gebroke vroue gehoor het, hoe meer het ek die behoefte ervaar om hul stories te vertel. Ek is ’n storieverteller en ek beskou myself as ’n voertuig waardeur ander vroue se stories gehoor kan word. My motto vir die lewe is dat ek my stem aan ander leen, maar dan slegs totdat hulle namens hulleself kan praat.”
Dié teoloog, wat haar op die Ou Testament toespits, gebruik die verhaal van Hagar in Genesis 16 om die rol van die storieverteller of joernalis te verduidelik. Volgens haar het jy net so ’n groot verantwoordelikheid teenoor die mens wie se storie jy vertel as teenoor die lesers wat dit uiteindelik gaan lees. Net soos God vir Hagar werklik gesien het by die fontein in die woestyn, so moet joernaliste hul bron sien vir wie hulle werklik is.
Lauren sê: “Kyk wie hulle is. Moenie bloot ’n prostituut of ’n verslaafde mens raaksien nie. Ons moet ’n lewende fontein wees vir die mense oor wie ons skryf, en ons moet hulle dien.”
Lauren, wat tans ’n radioprogram Voice of Change op Kaapse Kansel 729AM aanbied, voel baie sterk daaroor dat joernaliste nie net altyd goeie nuus met luisteraars moet deel nie. “Ons skram dikwels weg van dit wat ons ongemaklik maak, en vertel dan slegs die einde van ’n storie. Ek het kontak met ’n jong vrou in ’n Soedanese vlugtelingkamp. Sy het Jesus in dié kamp ontmoet, en dis wonderlik. Maar dit gaan nie altyd goed met haar nie. Sy sukkel met depressie en sê dat dit soms regtig moeilik is om te lewe. Ons moet ook dié stories vertel.”
‘Ek wil nog …’
Lauren sê sy wil LiG-lesers aanmoedig om navorsing te doen en ander mense bewus te maak van ongeregtighede soos geslagsmoord in China.
Of bloot van mishandeling waarvan hulle bewus is. “Bid ook asseblief vir die slagoffers,” pleit sy.
Wat haar eie lewensreis betref, koester Lauren groot drome: “Ek wil nog boeke skryf oor verskeie onderwerpe, maar altyd met vroue in die middelpunt. Ek wil na Antarktika reis en nog baie vroue se stories vertel!”