Hulle is die mense wat agter die skerms werk in ’n wêreld vol glans. Hulle het ’n buitengewone talent om ander mooi te maak, om dinge kalm te hou, om foto’s te neem wat jou asem wegslaan. Ontmoet ’n klompie van LiG se agter-die-skermsmedewerkers.
Annemarie Wichmann, fotograaf
“Ek sou inskryf vir BSc Huishoudkunde sodra ek my jaar as au pair in Nederland voltooi het,” vertel Annemarie. “Ek het ’n mik-en-druk-kamera daar gehad, en toe het ek soveel foto’s van die kinders geneem wat ek opgepas het dat ek besluit het om eerder ’n fotograaf te word.”
Met haar spaargeld het sy ’n behoorlike kamera gekoop, en 22 jaar later neem sy steeds foto’s.
“Ek is geseën met ’n uiteenlopende kliëntebasis, wat strek van korporatief tot troues. Die ATKV lê my baie na aan die hart, want hulle was die eerste kliënt wat my met hul projekte vertrou het toe ek as jong fotograaf begin werk het.
“Dis ook ’n groot voorreg om deel te wees van die LiG-span, waar ek die afgelope klompie jare die geleentheid gehad het om interessante projekte te fotografeer en ook besonderse mense te ontmoet.”
‘Die hek is toe!’
“Troues het die geneigdheid om lekker stories op te lewer, en ek het dit nie vrygespring nie,” lag Annemarie.
“Op ’n keer sou die bruid in ’n outydse motortjie kerk toe ry. Maar toe dit tyd word om kerk toe te gaan, wou die motor nie aan die gang kom nie. Ek en my assistent help toe stoot, en met ’n groot gejuig kry ons hom aan die ry. Met dié ligte krisis opgelos, draf ons terug gastehuis toe om my kamerasak te kry.
“Maar toe ons weer buite kom, sien ons die elektroniese hek is toe, en daar is nie ’n maniér waarop ons kon uitkom nie.
“Stel jou dit voor: Die bruid is op pad kerk toe, en die fotograaf is skoonveld. Ek kon al in my geestesoog sien hoe stap die bruid die kerk in, sonder ’n fotograaf in sig.
“Paniekerig het ons begin roep en soek, totdat ons iemand opgespoor het wat die hek kon oopmaak. Ons was toe darem betyds; ons was trouens voor die bruid in die kerk!”
Dit gaan oor die mense
“Tydens ’n fotosessie gee ek baie aandag aan die mense wat ek fotografeer. Ek maak veral seker hulle voel gemaklik. Natuurlik moet ek terselfdertyd op die tegniese aspekte konsentreer, en dit kan nogal uitdagend wees.”
En as sy iemand moet uitsonder met wie sy al gewerk het?
“Lindie Strydom. Haar liefde vir Jesus, haar hart vir mense, die opregtheid en nederigheid waarmee sy alles aanpak. Dit inspireer my.
“Haar gesin is haar prioriteit. Sy is vir my ’n wonderlike voorbeeld van mawees. Sy en haar dogter Nina was dan ook die eerste voorblad wat ek vir LiG gefotografeer het.”
Carissa Bosman, stilis
Carissa se loopbaanpaadjie het in die sport- en fiksheidbedryf begin. “Maar ek was nog altyd kreatief en het ’n liefde vir klere en mode gehad,” vertel sy. “In 2010 het ek ’n kursus vir voorkomskonsultant voltooi en in 2015 het ’n tydskrif my genader om stilering te doen.
“Dit was eers toe dat alles bymekaargekom het. Ek het besef dat ek regtig ’n passie het vir stilering, grimering en foto’s.”
Carissa se kliënte wissel van groot maatskappye en glanspersoonlikhede tot produksiemaatskappye en klein sakeondernemings. En natuurlik tydskrifte. En bruide, en gewone mense.
“Ek bied werksessies aan vir groot maatskappye, wat veral fokus op korporatiewe styl en modes. Ek maak die personeel touwys oor hoe om hulle met selfvertroue in die werkplek te handhaaf.
“Vir tydskrifte doen ek die stilering van hul voorbladster se foto’s. Ek werk saam met die redaksie aan die spesifieke tema en ek kies dan al die kledingstukke en bybehore vir die fotosessie. Tydens die fotosessie maak ek seker alles lyk mooi en reg aan die persoon wat gefotografeer word.
“Tydens produksies is ek verantwoordelik vir byna enigiets, van grimering tot klere. En soms selfs stelle bou en verf. Dis gewoonlik vir advertensies, mode of kos.”
Carissa doen ook persoonlike stilering en inkopiesessies vir haar kliënte, sowel mans as vroue.
’n Groot verskeidenheid
“Die lekkerste ding van my werk is dat nie een dag dieselfde is nie. Ek ontmoet deurentyd nuwe mense. Ek is mal oor mense!
“Ek kry ook die geleentheid om kreatief te wees, en dit is baie lekker.”
Natuurlik bied haar werk ook uitdagings. Sy vertel: “Ek moes op ’n keer ’n stel bou waarvan die een gedeelte heeltemal blou is en die ander een heeltemal rooi. Aanvanklik het ek alles buite gaan spuitverf, maar toe steek daar ’n wind op en ek moes ’n ander plan maak.
“Ek het ’n skerm in my kombuis gebou waar ek die spuitwerk kon doen, en ek was so trots daarop! Eers later het ek gesien hoe my kombuisvloer lyk. Dit was vol fyn verfsproei. Nooit weer nie!”
’n Ander keer moes Carissa en die grimeerkunstenaar op die grond lê en “props” regop hou langs die model terwyl die foto’s geneem word. “Die goed was so swaar dat ons behoorlik gebewe het. Toe lag ons daaroor, en toe bewe ons eers!
“My broek het ook al op ’n stel geskeur, want ’n mens buk gereeld. En jy moet dikwels vinnig beweeg. Ek het darem altyd ’n ekstra broek of twee by my, juis vir sulke ou ongelukkies.”
Carissa sê sy werk met van die lekkerste en beste mense in die bedryf. “Ek kan eerlik net twee geleenthede onthou waar die kliënt baie lelik met my gepraat het, én met die ander mense op die stel. Dit het my so ontstel dat ek so byna-byna geloop het. Jy bly maar, ter wille van jou spanmaats.”
’n Droom word waar
“Ek het Minki die eerste keer op TV gesien toe sy in 2001/2002 aan Miss Teen SA deelgeneem het. Sedertdien is ek ’n aanhanger.
“Ek het nooit, nie in my wildste drome nie, kon dink dat ek die voorreg sou hê om haar te stileer nie. Ek is mal oor Minki. Sy is ’n hartsmens, plat op die aarde en beeldskoon. Mense is lief vir haar, want sy is opreg, en altyd dieselfde.
“Daarby is sy een van die lekkerste mense om aan te trek, want sy het ook ’n liefde vir mode en mooi klere. Alles lyk boonop goed aan haar. En sy het ’n lekker humorsin.”
Adelle Jung, grimeerkunstenaar
Adelle is ’n wêreldbekende grimeerkunstenaar en is reeds 25 jaar in die bedryf. “Die lys mense saam met wie ek al gewerk het, is lank. Dit sluit in: Fergie van Black Eyed Peas, Tiffany, R Kelly, Dolph Lundgren, Prinses Charlene van Monaco.
“Bekende Suid-Afrikaners wat ek al gegrimeer het, sluit Karlien van Jaarsveld in, Juanita du Plessis en Rina Hugo. Ek werk saam met verskeie glanstydskrifte. En natuurlik doen ek ook werk vir LiG se voorbladsessies.”
Adelle se paadjie het vroeg reeds in grimering se rigting geneig. Sy vertel: “Die era van die supermodel was vir my fassinerend. Ek het tydskrifvoorblaaie met ’n fyn oog bekyk, en gesien hoe grimering ’n vrou se voorkoms kan transformeer.
“Ek is gebore met ’n kreatiewe gees, en daarom het grimering my kunsvorm geword. Ek is gelukkig, want ek leef my passie uit, elke liewe dag.”
Adelle sê haar werk is wonderlik omdat sy soveel uiteenlopende mense ontmoet. “Van hulle is sterre, akteurs, sakemense. Ander is modelle of jong meisies. Ek doen hul grimering, maar partykeer ook haarstilering.
“Ons maak lekker geselsies. Soms is dit baie diep; ander kere bly dit sommer lig. Ek geniet mense. My werk is my ‘happy place’.”
Die uitdagings
Dis uitdagend om ’n grimeerkunstenaar te wees, veral vanweë die lang werkdae. Adelle sê dis soms ook moeilik om haar werk goed te doen wanneer sy sukkel om die kliënt behoorlik op te som. Sy moet immers dié mens se karakter en skoonheid deur haar kuns na vore bring.
“Laatkommery is ’n groot ‘nee!’ in ons bedryf. Dit maak my behoorlik kwaad as iemand nie betyds opdaag nie.”
Daar is wel ook baie pret. “Daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie lag nie!
“Glo my, daar is baie spesiale oomblikke saam met die mense met wie ek werk. En daar gebeur soveel dinge agter die skerms. Soms loop die trane.
“Ek dink dis al dié uiteenlopende dinge wat my werk so lekker maak. En jy leer om jouself nie te ernstig op te neem nie.”
Salomien Smal, fotograaf
“My passie vir fotografie is gebore toe ek as laerskoolkind my pa se kamera kon saamneem veldskool toe,” vertel Salomien. “Dit was vir my fassinerend om bepaalde oomblikke en belewenisse in ’n foto te kon vasvang.
“Ek het by ’n fotografiewinkel begin werk, terwyl ek my kennis oor fotografie verbreed het. Ek het baie gou fotografie my voltydse beroep gemaak. My eerste kliënte was familie en vriende, en ek is nou reeds 15 jaar lank ’n professionele fotograaf.”
Salomien spesialiseer in portretfoto’s. Haar onderneming sluit korporatiewe kliënte in, asook glanspersoonlikhede, vroue, families en kinders. Die groot lekkerte van haar werk, sê sy, is dat fotografie nie een dag dieselfde is nie. “Dis ’n groot voorreg dat mense my toelaat om in hul mees spesiale oomblikke te deel, om dit dan te kan vasvang.
“Ek geniet die kans om ’n mens se unieke karakter en persoonlikheid op ’n foto vas te lê.
“Nog ’n wonderlike voorreg is dat ek die vryheid het om kreatief te wees. Ek kan speel met beligting, agtergrond, bepaalde hoeke en komposisies om my onderwerp perfek vas te vang. Dit vra sowel tegniese vernuf as kreatiewe visie, en dit maak die werk so interessant.
“Om met mense te werk, bring natuurlik unieke uitdagings. Dis my werk om my kliënte gemaklik te laat voel. En te sorg vir ’n veilige omgewing, ’n plek waar hulle onbevange kan ontspan en hulleself kan wees.
“Dit het járe geduur voordat ek die nodige mensekennis kon opbou en kon leer hoe om verskillende situasies te hanteer, om uiteenlopende mense te akkommodeer. En hoe om doeltreffend te kommunikeer.”
Nog ’n lekker uitdaging is om voor te bly wat tegnologie en tendense betref. “Ons redigeringsprogramme is deesdae buitengewoon. Die nuwe kunsmatigeintelligensiefunksies maak soveel opwindende projekte moontlik. Dis wel soms duur, en tydrowend, om al die nuwe tegnologie aan te leer en dit behoorlik te bemeester.
“Maar die grootste uitdaging bly steeds om my onderwerp se karakter en persoonlikheid vas te vang.”
Giggel agter die kamera
“Ek het een keer by ’n fotosessie ’n klip in ’n rivier misgetrap, en met my hele lyf kaplaks! in die water beland. Die sessie was nog ver van klaar, maar ek het ná die val, sopnat, die mooiste, mees spontane foto’s geneem.
“’n Paar jaar gelede het ek ’n fotosessie twee kilometer ondergronds gedoen vir die jaarverslag van ’n bekende myn. Dit was ’n senutergende ondervinding. My kamera se lens het heeltemal toegewasem toe ons onder in die myn kom, en ek het net een kans gehad om die foto’s te kry wat ons nodig gehad het.
“Ek het nie geweet wat om te doen nie! Ek het maar probeer kalm bly. Die kamera moes seker self by die omstandighede aangepas het, want mettertyd het die wasem verdwyn en ek kon die nodige foto’s neem.
“’n Ander keer moes ek by ’n kragsentrale sowat 40 meter bo die grond werk. Ek het in ’n harnas gehang om sekere hoeke vir die kliënt te kon kry. My senuwees was gedaan!
“Toe ons die foto’s klaar geneem het, kom ons agter daar is oproerigheid buite die kragsentrale – ’n loongeskil. Ons kon nie terug grond toe nie en moes ure lank bo in die lug wag tot alles veilig was.
“Maar uiteindelik was die foto’s darem wat die kliënt wou gehad het.”
Hoogmoed en nederigheid
Salomien sê sy het al met ’n groot klomp van Suid-Afrika se glansmense gewerk. “Daar is natuurlik dié wat lyk asof hulle arrogant is. Maar ek dink dis eerder ’n soort beskermingsmeganisme. Dis immers mense wat gedurig in die kollig is, wat dikwels aaklige dinge oor hulleself moet aanhoor en op sosiale media lees.
“Die beroemdes en bekendes wat my die meeste beïndruk, is dié wat my, al is ek bloot ’n soort diensverskaffer, met waardering en menslikheid behandel. Die voormalige Mevrou Suid-Afrika, Lynné de Jager, is so ’n mens. Dit voel asof die wêreld gaan stilstaan en sy net vir jou luister wanneer jy met haar praat.”
- Salomien het die voorbladfoto’s van hierdie LiG-uitgawe geneem. Haar kreatiwiteit en haar vernuf met die kamera is iets besonders.
Alicia Buckle, grimeerkunstenaar
“My ouma was ’n haarkapper en my ma was ’n haarkapper,” vertel die bekende grimeerkunstenaar Alicia Buckle. “Ek het met my eie oë gesien hoe dit vroue laat voel wanneer hulle mooigemaak word. En ek dink ’n mens raak verlief daarop.
“Van kleins af het ek prentjies geknipen-geplak van vroue met mooi grimering en vroue met mooi hare. Om ’n grimeerkunstenaar te word, was bloot die volgende stap.”
Alicia is 16 jaar lank in dié bedryf, en haar werk het haar reeds die wêreld vol geneem. “Ek het die grimering gedoen vir ’n modesessie op New York se dakke. En ek het al bruide oorsee gaan grimeer.
“Ek het altesaam reeds 700 bruide gegrimeer. Plaaslik werk ek saam met tydskrifte soos Sarie en LiG, en ek grimeer ook vir Via-TV.
“Ek het met baie bekendes in Suid-Afrika gewerk. En dié met wie ek dikwels saamwerk, word later vriendinne, onder andere Rolene Strauss, Minki Joubert, Marciel Hopkins en Donnalee Roberts.”
Die krag van grimering
Oor die Alicia Buckle School of Makeup se nuwe toevoeging, waar sy vroue leer grimeer, sê sy: “Dis iets wat sommer net vlamgevat het. Ek het nog nooit geadverteer nie, en ek is reeds vir die hele jaar vol bespreek.
“Hier leer ek ’n vrou hoe om te grimeer, stap vir stap. Ek grimeer die een kant, en dan grimeer sy die ander kant van haar gesig.
“Die lekkerste van dit alles is egter om ’n verskil te maak, want ’n mens besef nie altyd die krag wat daar in grimering is nie. Dis my missie om vroue te help herontdek hoe mooi hulle is.
“Daar is so baie vroue wat swaarkry. Wanneer ’n vrou haar in die spieël bekyk wanneer sy mooi gegrimeer is, maak dit dikwels die wêreld se verskil in daardie mens se lewe.”
Alicia vertel hoe swaar sy gekry het nadat sy ’n miskraam gehad het. “Ek was in ’n donker gat – en toe het ek ’n wilsbesluit geneem om op te staan, om ’n bietjie lipstiffie aan te sit en my hare te kam. En dit het my soveel beter laat voel.”
‘My glasballe’
“Om al die balle in die lug te hou, is vir my ’n uitdaging,” sê Alicia. “Veral my waardevolle ‘glasballe’ – my man en my drie seuntjies. Ek moet seker maak die hartjies is vol en my huis is gelukkig.
“Omdat my werk-ure nie altyd maklik is nie, word dit soms ’n uitdaging om te besluit vir watter werk ek ‘ja’ moet sê en vir watter ‘nee’. Dit is trouens my grootste uitdaging.”
Agter die skerms
“’n Goeie grimeerkunstenaar praat nie uit nie!” glimlag Alicia.
“Ek leer my studente dat jy soms ’n vriendin is en soms ’n strooimeisie. Ander kere is jy ’n hand wat help of ’n oor wat luister.
“En soms is jy net daar om te bid. Om alles bymekaar te hou en om dinge rustig te maak.”
“Daar kan baie dinge gebeur wanneer ’n bruid voorberei, van ’n rits wat skeur tot ’n rok wat te klein is. Of selfs ’n bruid wat in haar rok piepie – en dan moet ons blitsig skrop en skoonmaak!
“Soms is die bruid om die een of ander rede ontsteld. Maar dit is die voorreg daarvan om in dié bedryf betrokke te wees: Jy kan baie naby aan iemand werk, en régtig ’n verskil maak.”