In Desember 2020 het my man Jacques sowat ’n week lank lyfseer gehad en moegheid ervaar. Midde-in die tweede Covid-19-vlaag, ná herhaalde doktersbesoeke en berge medikasie, jaag ek een Maandagmiddag met hom na Worcester se Medi-Clinic. Sy kleur is sleg, sy koors gevaarlik hoog.
Op Dag 1 kry Jacques suurstof. Op Dag 2 nog meer daarvan. Teen Dag 4 kan hy amper nie oor die foon praat nie, en geen besoekers word by hom toegelaat nie.
‘Ons plaas hom oor na die intensiewesorgeenheid’
Halftwaalf daardie aand begin ons kinders geestelike liedere sing. En kort voor middernag begin Joh-Mari (21), Francois (17) en Christi (15) spontaan bid. Ek staan by die venster en voel ’n vuurwarm gloed in my liggaam. Ons draai na mekaar toe en besef ons moet die hospitaal bel.
Ons kry dié boodskap: “Ons moes hom pas bybring, Mevrou. Ons plaas hom oor na die intensiewesorgeenheid.”
Twee dae later se oproep sê: “Julle moet kom groet.”
’n Mens snak na jou asem as jy jou geliefde só sien. Dit lyk asof hy versmoor. Die hospitaal het te min lewensondersteunende masjiene; Jacques is aan ’n tydelike apparaat gekoppel. Dis ’n nagmerrie.
Ek speel vir hom “Raise a halleluja” op my foon, ek hou sy hand vas en probeer iets sê sonder om te huil. Ons seun bid vir sy pa.
Toe ons later daar wegstap, verslae, wag getroue vriende ons op die parkeerterrein in. Ons voel hoe hul liefde ons toevou.
LEES OOK:‘Julle gaan okay wees’ – Pa Pikkie voor hy sterf
Tuis hou ons nagmaal en wag. Kwart voor een die oggend lui die foon: Jacques het sy bewussyn verloor.
Teen halfses sê die suster: “Ek wil in julle kerk kom getuig. Ons het hom reeds toegegooi … Maar Jacques leef!”
Die dokter bel: Daar is nou ’n ventilator vir Jacques beskikbaar, maar hulle gee hom net kans tot die aand.
Daarna gee hulle hom drie dae.
Elke oproep vanaf die intensiewesorgeenheid laat my bene onder my knak. Hulle vra dringend toestemming vir bloed. Sy niere gee in.
Ek bel elke dag. Ons hou ons eenkant, leef heeltemal geïsoleerd. Ons hoop op die moontlikheid van ’n besoek.
Ons bak gemmerkoekmannetjies vir die oorwerkte hospitaalpersoneel. Die mannetjies se jelliemonde smelt; dit lyk of hulle skree. Ek sê: “Kyk, hulle lyk soos ons voel.”
Sewe-en-sewentig dae later
Oukersaand. Kersfees. Oujaar. Nuwejaarsdag.
Een aand bid ek alleen by my kamervenster. Dis donker. Net die sterre skyn. In my gebed voel ek my oorweldig en ek roep: “Jacques, veg! Veg vir my en die kinders!”
Op 8 Januarie beweeg sy een ooglid. Die volgende dag probeer hy sy oë oopmaak – en toe kan hulle my nie meer daar weghou nie. Ek druk Jacques se hand. Ek vryf sy yskoue bene en vra vir ’n kombersie.
Maar sy koors bly te hoog. Daar is steeds geen reaksie nie.
Tog verbeter sy toestand elke dag, en ons wéét: Hy gaan leef. Hy word gesond. Daar is niemand soos God nie!
Later vertel Jacques my: “Ek het jou gehoor, Liefie. Jy het gesê ek moet veg vir jou en die kinders. Ek was besig om weg te gaan toe ek jou hoor roep.”
Sewe-en-sewentig dae later kom hy huis toe! ’n Maand later werk Jacques volstoom in sy prokureursfirma.
Ons onthou daardie aand toe ons by die hospitaal gaan groet het. Daar was 12 ander pasiënte. Slegs Jacques het oorleef.
Hy lewer ’n kragtige getuienis by gemeentes en selgroepe oor sy ontmoeting met God. Sommige van dié getuienisse is steeds op YouTube beskikbaar.
’n Sluier van ontkenning
Nege maande lank leef ons in dankbaarheid oor sy gespaarde lewe. Ons braai saam met huisvriende, ons vang vis, Jacques is sy ou self.
Tot eendag, tydens Francois se matriekeksamen, toe my man in ons kombuis inmekaarsak.
Die diagnose was gevorderde kolonkanker; dit was reeds in fase 4. Dit slaan ons plat.
In Desember 2021 begin sy chemoterapie in Kaapstad. Hy lyk so goed ná die eerste sessie! Ons is vol moed. Ons glo hy sal ook hierdie terugslag te bowe kom.
Ek lees baie oor kolonkanker, maar die klein kans op herstel sink nooit by my in nie. Dis soos ’n sluier van ontkenning wat my omvou.
Jacques reageer aanvanklik goed op die chemoterapie; daar is feitlik geen newe-effekte nie. Ek en hy hou aan werk en gaan so normaal moontlik voort. Hy word periodiek gehospitaliseer met erge koors, maar tussendeur stap ons die pad. Vol hoop.
In Maart 2022 hou ons gesin in Jongensfontein vakansie. Joh-Mari is ’n finalejaar-regstudent en Francois ’n eerstejaar by die Universiteit Stellenbosch. Christi is in graad 11 by HTS Drostdy op Worcester; dis waar ek ook skoolhou.
Die eerste aand by ons vakansieplek vier ons my verjaardag en Jacques maak alles baie spesiaal. Die volgende oggend kan hy nie opstaan nie.
Daar is nie ’n hospitaal naby ons nie, en ek wil huis toe gaan. Jacques wil by die see bly. Hy is ’n see-mens: ’n branderplankryer, ’n diepseeduiker, ’n geesdriftige visserman.
Later ruk sy koors handuit en dit dwing ons huis toe. Jacques word lank gehospitaliseer.
Ons beleef hartverskeurende tye
Ek en Christi bring in die agtermiddae soveel tyd moontlik langs sy bed deur. Wanneer Joh-Mari en Francois kom kuier, studeer hulle langs sy hospitaalbed, dikwels tot Jacques aan die slaap raak.
Tuis rig ons vir hom ’n “hospitaalkamer” in. Hy probeer so lank moontlik selfstandig bly, maar algaande word hy bedgebonde. Hy probeer om die heel sterkste pynmedikasie so lank moontlik uit te stel, maar teen Aprilmaand is die pyn ondraaglik.
Ons beleef hartverskeurende tye – soos sy laaste besoek aan die onkoloog, toe ons besef daar is geen verdere behandelingsplanne nie.
Daar is die kere wat ek sy pynkrete hoor, en ek kan niks vir hom doen nie.
Daar was die een donkeraand toe ek en Christi by die bure gaan medisyne soek het omdat Jacques onbeskryflike pyn verduur het. Hy was daarvan oortuig dis winde. Hy wóú nie weer hospitaal toe gaan nie.
God sorg op honderde maniere
Vir die tweede keer moet ek sy prokureursfirma sluit. Wanneer hy nie werk nie, leef ons van my salaris. Maar dis onmoontlik om sy onderneming met my salaris te dra.
Op ’n dag besef ek ons studentekinders is seker sonder sakgeld of kos, want Jacques sorg altyd daarvoor. Maar al twee laat weet daar is geld in hul rekening. En ek wonder: Wie dink aan sulke dinge in ’n tyd soos dié? Dis sekerlik mense wat gehoorsaam is aan God se stem en wat op dié manier sy hande en voete op aarde word.
Baie mense dra kos aan. Vriende waak langs Jacques se bed. Ons is geseën met wonderlike omgee-bure. Ons word deur liefde omring.
God sorg op honderde maniere. Ons ontvang geskenkbewyse vir brandstof, daar is anonieme koeverte met kontant. Ons kan maandeliks die hospitaalplan, die elektrisiteit- en munisipale rekeninge betaal.
Kort voor Covid-19 toegeslaan het, het Jacques ekstra mediese versekering (“gap-cover”) uitgeneem. Hy wou dit op ’n keer kanselleer, maar toe help dit ons. Sy mediese versorging kos ons nie ’n sent nie.
In Julie 2022 kom woon Mercia, ’n versorger, voltyds by ons. Twee verpleegsters help ook dat ek en Christi deur verskeie kankerverwante skokke gedra word.
Ons gaan sit so dikwels moontlik by hom
Wanneer Jacques helder is, gaan sit ek op die mat langs sy bed, my gesig reg teenoor syne. Dan bid hy vir my – vir krag.
Een aand glimlag hy en sê: “Jy sal sien: God sal ’n Vader vir julle wees.”
Ek wil dit nie hoor nie; ek wil ’n ander uiteinde hê as een waar Jacques weg is.
Dit word ál moeliker om hom tuis te versorg. Uiteindelik moet hy hospies toe gaan. Ons voel verpletter. Ons gaan sit so dikwels moontlik by hom. Al kan hy nie meer sy Bybel vashou nie, wil hy dit op sy bedkassie hê.
Die hospies bel ons teen middel Augustus: Ons moet kom groet.
Daar wag getroue vriende ons reeds in. Ons geestelike familie.
My Jacques is sterwend. Sy oë is verstar, sy asemhaling vlak.
In ’n stadium tel ek sy Bybel op. Daarin vind ek ’n handgeskrewe brief van hom. Ek lees dit hardop. Dis so ’n mooi liefdesverklaring aan my!
Kort hierna kan ek en Christi op die mooiste manier afskeid neem van ons liewe man en pa. Ons twee oudstes was net-net te laat. Maar God se tyd is perfek: om 08:16 op die 16de dag van die agtste maand. Dis ’n dubbele bevestiging.
Sedertdien beleef ons op elke manier dat God ons Vader is.
Ná Jacques se dood tref verdere rampe ons: ’n watervloed deur ons huis; ek val en breek my regterpols en -arm; my ma val en kry ernstig seer.
Soms gaan dit beter. Party dae is vol uitdagings, soos dit maar is.
Onlangs is my vyfde boek uitgegee. Dit handel oor hierdie “anderster” tyd waardeur ons is.
Bo alles verstaan ek Jacques se sielerus op daardie dag toe hy gesê het dat God ons Vader sal wees. Want Hy is. Elke dag.
- Elaine Marais is ’n onderwyser en ’n skrywer van Christelike fiksie. Haar jongste boek is ’n Droomhuis vir Kristi. Dit het onlangs by Lux Verbi verskyn.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.