Wanneer ons soggens opstaan, is dit nog donker buite. En wanneer ons die ligte in die kombuis aanskakel, is die kombuisvensters soos spieëls. Dit betower my seuntjies elke oggend. Dan roep hulle uit: “Kyk, Mamma! Die kombuis is buite!” En: “Mamma, jy is ook daar buite!”
Wanneer ek dan vir hul waai, giggel hulle en waai terug na die weerkaatsing. En sê: “Hallo, Mamma nommer een, en hallo, Mamma nommer twee!”
Wanneer die son opkom, verdof alles, en verdwyn. En ons kyk weer uit.
LEES OOK: Trek Jesus aan soos ’n kleed
Ek dink na oor spieëlbeelde: ’n Spieël ontvang ’n beeld en weerkaats dit dan. Wanneer jy in ’n spieël kyk, sien jy jouself.
Maar alle spieëls is nie noodwendig betroubaar nie. Ons almal ken die ‘maer lyk’-spieëls in die klerewinkel. Dit lei jou om die bos. Wanneer jy dieselfde kledingstuk weer by die huis aantrek en in jou eie spieël kyk, lyk dinge heel anders. Nou wil jy dadelik die nuwe klere gaan teruggee …
Ons wil ’n spieël hê wat niks anders as die waarheid vertel nie; dis dié dat Sneeuwitjie se spieël so gesog was.
Ons werk as Christene is ook om God se waarheid te ontvang en dit dan terug te kaats. Ek hou van die verduideliking wat ek op ’n keer gehoor het, naamlik dat die kerk nie die son is nie; God is die son. Die kerk is die maan, wat God moet reflekteer soos wat die maan dit met die son doen. Todat ons, soos Paulus sê, geleidelik verander na die beeld wat ons reflekteer. Só skryf hy:
“Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is” (2 Kor 3:18).
God se liefde, goedheid en gawes is geskenke wat ons vir ander moet weerkaats en aanstuur. ’n Spieël kan tog niks anders reflekteer as wat dit ontvang nie. Johannes skryf dat ons liefhet omdat God ons eerste liefgehad het (1 Joh 4:19). Liefde is nie ’n emosie nie, maar ’n geskenk van God wat deur ons gereflekteer word.
Die teenoorgestelde is egter ook waar: Wanneer ons deur slegte gedrag, bedenklike gesprekke en swak voorbeelde omring word, verander ons dikwels in dit waaraan ons blootgestel word.
Daarom is dit belangrik om gehaltetyd in God se teenwoordigheid deur te bring. Slegs dan sal ander mense God in ons kan sien, en sal ons God se waarheid kan weerkaats.
Dit sal goed wees as die spieël skoongevryf is. Om ’n spieël behoorlik te poets, is ’n langsame proses. En dis nie altyd maklik nie. Dalk duur dit ons lewe lank. Hoor dan wat skryf Paulus: “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken” (1 Kor 13:12).
Namate ons in God se liefde groei, word die beeld van God wat ons weerkaats ál duideliker.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.