Vedette Bezuidenhout se verhaal is vol verliese, maar ook vol groei en hoop. En vandag blom sy en haar gesin op die eiland Guernsey waar hulle twee jaar gelede geplant is.
Vedette Bezuidenhout en haar man Cobus het twee jaar gelede saam met hul drie seuns, Liam (14) Simon (13) en Emile (11), hul wortels in Suid-Afrika uitgetrek en na die eiland Guernsey verhuis, ’n selfregerende Britse kroonbesitting in die Engelse kanaal. Daar woon hulle in die hoofdorpie St Peter Port, waar see en geskiedenis deel vorm van hul alledaagse lewe.
Die gesin het dié geleentheid gekry, en aangegryp, toe Cobus die pos as hoof uitvoerende beampte van FNB Channel Islands Bank aangebied is.

Vedette vertel: “Die kans om na Guernsey te verhuis het heel onverwags gekom. Dit was nie iets waarna ons gesoek het nie; dit was ’n geleentheid wat oor ons pad gekom het. En aanvanklik het ons die aanbod van die hand gewys.
“Daar was soveel dinge wat ons in ag moes neem. Ons jongste seun Emile is outisties en nie-verbaal. Hy benodig sorg, 24 uur per dag. Ons moes seker maak hy sou die regte ondersteuning in die vreemde kry.
“En ek het niks van Guernsey geweet nie. Ek het wel die fliek The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society gesien. Interessant en oulik, maar eintlik vér van ons werklikheid verwyder.”
Skokke en terugslae
Maar in Junie 2024 was hul tasse gepak en hulle het Vedette se ouers in Heidelberg, Gauteng, gegroet.
En toe, skaars ’n week later, kom die skoknuus: Vedette se bejaarde pa is in ’n restaurant doodgeskiet. “My hele wệreld het tot stilstand gekom. As hy maar ’n hartaanval gekry of ’n beroerte gehad het, sou dit soveel makliker gewees het om te verwerk. Maar dié soort dood was traumaties, absurd.”
Sy vertel dat haar geloof haar deur daardie moeilike tyd gedra het. “Ek weet nie hoe ons dit sou oorleef het as ons nie in die Here geanker was nie. Dit was ’n pynlike tyd, maar ook ’n seisoen waarin ek geleer het dat groei dikwels ‘onder die grond’ plaasvind – onsigbaar, maar noodsaaklik.”

Daar was verdere probleme: Voor hul vertrek uit Suid-Afrika het hulle, deur die Gidshondvereniging van Suid-Afrika, ’n outisme-ondersteuningshond ontvang. “Maar om Hannah saam met ons te neem was ’n ingewikkelde proses. Daar was báie papierwerk.”
En net toe hulle gereed was om te vertrek, is hulle eers van die vliegtuig afgehaal omdat die nodige dokumentasie vir die gidshond nie van Heathrow-lughawe ontvang is nie. Vedette het alleen met Hannah agtergebly om eers alles reg te kry, terwyl Cobus en die drie seuns via Gatwick-lughawe in Londen na Guernsey gevlieg het. Drie dae later kon Vedette by haar gesin aansluit, maar Hannah sou nog ’n maand moes wag om Suid-Afrika te verlaat.
Intussen het hulle wel ’n skool vir spesiale behoeftes opgespoor, Autism Guernsey, waar Emile elke dag die nodige stimulasie en sorg ontvang.
Die gesin moes vyf maande wag voordat die houers met hul meubels en ander goedere in Guernsey aangekom het. “Ons het slegs met ons tasse klere en ’n paar noodsaaklike items oor die weg gekom. En toe die skeepshouer met ons besittings uiteindelik aanland, het nog ’n skok op ons gewag: Daar het ’n brand in een van die houers uitgebreek en baie van ons waardevolle besittings het brand- of rookskade opgedoen.”
Hulle moes nog drie weke wag voordat die res van die houer skoongemaak kon word en al hul klere gewas is. Vedette vertel: “In daardie tyd het ek besef dat ons eintlik nie veel meer nodig het as mekaar nie. Ons gesin is genoeg. Dit is nie wệreldse besittings wat ons gelukkig maak nie. Ek dink hierdie ervaring het ons geleer om sterk te wees te midde van die storms.”
Uiteindelik tuis, en volop nuwe uitdagings
Dis baie moeilik om eiendom op die eiland te bekom. “Maar ons was gelukkig, want ons kon ’n losstaande huis met ’n tuin betrek wat in al ons behoeftes voorsien.”
Nuwe horisonne het op Guernsey gewink. Vedette het vroeër in argitektuur aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. “Argitektuur was vir my nooit net ’n beroep nie, maar ’n manier om die mooi raak te sien en daaraan vorm te gee.”
Nadat haar kroos gebore is, het sy gekies om daardie loopbaan tydelik opsy te skuif en haar kinders groot te maak.
In Guernsey het haar kreatiwiteit opnuut geblom. In April 2025 het sy Wild Bloom Creative Studio op die been gebring, saam met ’n vriendin, Ilze Els. Hulle het ’n ateljee geskep waar hulle kreatiewe werksessies aanbied. “Ilze is die organiseerder en hanteer die bemarking, administrasie en aankope, en ek is die kreatiewe brein agter die konsep en die kuns. Die idee is dat mense hier saamkom om te ontspan en om iets nuuts te skep.”

Die studente neem dan dikwels deel aan uitstallings waar hulle verskillende kunsprodukte en handgemaakte items verkoop.
Wild Bloom Creative Studio bied ook spesiale geleenthede aan vir verjaardagpartytjies, kombuistees of babatees. Hier kan almal dan kuier en skeppend wees.
Die gesin het ook hul plek in die gemeenskap gevind. Tussen die nuwe vriende is verskeie Suid-Afrikaners, en deur hul betrokkenheid by die plaaslike kouewater-swemgemeenskap het heelparty hegte vriendskappe ontwikkel.
“Ons het selfs ’n ‘braaibuddies’-groep! Dis ’n klompie Suid-Afrikaanse vriende met wie ons gereeld saam kuier, saam braai en ons taal en kultuur hier op die eiland vier. Dit help ons om ’n stukkie huis saam met ons te dra.”
En nou, ná twee jaar, het hulle goed wortelgeskiet. “Guernsey het vir ons ’n nuwe tuiste geword, ’n plek waar ons gesin saam groei, waar ons nuwe mense ontmoet en nuwe drome droom. Ons het geleer dat selfs wanneer die pad vol draaie en die lewe vol storms is, daar altyd iets moois is wat aan die ander kant wag. Vir ons gaan hierdie reis nie net oor ’n nuwe land nie; dis ook ’n heel nuwe seisoen in ons lewe.”
Vedette sê sy is baie dankbaar vir baie dinge. “Ek is dankbaar vir die mense wat my gevorm het, die mense wat my gedra het, my man en kinders wat my laat blom, en my kreatiwiteit wat steeds nuwe vorms aanneem.
“Ek reken skeppende kuns is ’n wonder, en ek weet dat die grootste kunstenaar God is. Alles wat ons maak, is uiteindelik bloot ’n refleksie van dit wat Hy reeds geskep het.
“Maar ek is nog nie klaar nie; groei bly ’n proses. Soms is daar storms, soms droogtes, soms nuwe bloeisels. Maar my hoop bly geanker in die Here. En vandag, op hierdie eiland, blom ek waar ek geplant is.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















