DEUR NICO SMIT
Ek is die afgelope naweek saam met my vrou Karen die winkels in. En ek het gou-gou nie geweet of ek moes begin lag, huil of skreeu nie. Die kruideniersware se prys het my na my asem laat snak en ek het behoorlik aan ’t bewe geraak. Dit was ’n helse skok.
LEES OOK: Die dag toe Jesus oor Jerusalem gehuil het
Ek weet nie hoe hou gewone mense kop bo water nie. Mense met kinders op skool, mense wat petrol in hul voertuig moet tap … Nee, dis beslis nie net beurtkrag wat ons pootjie nie; ook die prys van basiese lewensmiddele het ons teen die grond.
Terwyl ek so deur die supermark stap, word my bene ál wankelriger onder my. En ek besluit om nie meer na die pryse te kyk nie, om slegs voor my uit te staar.
Maar ek bly dink aan Margaret wat in ons huis werk, en Richard wat in die tuin werskaf. Hoe hou hulle kop bo water? Hoe swem hulle sonder om te verdrink? Hoe bly hulle moedig sonder om die hasepad te kies en net te hardloop en te hardloop en nooit weer terug te kom nie?
Ék het dit oorweeg om die berge in te hol. Karen het my probeer troos en gesê: “Ons het genoeg. Ons moet dankbaar wees.”
Ek is! Ek is! Ek is besonder dankbaar oor alles wat ons het. Maar wat sê ek vir hulle wat soveel minder het as ons?
Eensklaps onthou ek die Avril Lavigne-liedjie wat ek al in ’n preek gebruik het: “God, keep my head above water, don’t let me drown. I will meet You there at the altar when I get down on my knees …”
‘Ek steek vir jou ’n kers aan’
My persoonlike assistent Frikka sê toe vandag iets wat my werklik geraak het. Sy sê ons almal het ’n brood onder die arm, maar elkeen se brood lyk anders.
Sommige dra ’n heerlike boerebrood. Die groot snye met heerlike plaasbotter daarop maak dit spesiaal.
Ander het ’n bruinbrood onder die arm. Dis nie vir almal ewe lekker nie, maar dis brood.
Dan is daar diegene wat slegs ’n stuk gemufte brood in hul hande het. Ou brood, feitlik onbruikbaar verkrummel. As jy nou hier lees en dít is al wat jy oorhet, weet dan dat ek aan jou dink en vir jou bid. En dat ek vir jou ’n kers opsteek, soos my skryfmoeder Annelie Botes dit elke dag doen.
Ek wil eintlik slegs twee gedagtes met jou deel, al het ek geen idee waar jy is of hoe jy voel nie: As jy nie kop bo water kan hou nie – ontspan. Jesus, die Seun van God, kan op water loop. En dit maak nie saak hoe jou brood lyk nie – gee dit vir Hom. Ja, gee jou bekommernisse, jou seer, jou twyfel, jou gebrekkige geldsake vir Hom.
Onthou ook om in jouself te glo. Om nooit moed op te gee nie. Die Here het nog nie opgehou om in jou te glo nie, ongeag hoe jou brood lyk. Is dit Max Lucado wat gesê het dat as jou dag droewig is jy jou nie te veel daaraan moet steur nie omdat die beste nog voorlê?
Mag jy en ek in Jesus ons rus vind. My vrou is reg. Ons het besonder baie om voor dankbaar te wees. Ons weet immers dat Jesus saam met ons in ons probleme is. Hy is die Een wat saam met ons in die water is sodat ons kop bo water kan hou.
- Dr Nico Smit is ’n leraar en kliniese berader by Dalpark-gemeente aan die Oos-Rand, waar hy verantwoordelik is vir die pastorale versorging.