Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Tienerkwessie #3: ‘My angs oor toetse, hoe ek lyk en wat ander van my dink, is oorweldigend’

Dit is tienerselfdood-voorkomingsweek (8-14 Februarie 2026) op Suid-Afrika se gesondheidkalender. LiG het by ’n opvoedkundige sielkundige, dr Chaland van Zyl, gaan kers opsteek. Sy het die belangrikste potensiële tienerprobleme geïdentifiseer, en sê hoe ouers dit kan hanteer. Vandag vertel sy hoe die deurlopende “agtergrondgeraas” oor toetse, voorkoms en gewildheid min of meer konstante angs by baie tieners tot gevolg het.

Een tiener beskryf dit só: “Ek dink die hele tyd oor toetse, oor hoe ek lyk, oor wat ander van my dink. Wanneer ek dan sê ek voel oorweldig, moet ek hoor: ‘Jy dink te veel.’

“Dan hou ek eerder op om te praat, want dit voel my ek is alleen, dis net ek en my kop.”

Hierdie soort belewenis is bekend aan vele tieners: die gevoel dat hul binnewêreld te groot of te veel is vir die mense om hulle.

Die geraas van angs en spanning

Baie tieners leef deesdae met ’n skynbaar nimmereindigende “agtergrondgeraas” wat hulle teister. Dis hoofsaaklik spanning en/of angs, wat nie noodwendig dramaties of sigbaar is nie, maar wel aanhoudend. Hulle dink oor hul liggaam, hul vriende, hul plek in die groep, hul toekoms en hul foute en mislukkings.

LEES OOK: Tienerkwessie #1: ‘Sien mý raak, nie net my punte nie’

Selfs wanneer alles aan die buitekant goed lyk, kan hul binnewêreld onrusbarend vol wees.

Hier is ouers en ander gesagsfigure se optrede van wesenlike belang: Wanneer die tieners se angs en spanning geminimaliseer word, leer hulle om dit weg te steek. Hulle kom agter dat sekere gevoelens nie welkom is waar hulle leef en beweeg nie, en dat dit veiliger is om eerder daaroor stil te bly. Só word hul angs ’n eensame ervaring, in plaas van iets wat gedeel en gedra kan word.

Die waarheid oor angs, en die gepaste reaksie

Tieners behoort geleer te word dat angs nie ’n teken van swakheid is nie; dis eerder ’n manifestasie van ’n senuweestelsel wat sukkel om af te skakel in ’n wêreld wat min blaaskans bied, en bloedweinig behoorlike rus, en wat hoë eise stel. Tieners beleef hierdie oorstimulasie besonder intens; hul brein is immers steeds aan ’t ontwikkel.

LEES OOK: Tienerkwessie #2: ‘Ek wou hê jy moes my hóór, en nie dadelik oplossings gee nie’

Hulle het ook nie altyd ’n behoefte daaraan dat angs “reggemaak” of vinnig opgelos word nie; wat hulle wel nodig het, is erkenning. Die erkenning dat dit wat hulle voel, werklik is. En dat dit sin maak binne die konteks van hul lewe. Én dat hulle nie alleen daarmee opgeskeep hoef te sit nie.

’n Eenvoudige, kalm reaksie kan ’n groot verskil maak. Dit help hulle wanneer ’n ouer iets sê soos: “Ek kan sien dit voel vir jou asof dit báie is.” Of: “Kom ons haal saam asem.” Sulke woorde help om die senuweestelsel te laat kalmeer.

Selfs die woorde “jy hoef nie nou ’n oplossing te hê nie,” gee aan tieners toestemming om eers net te “wees”, sonder enige druk op hulle om hulle sogenaamd “reg te ruk”.

Deur hierdie soort kalm, teenwoordige ondersteuning leer ’n tiener iets wat fundamenteel belangrik is: “Ek mág groot gevoelens hê, en steeds veilig wees.”

Dit is die kern van emosionele regulering, en die basis waarop ware emosionele veerkragtigheid gebou word. Nie deur angs te vermy nie, maar deur dit in verhouding te dra.

  • Dr Chaland van Zyl werk daagliks met tieners en hul ouers, en in skole regoor Suid-Afrika. Sy is ’n opvoedkundige sielkundige by ’n skool in Gauteng. Sy is ook die stigter van TeenMindsSA, ’n platform wat daarop gerig is om tieners se binnewêreld beter verstaanbaar te maak en om ouers toe te rus met navorsinggebaseerde, praktiese insigte. TeenMindsSA kan aanlyn gevind word, asook op Instagram en Facebook, waar gesprekke oor adolessensie, emosionele ontwikkeling en gesonde ouer-tiener-verhoudings voortgesit word.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF