Plastiekvrye Julie is ’n beweging waaraan miljoene mense oor die wêreld heen elke jaar deelneem. Fay van Eeden gaan in vyf artikels haar gesin se reis na eenvoud en ’n meer volhoubare lewe met LiG-lesers deel. In dié eerste aflewering deel sy die belangrikheid van “nee” sê – vir gemorspos, plastiekprodukte en “gratis geskenkies”.
DEUR FAY VAN EEDEN
Ek onthou dit soos gister: Ek was twaalf jaar oud en ons gesin het aan die KwaZulu-Natalse suidkus vakansie gehou. Ons het elke dag saam met my pa die rotse en rotspoele verken.
Tydens een van ons verkenningstogte het ons ’n groep mense raakgeloop met skroewedraaiers en sakke in die hand. Ons het toegekyk hoe hulle sak ná sak vol mossels maak. Elke vol sak wat op die strand neergesit is, het my kwater gemaak. My ouers het my probeer verseker dat dié mense waarskynlik ’n permit het om so ’n groot klomp mossels te oes.
Maar toe die twaalfde sak vol mossels op die sand beland, kon ek nie meer stilbly nie. Voordat my ouers kon keer, het ek oorgestap na die persoon wat vir my na die leier van die groep gelyk het en gevra om hul permit te sien. Hy het kortaf geantwoord dat dit niks met my te doen het nie en dat ek my eerder uit die voete moet maak.
LEES OOK: ‘Ons leen die aarde by ons kinders’
Ek onthou hoe magteloos ek op daardie oomblik gevoel het. Hoe kon hulle die rotse so plunder én daarmee wegkom? Was daar niemand om hulle te keer nie? Iemand moes tog iéts doen!
Al waaraan my jonger self kon dink om te doen – en hierop is ek nie trots nie – was om die voorman se motorbande te gaan afblaas.
As ek vandag daarop terugdink, besef ek dat dit die dag was dat ek vir die eerste maal “nee!” gesê het vir skadelike en vernietigende praktyke.
Die vyf R’e
Noudat julle van my skandes weet, laat ek my voorstel: My naam is Fay van Eeden. Ek en my man Peet en ons dogtertjie Amélie woon in Pretoria. Ons is lief vir die natuur en ons kyk graag voëltjies. ’n Meer volhoubare leefwyse was nog altyd vir my en Peet belangrik, maar die koms van ons dogtertjie het ’n nuwe fokus op ’n meer ekologies-verantwoordbare leefwyse gebring.
Alhoewel ek in ’n huis grootgeword het waar ek geleer is om verantwoordelik met water, elektrisiteit en kos om te gaan, het ek die groen kloutjie eers werklik by die oor gebring toe ek in my twintigerjare Al Gore se dokumentêre film An Inconvenient Truth gesien het.
En meer onlangs het die Amerikaner Bea Johnson se “Zero waste”-leefwyse my pad gekruis. Haar vyf R’e het my lewe verander.
Johnson en haar gesin poog om aan die hand van vyf beginsels – Weier (Refuse), Verminder (Reduce), Gebruik weer (Reuse), Herwin (Recycle) en Komposteer (Rot) so min moontlik huishoudelike vullis te genereer.
Hierdie vyf R’e het ons uitgedaag en geïnspireer om anders oor ons leefwyse te dink. Hoe meer ons hierdie beginsels in ons lewe toepas, hoe meer wonder ons hoe dit dan gebeur het dat ons so afgestomp geraak het vir die gevolge van ons optrede en keuses.
Ons is die afgelope klompie jare op ’n reis om hierdie vyf beginsels ’n deel van ons lewe en ons huishouding te maak. Ons wil jou nooi om saam met ons op hierdie reis te gaan.
LEES OOK: Plastiekvrye Julie #2: Een ou se gemors, ander se skat en ander minder maak-idees
Die reis na ’n meer volhoubare leefwyse is niks meer nie as ’n uitnodiging na ’n eenvoudiger lewe. In ’n wêreld wat deur ’n verbruikerskultuur beheer en voortgestu word, het ons almal ’n bietjie eenvoud nodig. My belewenis is dat daar ’n stuk rykdom in eenvoud lê. ’n Eenvoudiger leefwyse leer ons om dit wat ons het, werklik te waardeer en te geniet.
My klompie skryfsels tydens dié reis wil nie ’n wetenskaplike werkstuk wees nie; eerder ’n praktiese gids wat jou hopelik sal inspireer. Elke aflewering is op ons eie ervarings geskoei. Ek vertel hier wat vir ons gewerk het en wat nié. Ek hoop dat dit jou sal help om “groener” en meer volhoubare besluite te neem.
Dalk besluit jy selfs om by ons aan te sluit, om dié beginsels in jou lewe en huishouding toe te pas. Dalk kies jy om slegs een verandering te maak. Hoe ook al: Ek vertrou dat jy ’n klompie bruikbare alternatiewe sal vind, ongeag jou persoonlike en geografiese omstandighede.
Om “nee” te sê (Weier/Refuse)
“We cannot wait for the system to change. We as individuals are the system,” het Colin Beavan, ’n Amerikaanse skrywer en omgewingsaktivis op ’n keer gesê.
Die meeste van ons sleep weekliks ons asblik vol vullis uit ons erf en laat dit op straat. Saans, wanneer ons tuis kom, is dit leeg. Dis weg.
Maar wat bedoel ons as ons sê dis weg?
Want die vullis is wel nie meer op ons erf nie, maar dis vir seker nie “weg” nie. Dis bloot verskuif, van ons erf na ’n vullishoop aan die dorp of stad se buitewyke. Daar word dit baie stadig afgebreek, en in dié proses word ons grond, water en lug besoedel.
Vir lank, té lank, was ek daarvan oortuig dat ek ’n “groen held” is omdat ek ’n groot deel van ons huishoudelike vullis herwin het. Ek het eers onlangs besef dat hoewel herwinning goed is en ’n verskil maak, dit eintlik ons laaste uitweg moet wees. Dat herwinning die uiteinde is van ’n verhaal wat begin by weier en verminder en hergebruik. Om dié rede is “nee” so belangrik. Dis die eerste eko-beginsel.
Die belangrikste ding wat ons kan doen om ons aarde te red, is om minder te verbruik. Want wat ons nie verbruik nie, hoef nie weggegooi te word nie. Ek het boonop besef dat my verbruik nie net aan my koopgewoontes gekoppel is nie, maar dat ek deurgaans ’n verbruiker is. Ek dink aan daardie voubiljette wat ek by ’n verkeerslig neem, die gemorspos teen my motor se voorruit of in my posbus, of daardie sakkie vol geskenkies wat ná elke konferensie huis toe kom.
Elke keer wanneer ons iets neem of aanvaar, sê ons “ja” daarvoor. Dit beteken ons skep ’n aanvraag daarvoor, en sodoende keur ons die mors van hulpbronne goed. Byvoorbeeld: Elke keer wat ons toelaat dat ’n kelner vir ons ’n glas water bring wat ons weet ons nie gaan drink nie, sê ons éintlik daarmee dat water nie belangrik is nie.
Van al die beginsels is “nee” sê die moeilikste – veral in ’n huishouding waar daar kinders is. Niemand wil immers stroomop wees nie …
LEES OOK: Plastiekvrye Julie #3: Meesters in hergebruik
Maar ná ’n klein bietjie oefening kry ’n mens dit reg om op ’n hoflike manier “nee” te sê vir daardie dinge wat jy nie wil hê nie of nie wil gebruik nie.
Hoe vaar ons?
Om “nee” te sê, bly vir ons gesin ’n uitdaging. Ons het met verloop van tyd besef dat daar sekere dinge is, byvoorbeeld gemorspos, wat ons moeilik uit ons lewe gaan kry, ongeag hoeveel keer ons “nee” sê.
Wat ons wel dikwels regkry, is om “nee” te sê vir enkelgebruik-plastiekbottels en -strooitjies, wegneembekers en inkopiesakke – oftewel die Groot Vier, soos dit in sekere kringe bekend staan.
Ons glas-waterbottels gaan oral saam met ons, wat beteken dat ons nooit water of koeldrank in ’n plastiekbottel hoef te koop nie. Wanneer die lus vir gaskoeldrank soms die oorhand kry, probeer ons koeldrank koop wat in glasbottels te kry is of in bottels wat vir hergebruik geoormerk is.
Hoewel ons selde ’n strooitjie in ’n restaurant gebruik, het ons vir ons vlekvryestaal-strooitjies gekoop. Ek hou myne in my handsak vir daardie keer wat ek ’n ekstradik-melkskommel bestel. Ons het aanvanklik glas- en bamboesstrooitjies probeer, maar die vlekvryestaal het die beste gewerk.
Sowel ek as my man is groot koffiedrinkers en baie lief vir wegneemcappucino. Ons reisbekers bly in ons motor. Ons het al by verskeie koffiewinkels versoek dat ons wegneemkoffie in ons eie bekers gemaak word en niemand het nog geweier nie.
Ek moet wel erken dat ons nie altyd so goed vaar met “nee” sê vir plastiek- inkopiesakke nie. Ek het onlangs getel hoeveel lapsakke ons in die huis het – dit was nie minder nie as 31! Tog vergeet ons alte dikwels hierdie sakke by die huis of in die motor.
Sintetiese sponse en -kombuislappe hou nie lank genoeg om die hulpbronne wat dit vereis om dit te vervaardig, te regverdig nie. Daarby disintegreer dit en laat skadelike stowwe in ons water vry. Daarom het die sponsies en lappies by ons kombuiswasbak plek gemaak vir ’n bamboes-skropborsel en sisal-skroplappies.
Ons gesin het onderneem om mooi te dink voordat ons gratis geskenkies aanvaar. Ons vra ons af of ons regtig daardie goedkoop pen, visitekaartjie of yskasmagneet nodig het. Die antwoord is selde “ja” …
ONS TOPWENKE
- Weier pro-aktief
Ons het geleer dat dit goed is om pro-aktief te wees wanneer jy weet jy moet “nee” sê. Sê dus sommer uit die staanspoor vir die kelner wanneer jy jou bestelling plaas dat jy nie ’n strooitjie wil hê nie.
- Dis hóé jy “nee” sê
Om “nee” te sê, verg soms durf én geduld. Wees gereed en gewillig om te verduidelik waarom jy “nee” sê. Jy kan ook verwag om teenkanting te kry, alhoewel baie diensverskaffers en winkels ons al aangenaam verras het. Die goue reël is om hoflik te bly, ten spyte van die reaksie. Onthou dat ’n winkeleienaar ook die reg het om vir jou “nee” te sê.
- Neem jou wegneemetes op ’n ander manier weg
Neem ’n glasbak met ’n deksel saam wanneer jy wegneemetes gaan koop. Jy sal dalk ’n klompie vreemde kyke kry, maar ook dit is die moeite werd wanneer jy nie daardie polistireen- of plastiekbakkie by die huis hoef weg te gooi nie.
As jy vermoed jy sal ’n braksakkie nodig hê wanneer jy weer gaan uiteet, sorg dan dat jy ’n klein bakkie by jou het. En is dit nie juis waarvoor groot handsakke daar is nie . . .?
- Dink anders oor roomys en wegneemkoffie
Bestel jou draairoomys eerder in ’n roomyshorinkie as in ’n bakkie. Op dié manier sê jy nie net “nee” vir die bakkie nie, maar ook vir die plastieklepeltjie wat slegs een keer gebruik gaan word. Hou ’n gewone beker of ’n reisbeker in jou motor vir daardie tye wanneer die lus vir ’n wegneemkoffie jou oorval.
- Dink anders oor geskenke
Indien jy aan ’n familie of ’n vriendegroep behoort wat mekaar graag met geskenke bederf, kom onderling ooreen om eerder ervarings te gee. Eerder ’n belewenis as ’n tasbare geskenk. In plaas daarvan om iets te gee wat dalk iewers in ’n kas gaan stof vergaar, koop ’n teaterkaartjie of ’n geskenkbewys vir ’n slypskool. ’n Skenking aan ’n liefdadigheidsorganisasie wat na aan daardie persoon se hart lê, sorg ook vir ’n wonderlike geskenk.
- Eerder elektronies as papier
Daar is verskeie diensverskaffers en winkels wat bereid is om fakture en kwitansies per e-pos te stuur. Hoewel jy die risiko loop dat jy gemorspos in jou e-posbus ontvang, is die e-posfakture en -kwitansies ’n eenvoudige maar doeltreffende manier om minder papier, wat in elk geval later weggegooi word, in jou huis te bring.
Om “nee” te sê, is ’n kragtige daad. Ons twyfel dikwels of enkelinge enigsins ’n verskil kan maak, en sê en doen dan eerder niks – terwyl my en jou “nee” sê die aanvraag vir alternatiewe kan skep. Elke keer as ons onnodige verpakkingsmateriaal of ’n papier-kwitansie weier, dwing ons die winkels en ander diensverskaffers om anders te dink oor die diens en produkte wat hulle bied.
En hoe meer mense daar is wat “nee” sê, hoe luider is die stem wat om alternatiewe vra. Daarom wil ek aanhou “nee” sê vir dinge wat ek nie nodig het nie. Wil jy dit nie saam met my doen nie?
MAAK DIT SELF
Veelsydige skoonmaakmiddel
Jy kan dit in jou huis gebruik om alle oppervlakke te ontsmet – en jy maak dit sommer self.
Meng die volgende deeglik in ’n spuitbottel:
1 k afgekoelde kookwater
1 k witasyn
Sap van ’n halwe suurlemoen (opsioneel)
15 druppels essensiële olie
* Indien jy suurlemoensap byvoeg, bêre die mengsel in ’n yskas.