’n Harde val het tot gevolg gehad dat Felécia Pretorius ’n tyd lank nie kon praat nie. Sy kon egter steeds sing. In hierdie tyd het sy God se stem duidelik gehoor.
Iewers in Oktober 2022 was ek en my man Dewet besig om spreiligte by ons huis op te sit toe ons dogter Alushca bang raak vir bye naby haar en haar boetie Luan in die swembad. In die proses om hulle te hulp te snel het ek op nat trappe gegly en baie hard op my kop geval.
Die onmiddellike gevolge was dubbelvisie, naarheid en erge hoofpyn. Ons huisdokter het harsingskudding gediagnoseer. Maar tot my ontsteltenis kon ek die volgende dag nie praat nie.
‘Soos klei in u hande’
In die motor op pad hospitaal toe het my gesprek met die Here begin: “Vader, ek is soos klei in u hande. U is die Pottebakker. Maak met my soos U wil. Wys my wat U my wil leer. Ek weet U het ’n groter plan, al sien ek dit nie nou nie.”

Ek het kort voor die gebeure begin wonder wanneer bid ’n gelowige vir genesing en wanneer gaan jy dokter toe. Waar lê die verskil tussen genesing deur dokters en genesing deur God?
Eensklaps het my nou in presies so ’n situasie bevind.
By die hospitaal kon Dewet aan die personeel verduidelik wat fout is. Maar toe hy later moes huis toe gaan, het ek angstig geword: Wie gaan nou namens my praat?
LEES OOK: Riana Nel: ‘Ek sal elke keer ewigheidswaarde bo gewildheid kies’
In ’n stadium het ’n rooikopvrou verby my gestap, teruggedraai en aan my arm gevat. Sy het gevra: “Is jy oukei?” Sy kon seker die benoudheid in my oë sien. Sy het haar visitekaartjie vir my gegee en gesê ek moenie huiwer om haar te bel nie.
Die Here het geweet ek het daardie ondersteuning toe regtig nodig gehad; sy was vir my soos ’n engel.
My gevoelens op Facebook
In die hospitaal, terwyl my dubbelvisie geleidelik verbeter het maar my spraak steeds weggebly het, het die Here my geïnspireer om neer te skryf wat gebeur het en hoe ek voel. In Engels …
Ek het dit toe gedoen, en die Heilige Gees het vir my gefluister dat ek dit op Facebook moet plaas. Natuurlik het ek Hom gehoorsaam.

Gou het die boodskappe begin instroom, die gebede en die getuienisse van genesing. ’n Man het vertel dat sy vrou van kanker genees is, en toe sê hy: “Weet jy wat is die geheim? Vra God vir genesing – en sê dadelik dankie. Vertrou Hom dan.”
Dink net: Iemand stuur die antwoord waarna ek soek sonder dat hy geweet het dis ’n vraag wat in my hart leef. Ek weet dis God wat sulke antwoorde op sy tyd stuur.
Toe ek ’n week later ontslaan is, kon niemand sê wanneer ek weer sou kon praat nie, indien ooit. Hierdie onsekerheid was baie erg. Weke lank het ek heen-en-weer deur die huis gestap en met God gepraat. Elke dag het ek gewag dat my spraak moet terugkeer. Tevergeefs.
Sê nou ek kan nie meer sing nie?
Op ’n dag het my tannie, ’n pastoor en ’n sangeres, my gevra: “Kan jy nog sing?”
Haar vraag het my moed in my skoene laat sak. Ek sou dalk nog regkom sonder praat, maar sê nou ek sou nooit weer kon sing nie? Dis iets wat ek van altyd af gedoen het. Ek was maar ’n dogtertjie toe my pa my en my broer na elke denkbare sangkompetisie geneem het. Ons het in al wat ’n kerkkoor is gesing, en in aanbiddingspanne, en ons het in revues opgetree – dis wie ek was.
Ná my tannie se vraag het ek boonop baie skuldig gevoel. Ek het tien jaar tevore opgehou sing omdat ek gedink het ek is nie goed genoeg nie, dat daar soveel mense is wat soveel beter en mooier sing as ek.
Ek het besef watter groot hartseer dit sou wees as ek nooit weer sou sing nie. Sê nou net ek het daardie vermoë ook verloor?
Ek het die Here om verskoning gevra. Ek het gesê ek is jammer dat ek sy geskenk aan my as minderwaardig geag het. En ek het ’n belofte gemaak: As ek weer kon sing, sou ek dit vir Hom doen, tot sy eer. Ek sou gaan waarheen Hy my stuur.
’n Paar dae later het ek in die stort gestaan en huiwerig probeer sing. Die woorde het sommer gekom: “When all foundations have been shaking, and I’m left standing in the dark, and all I have is my heart breaking; You still reign and you’re still God.”
Net daar het ek op my knieë neergesak en gesê: “Dankie, Here, dat ek steeds kan sing. Ek kan nie praat nie, maar ek kan sing!”
In God se teenwoordigheid
Intussen het iemand my gekontak nadat sy my getuienis op Facebook gelees het. Sy het gesê dat sy elke dag vir my bid. En dat sy by die Here gehoor het dat Hy my in sy huis, in sy teenwoordigheid, gaan opneem en my sal genees. Sy het dié openbaring ook met haar man gedeel.
Kort daarna, tydens ’n kort wegbreek in die Laeveld, het ons ’n klompie ou forte en diep grotte besoek. Daar het Psalm 91:1-2 vir my lewend geword: “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die Here sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.” Ook vers 9: “Want U, Here, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.”
Ek het opnuut besef: Die Here alleen is ons bergvesting.
Terug by ons tent het ek, op my gebrekkige manier, probeer om vir Dewet te verduidelik wat die Here my in daardie grotte gewys het. My brein het moeg geword en ek het gaan rus.
Toe ek later weer vir Dewet begin beduie van die Here se skuiling en dat ek net by Hom wil skuil, toe kom my spraak meteens terug. Ons was in trane. Wat ’n vreugde! Wat ’n dankbaarheid!
Toe ek later daardie middag my spraakterapeut laat weet ek is genees, kon sy net sê: “Dis ’n wonderwerk! Prys die Here!”
‘In u lig’
Sedertdien hou ek styf vas aan Psalm 91, en God herinner my gereeld aan sy beskerming, sy rus en sy lig. Dit het my geïnspireer om die lied “Ek staan in u lig” te skryf.
Deesdae staar ek my nie meer blind teen perfeksie nie en ek wonder ook nie of ek goed genoeg is nie; ek doen in gehoorsaamheid dit wat God in my hart gee om te doen.
Verlede jaar was vol buitengewone genade. Ek het ’n aantal nuwe liedere vrygestel, insluitend my eerste Kersfeeslied. Dit is op 30 November by die AfriForum Teater tydens die “Staan Sterk in Afrikaans”-Kersproduksie uitgevoer.
Dit gaan deesdae goed met ons. Luan is ses en Alushca is 11. Sy sing ook, en het op Kersdag haar eerste enkelsnit vrygestel. Ek sing nou voltyds. My musiek is vir my nie net die uitleef van ’n talent nie, maar ’n bediening. Gehoorsaamheid is belangriker as perfeksie, en God is getrou.
En wanneer ek nou op alles terugkyk, besef ek dat alhoewel die herstelproses lank geduur het, die pad wat ek moes stap my deeglik gevorm het. Ek besef dat alles wat ons doen – asemhaal, loop, sing – slegs genade van Bo is. En deesdae ontdek ek in myself ’n besondere deernis vir mense wat met gestremdhede leef.
- Felécia Pretorius woon in Lydenburg in Mpumalanga.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















