My man en ek het altyd gedroom oor en gebid vir ’n huis vol kinders. Groot was ons vreugde toe ons op 16 Oktober 2014 uitvind ek is swanger.
Hoekom juis dáár?
Maar God het ander planne gehad: Op 3 November 2014 oorval die verskriklikste pyn my. Ons jaag na ons dokter in ons tuisdorp Lutzville, en ’n sonar bevestig dat dit ’n buisswangerskap is.
Ek moes so gou moontlik in die Kaap kom, waar ’n noodoperasie op my gewag het. Maar destyds is daar aan die pad tussen Citrusdal en Klawer gewerk en daar was dus baie padverleggings.
Ons het besluit dat die Weskuspad die vinnigste roete sou wees. Ons bakkie was daardie dag by die garage en ons moes die pad met ons motor aandurf.
Wonder bo wonder het ons sonder veel oponthoude gery. Maar kort duskant Citrusdal het die buis gebars. Ek het my bewussyn begin verloor en my man het ons huisdokter gebel. Dié het met die dokter op Citrusdal gereël en ons het hospitaal toe gejaag. Terwyl ek op die teaterbed gelê en op die narkotiseur gewag het, het ek met die Here geworstel en Hom gevra hoekom dit juis dáár moes gebeur het.
Toe ek weer my oë oopmaak, het ek in ’n hospitaalkamer gelê. ’n Suster het na my toe gekom en langs my bed kom sit. Sy het gesê: “Hallo, ek wil net vir jou kom sê dat nadat jy narkose gekry het, die personeel in die teater om jou gestaan, hande gevat en gebid het.”
Die trane het begin loop en ek het besef dit is waarom ek daar moes wees. Die dokter het later kom sê dat my regterbuis inderdaad gebars het. Hy het ook gesê dat as ons tien minute langer op die pad was, ek dit nie sou oorleef het nie.
Ons het ook besef dat as ons met ’n bakkie gery het, ons die roete sou gevolg het waar daar nie hospitale beskikbaar was nie, en ek sou gesterf het. Dit was niks minder nie as ’n wonderwerk.
Nog drama – en toe …
Die dokters het voorgestel dat ons weer moes probeer om swanger te raak, maar ons moes eers seker maak die ander buis is oop. Op 14 Januarie 2015 het ek ’n laparoskopie ondergaan – en ’n volgende wonderwerk het gebeur: Die dokter het gesê dat my regterkantste eierstok geen skade opgedoen het nie.
Maar ná die laparoskopie het iets net nie reg gevoel nie en ek het weer erge pyn verduur. Daar was ook bloeding. Ons huisdokter het bevestig dat ek weer swanger was en dat ’n miskraam gedreig het. My bloedtelling het te stadig gedaal en ná ’n week moes ek ’n skraap ondergaan.
Weer het ons met die Here geworstel: Waarom, Here?
Ná al dié drama het ons gesukkel om swanger te raak en ons het besluit om ’n vrugbaarheidskliniek te besoek. Die dokter het kunsmatige inseminasie (KI) voorgestel. In Februarie 2016 het ons vir die eerste KI aangemeld, en twee weke later het die uitslag gekom – negatief.
Maar ons het nie moed opgegee nie. Die dokter het aanbeveel dat ons in vitro-bevrugting (IVF) probeer. Die behandelings het begin en aan die einde van 2016 is die eerste IVF gedoen. Die uitslag was negatief.
Ons was verpletter. Ons het so gehoop, so vas geglo …
Daar was nog een embrio beskikbaar en in 2017 het ons weer probeer. Niks het gebeur nie.
’n Doodloopstraat, en ’n nuwe roete
Dit het gevoel asof ons in ’n doodloopstraat beland het. My hart was stukkend. Maar die lewe gaan voort en ek moes opstaan.
In 2018 het ons besluit om ’n ander kliniek te probeer. Dalk sou ’n nuwe omgewing ons help, en ’n nuwe protokol die aangewese ding wees om te doen. Gewapen met nuwe moed en krag en hoop het ons genoeg geld bymekaargemaak om weer die IVF-proses te deurloop.
Teen die einde van 2019 was dit sulke tyd. Weer was die uitslag negatief. Toe het ek vir my man en vir die Here gesê ek het nie die krag om weer te probeer nie.
Daar was wel nog drie embrio’s oor. In April 2019 is twee daarvan ingeplant, en sewe dae later het die nuus gekom: Ons is swanger!
Ons het dadelik ons sewe weke-afspraak by die kliniek gemaak. Toe die dokter die sonar doen, het ek my oë toegemaak. En toe hoor ek hom sê: “Jammer, Helena, ek sien geen baba nie. Dit is óf ’n chemiese swangerskap óf ’n buisswangerskap.”
Ek het voorgegee dat ek na sy verduidelikings luister; eintlik wou ek net daar wegkom.
Maar daardie aand het ek ’n bonatuurlike soort vrede gevind. Ek het vir die Here gesê dat ek nie kwaad is nie, dat sy wil moet geskied.
Drie dae later is ek opgeneem en is die buisswangerskap verwyder.
Die laaste IVF is aan die einde van 2019 gedoen, en die uitslag was negatief.
Hoe groot en goed is God!
Toe tref Covid-19 die wêreld en ons was verplig om ’n jaar lank te “rus”. In daardie jaar het ons ons volkome oorgegee – fisiek, emosioneel, geestelik, asook ons finansies. En ons het besluit om in 2021 vir oulaas ’n IVF-siklus te ondergaan.
Dié keer was daar vier perfekte embrio’s, die beste van al ons IVF-probeerslae. Op 22 April 2021 is een embrio teruggeplant. Sewe dae later het ons huisdokter gebel, in trane, en uitgeroep dat ek swanger is.
Ons opgewondenheid en dankbaarheid het geen perke geken nie. Met elke sonar het die trane geloop, en ons het besef hoe groot en goed God is. Op 18 Desember 2021 is ons volmaakte dogtertjie gebore – Helene-Mari. Ek het besef dat ’n mens nooit mag ophou glo en vertrou nie.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.