** Hierdie artikel bevat ontstellende inligting wat sensitiewe lesers kan ontstel.
Sharon Meyer (nou 44) was 15 toe sy reeds ’n tweede keer van die huis af weggeloop het. Sy het in ’n web van dwelmmisbruik en prostitusie beland nadat ’n vrou aangebied het om haar te huisves. Dit het drie lange jare geduur voordat sy kon ontsnap.
Sharon het saam met haar drie broers in Krugersdorp grootgeword. Haar pa was ’n alkoholis wat gereeld haar ma verkul het. Sy vertel dat sy dikwels gevoel het dat sy nie goed genoeg is nie, dat haar mense haar verwerp.
Sy was sewe jaar oud toe sy en haar broers in ’n koshuis beland het vanweë die omstandighede tuis. Hier het Sharon gereeld haar bed natgemaak. En sy het begin om haar met skerp voorwerpe te sny. Dié snyery sou tot in haar volwasse lewe voortduur.
Daar was ook ander trauma: “Ek was nege jaar oud toe ’n oom, ’n huisvriend, my onskuld gesteel het. Daarna was daar verskeie sulke ‘ooms’. Ek het niks gesê nie; ek is tog altyd eenkant toe gestoot …”

Sharon en haar goeie maatjie Jacqueline was jonk-jonk by die kerk betrokke. Mettertyd het hulle egter verkeerde vriende gekry, en later het hulle begin drink en dagga rook. Hulle het uiteindelik die skool verlaat voordat hulle graad 10 voltooi het.
Altyd op pad
“Toe ek 15 geword het, was my ouers weer eens sonder heenkome. Ek het ’n man ontmoet – hy was 45 jaar oud – wat belowe het om hulle te huisves mits ek met hom trou. Ek het geweet dis verkeerd en sekerlik onwettig, maar ter wille van my ouers het ek ingestem. Die huwelik het twee weke gehou omdat ek nie sy bed met hom wou deel nie. Weer het ek en my ouers nie verblyf gehad nie.”
Op ’n dag het Sharon en ’n vriendin besluit om die pad te vat Durban toe. Hulle is egter sommer daardie eerste dag deur die polisie vasgetrek en in die selle gesit tot die onderskeie ouerpare hulle sou kom haal. Maar Sharon se ouers het nie opgedaag nie. Sy is uiteindelik op eie stoom terug.
LEES OOK: Vegter teen mensehandel: ‘Die Here se engele loop voor my uit’
Sharon het begin motors was en ’n stewige bedraggie gespaar. Dit was nie lank nie of sy het nog ’n reisgenoot nadergetrek. Hulle is Durban toe en het in ’n hotel in die middestad gaan bly. Daar het hulle ’n baie gawe vrou by ’n haarsalon ontmoet. En dit was die eerste treë op die pad na ’n afgrond.
Sharon vertel: “Toe ek een oggend wakker word, was my vriendin skoonveld. Met al my geld. Ek kon dit nie glo nie. Wat nou? Uit pure desperaatheid het ek besluit om weer die vrou by die haarsalon op te soek.
“Toe ek daar opdaag, was ek in trane. Sy het my soos ’n ma vertroos en gesê dat sy iemand ken wat my sal huisves. Ek is daardie einste dag daarheen.

“Nog ’n gawe vrou het my vriendelik ingewag. Sy het haar as ‘tannie Lottie Griesel’* aan my voorgestel. Ek was so verlig! Daar was heelwat ander meisies ook, en ek het gedink dis haar manier om meisies sonder heenkome te help. Tannie Lottie se dogter was net so oud soos ek, en sy het my genooi om saam met haar uit te gaan. Toe ek later wou huis toe gaan, het sy my ’n pil gegee wat, so het sy gesê, my energievlakke sou verhoog. Dit was nogal ’n belewenis …”
Daarna het Sharon en haar nuwe vriendin elke aand gekuier, en daar was altyd drank en pille betrokke. Gou het die ecstasy-slukkery – want dit is wat dit was – kokaïengebruik geword. En Sharon het agtergekom dat die huis waarin sy was eintlik ’n blyplek vir prostitute is.
Al hoe slegter …
“Maar toe was my dwelmgebruik reeds gevestig, en tannie Lottie het my aangesê om as ontkleedanseres te begin werk. Ek het ’n verhoognaam gekry en nog meer van my identiteit verloor. Hier is ek gereeld aangerand en daar is op my gespoeg. Die mans was soos honger wolwe.
“Een aand, nadat my dansvertoning verby was, het ek en ’n vriendin heroïen gebruik. Ek was in daardie stadium nie meer kieskeurig oor dwelms nie. Die volgende oggend, toe ek wakker word, het sy langs my gelê, dood.
“Ek het my bewussyn verloor en in ’n dokter se kliniek wakker geword. Hierdie dokter was deel van die seksnetwerk.”
Dinge het al hoe slegter gegaan en Sharon het een oggend op straat wakker geword. Daar was ook die keer toe sy ’n erge oordosis oorleef het. Sy was twee weke lank in ’n koma.
Die laagtepunt van dié soort bestaan was toe Lottie haar een aand byna na haar dood gestuur het. “Tannie Lottie het gesê ek moet ’n pakkie by iemand gaan oplaai. Ek was dadelik bang vir die man wat die deur oopgemaak het. Dit was egter te laat vir omdraai. Hy het my met die vuis in my gesig geslaan.
“Daar was ses mans. Ek is geskop en met sigarette gebrand. Ek het gedink hulle maak my dood. Maar nadat hulle alles gedoen het wat hulle wou, is ek soos ’n lappop by die deur uitgegooi.
“Ek het weer by daardie dokter beland. Hy het hard probeer om die bloeding stop te sit. Uiteindelik het hy gesê dat daar baie skade aan my uterus is en dat ek nooit sou kinders hê nie.
“Dit was asof die laaste stukkie lewe in my doodgegaan het.”
Wegkomkans
“’n Hele ruk daarna het ek eendag in die tuin geloop. Daar was ’n nuwe sekuriteitswag. Hy het na my toe gekom en uit die bloute gevra of hy my moet help om weg te kom.
“Aanvanklik het ek gedink ek word ‘getoets’. Die man het my egter verseker dat sy bedoelings opreg is. Ek het dadelik my sak gepak en hom drieuur daardie oggend agter die huis ontmoet. Hy het my oor die muur gehelp. Hy het toe reeds ’n taxi gebel.
“Sy laaste woorde aan my was dat God my nou vrygemaak het. Toe ek by die stasie aankom, het daar ’n bus gereed gestaan. Busse ry nie gewoonlik daardie tyd van die nag nie. Dit was ’n wonderwerk.”
‘Engele op my pad’
Nadat Sharon haar tweede man ontmoet het, het hulle twee kinders gehad, ten spyte van die dokter se destydse verdoemende diagnose. Sy en dié man is later geskei.
Sharon, wat die afgelope agt jaar ’n voltydse gospelsangeres is, en haar huidige man was drie jaar lank ’n paartjie voordat hulle getroud is. Volgens haar het Carlo (37) die pyn in haar gesien en dit sagkens aangespreek. Ná die troue het hulle besluit om haar ouers onderdak te gee. Die verhouding tussen haar en hulle is herstel. Daarvoor, sê sy, is sy ewig dankbaar.
Sy en Carlo het ’n kind gehad wat iewers in 2017 in ’n hospitaal se hoësorgeenheid beland het. Sy vertel: “Daar het ek ’n ontmoeting met die Here gehad. Ek het by sy voete gaan sit. En ek het opnuut besef hoeveel engele Hy oor my pad gestuur het om my te red.
“Alle eer aan Hom.”
*Skuilnaam
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















